Arrestasie en aanhouding vir Dronkbestuur: Skadevergoeding as gevolg van Seksuele aanranding tydens aanhouding
Hierdie geval onderstreep weereens waarom jy of enigiemand anders nie jou voertuig moet bestuur as daar selfs die moontlikheid is dat jy of jou aangewese bestuurder oor die wetlike beperking van alkohol is nie. Vir gewone bestuurders (nie-professionele bestuurders) is dit tans ingevolge die asemtoets ‘n alkoholinhoud van 0.24mg per 1,000ml asem wat gemeet is of ‘n bloedalkoholvlak van 0.05g per 100ml bloed wat gemeet is.
Indien jy deur die owerhede gevang word (statisties gaan ‘n gereelde dronkbestuurder een of ander tyd gevang word - jaarliks is daar 75 000 sulke arrestasies in die land) kan dit gebeur dat jou hele lewe omvergewerp word, nog voordat jy die binnekant van die hof gesien het.
Die polisie is verplig om jou fundamentele regte te beskerm terwyl jy in aanhouding is. Ons het almal al gehoor van gevalle waar iemand in aanhouding in polisieselle aangerand of beseer is. ‘n Saak wat onlangs in die Hoogste Hof van Appèl aangehoor is, het oor so ‘n erge geval gehandel.
‘n Man is deur ‘n groep mans verkrag
- ‘n Gesinsman is gearresteer en van ‘n lys ernstige misdade aangekla.
- Die klagtes was dat die beskuldigde bestuur het terwyl hy onder die invloed van alkohol was, dat hy roekeloos en nalatig bestuur het en dat hy versuim het om te stop nadat hy in ‘n ongeluk betrokke was. Dit was nadat hy op ‘n Saterdag om 02h30 in die oggendure in ‘n huis se grensmuur vasgejaag het. Hierna het hy probeer om van die ongelukstoneel weg te jaag, terwyl hy sy beseerde passasiers agtergelaat het.
- Nadat hy aangekla is, het senior polisiebeamptes gelas dat hy op borgtog van R500 vrygelaat kon word. Hy het ‘n vaste adres gehad, hy was in vaste diens, hy was getroud en hy het ‘n kind van 5 jaar oud by die huis gehad. Hy het geen vorige veroordelings gehad nie, daar was geen uitstaande lasbriewe vir sy arrestasie nie, hy was nie uit op borg vir enige ander misdaad nie en hy het ook geen oortreding begaan terwyl hy op borgtog was nie.
- Voordat hy op borgtog vrygelaat kon word, is hy na ‘n ander polisiestasie oorgeplaas. Toe sy vrou daar opgedaag het met die geld om vir sy borgtog te betaal, is sy uitgelag en meegedeel dat geen borg vasgestel is nie.
- Die bestuurder het die res van die naweek in die polisieselle in aanhouding deurgebring. Hier is hy herhaaldelik aangeval en deur ‘n onbekende getal aangehoudenes verkrag. Gedurende die aanvalle het hy sy bewussyn verloor. Hy was te bang om die aanvalle aan te meld en het weerwraak aanvalle teen hom gevrees. Tydens die hofverrigtinge kon hy nie sy bewering staaf dat daar nie voldoende inspeksies van die selle gehou was nie. Hy kon ook nie bewys dat die polisie se versuim om hom te skuif, nadat hy die polisie gewaarsku het dat hy gedreig is dat hy vekrag gaan word, nalatig was nie. Die polisie het die aanval en die seksuele geweld tydens die aanhouding egter nooit ontken nie.
- Die bestuurder is tydens die daaropvolgende hofverrigtinge op borg vrygelaat en die klagtes teen hom is uiteindelik in geheel teruggetrek.
- Hy het hierna ‘n eis vir skadevergoeding ingestel. Soos met enige eis vir skadevergoeding moes hy wederregtelike optrede van die polisie teenoor hom bewys. Hy moes bewys dat hierdie optrede skade vir hom veroorsaak het en hy moes ook skuld in die vorm van nalatigheid of opsetlike optrede aan die kant van die polisie bewys.
- Die hof bevind dat die polisie wel verantwoordelik is om op die volgende basis skadevergoeding te betaal –
- Die wederregtelike optrede van die polisie is nooit ontken nie,
- Die polisie was reeds nalatig deur hom nie op borgtog vry te gelaat het nie.
- Tweedens was hulle nalatig deur hom nie van gewelddadige misdadigers te skei, wat saam met hom aangehou was nie.
- Die hof bevind ‘n direkte en waarskynlike verbintenis tussen die gebeure en die foute van die polisie wat tot die aanval gelei het.
- Die wederregtelike optrede van die polisie is nooit ontken nie,
Die polisie is aanspreeklik; gaan skadevergoeding help?
Die hof gee die gesinsman gelyk en ken algemene skadevergoeding van R200 000 aan hom toe. ‘n Mens moet dan vra of dit voldoende is vir die trauma en moontlike herinneringe aan die verskriklike insidente wat lewenslank by hom gaan bly. Ons howe is konserwatief by die bepaling van algemene skade. Die getuienis van die kliniese sielkundige oor die ernstige gevolge wat die insidente op die gesinsman gelaat het, word volledig in die hofuitspraak weergegee en dit is ‘n sombere uiteensetting.
Intense trauma, post-traumatiese stres, deurlopende behandeling met anti-depressante (al is dit ses jaar na die insident), diepe vernedering, erge vrese ook oor HIV, seksuele probleme, ‘n gebroke huwelik, probleme met sy verhouding met sy kind, swak self-beeld, persoonlikheidsverandering, sporadiese herinneringe van die verskriklike naweek – die lys hou aan. Die gevolge het ook na sy werksituasie oorgespoel. Hy kon nie meer in groepe werk nie en hy is ook oor die gebeure gespot. Sy werksverhouding het daaronder gely en sy diens is uiteindelik beëindig. Hy het probeer om homself om die lewe te bring en het hierna vyf dae in die intensiewe sorgeenheid van die hospitaal deurgebring.
Dit beteken nie dat ons nalatigheid of magsmisbruik van ons polisielede moet duld nie. Daar is gereelde berigte oor groot eise wat teen die polisie (en ander staatsinstellings) vir vergrype ingedien word en wat vir miljoene rande buite die hof geskik word. Hiervoor is dit noodsaaklik om so gou as moontlik na ‘n insident die nodige regshulp te verkry.
Provided by Simpson Inc
© DotNews. All Rights Reserved.