Reis in ‘n vreemde land? Vergewis jou van die plaaslike wette of neem die risiko
“Onkunde oor die reg is nie ‘n verskoning nie” (ou Romeinsregtelike beginsel wat steeds in verskeie regstelsels regoor die wêreld van toepassing is).
Of jy oorsee reis vir besigheid of vir ‘n vakansie, kan jou onkundigheid oor die plaaslike regsbepalings jou in ‘n moeilike situatsie laat beland. Jou verweer van “Maar ek het nie geweet dat dit hier onwettig is nie, dit is dan heeltemal wettig in Suid-Afrika” sal waarskynlik met strak gesigte en ‘n totale gebrek aan simpatie van jou bestemming se wetstoepassingsbeamptes ontvang word. Alhoewel die naaste Suid-Afrikaanse ambassade of konsulaat aan jou basiese bystand kan verleen, is dit jou oortreding van die plaaslike regsbepalings en wette – en die voorgeskrewe strawwe – wat jou in die tronk kan laat beland (of selfs in ‘n erger posisie plaas).
Ons regering het onlangs waarskuwings aan reisigers gerig en hul gewaarsku om hulself te verwitting van die wette en gebruike van die lande van hul bestemming. Dit het gevolg op die oplegging van die doodstraf op ‘n Suid-Afrikaanse dwelmsmokkelaar in Vietnam. Saam met dit die nuus dat meer as 800 Suid-Afrikaners tans in buitelandse tronke aangehou word. Nie almal van hulle word vir dwelmverwante misdrywe aangehou nie. (Kyk na “Know your foreign laws before travelling” op die Suid-Afrikaanse regering se webtuiste).
Rakende dwelmverwante oortredings raak dit moeilik om tred te hou met wát wáár wettig is, met dié dat baie lande in die proses is om hul posisie ten opsigte van dagga en ander “sagte” dwelms te verander, of reeds verander het.
Hou ook in gedagte dat selfs voorskrif-medisyne ‘n mens agter tralies kan laat beland – in sekere lande kan medisyne wat heeltemal wettig is in Suid-Afrika jou in die tronk laat beland. In Dubai, kan jy byvoorbeeld tronkstraf van 6 maande tot 2 jaar opgelê word, indien jy nie oor die vereiste “mediese sertifikaat” beskik vir medikasie wat jy by jou het nie – sien hier.
Hierdie waarskuwing dek egter veel meer as net onwettige dwelms en is van toepassing selfs al het jy nog nooit iets met dwelms te doen gehad nie. In Thailand, byvoorbeeld, kan tronkstraf opgelê word indien Thailand se Koninklike Familie enigsins geminag word – lees hier vir meer besonderhede oor die moeilikheid waarin mens kan beland deur nie hierdie spesifieke wet na te kom nie.
Daar is verskeie ander sulke voorbeelde van regoor die wêreld. Sekere artikels is interessant vir ‘n oorsigtelike beeld van die onverwagte regsbepalings in gewilde bestemmings (soos byvoorbeeld hierdie een). Ons beveel eerder ‘n spesifieke Google-soek oor die wette van die bepaalde land of lande wat besoek gaan word. Maak net seker dat die webtuiste wat besoek word (a) gesaghebbend en (b) op datum is. ‘n Goeie beginpunt is waarskynlik die Verenigde Koningkryk Regering se “Buitelandse Reisadvies” webblad.
DIRCO (die Departement van Internasionale Verhoudinge en Samewerking) bied ook raad en leiding op hul “Advice for South African Citizens Travelling Abroad” webblad.
Indien jy enigsins onseker is oor enige aspek, moet eerder nie kanse vat nie, vra jou prokureur om jou by te staan.
Provided by Taylor and Finlay Attorneys
© DotNews. All Rights Reserved.