Dit is weer tyd vir daardie “13de Tjek”: Is jy verplig om Jaarlikse Bonusse te Betaal?
November is hier, en werknemers regoor die land is ongetwyfeld alreeds besig om die allerwonderlikste planne te beraam met hul “Kersfees” bonus wat om die draai is. Dalk is jy een van hulle, en beplan jy om jou skulde af te betaal, of om jou gesin te bederf met ‘n spesiale vakansie. Of miskien wil jy jouself en jou geliefdes beloon deur ‘n luukse item of twee aan te skaf, sonder enige skuldgevoelens, om hierdie spesiale tyd van die jaar te vier.
Dit is alles goed en wel, maar die harde werklikheid is dat daar elke jaar ‘n stewige persentasie werkgewers is wat van mening is dat hulle nie so ‘n skielike verdubbeling van hul personeelkostes kan bekostig nie. Die werknemers word dan byeen geroep en hulle kry dan terugvoering in die lyn van “Jammer julle, ons gaan deur ‘n moeilike tyd so daar sal nie hierdie jaar bonusse wees nie. Julle kan bly wees julle het nog werk.”
Dan is daar teleurstelling en woede in die lug en verwysings na die KVBA en dreigemente van regsaksies. Dit is jammer en onnodig. Dit kan beslis verhoed word indien beide werkgewers en werknemers (a) die reg verstaan, (b) voorsorgmaatreëls tref en goed beplan, en (c) openlik met mekaar kommunikeer, nog lank voordat enige misplaaste verwagtinge van bonusse ontstaan, net om later verpletter te word.
Eerstens, wat sê ons reg?
Ons hoor dikwels die mite dat ons arbeidsreg ‘n werkgewer outomaties sou verplig om jaarlikse bonusse te betaal. Daar is beslis nie enige sodanige bepaling in ons arbeidswetgewing nie.
Wat die reg wel aan werkgewers sê, is die volgende –
- Indien werknemers se indiensnemingskontrakte bepaal dat bonusse betaalbaar is, het werknemers ‘n afdwingbare reg om bonusse te ontvang. Dit is standaard kontraktereg – beide die werkgewer en die werknemer is gebonde aan die skriftelike ooreenkoms tussen hulle.
- Dit is nie bloot die bepalings van werknemers se individuele indiensnemingskontrakte wat in ag neem moet word nie, maar ook enige beleid van die maatskappy self, en ook die bepalings van enige kollektiewe ooreenkomste.
- Maak seker dat enige voorwaardes, byvoorbeeld met betrekking tot die winsgewendheid van die besigheid, werknemers se prestasie of werknemers se bydrae tot die besigheid se winsgewendheid, gespesifiseer word. Het jy as werkgewer onbeperkte diskresie in die besluit of bonusse betaalbaar is of nie?
- Selfs indien daar nie spesifiek ooreengekom is dat bonusse jaarliks betaal sal word nie, kan ‘n werkgewer steeds gebonde wees om jaarlikse bonusse te betaal indien hy in die verlede gereelde bonusse betaal het. Dit kan as ‘n onbillike arbeidspraktyk beskou word om van ‘n gevestigde prosedure of gebruik af te wyk, sonder om vooraf met die werknemer te konsulteer. Afgesien van die regsbepalings, gaan dit werknemers se moraal negatief beïnvloed indien ‘n verwagting om ‘n jaarlikse bonus te ontvang, wat oor jare gevestig is, skielik met kort kennis teleurgestel word.
- Wees versigting om onderskeid te tref tussen werknemers wat dieselfde of soortgelyke werk verrig – dit is ‘n sekere teelaarde vir dispute en klagtes van onbillike arbeidspraktyke.
Tref voorsorg en beplan vooruit
Werkgewers: Vra ‘n prokureur om jou dienskontrakte en maatskappybeleid na te gaan. Laat jou prokureur seker maak dat jy die volle diskresie behou het en dat jy nie gedwing kan word om bonusse te betaal wat die besigheid nie kan bekostig nie. Verkry regsadvies oor hoe om gereelde bonusse te betaal in jare van voorspoed, sonder om ‘n verwagting te skep wat in moeiliker jare deur werknemers afgedwing kan word. Wees op hoogte met die verwagte kontantvloei in die besigheid sodat jy (en jou werknemers) reeds vooraf sal weet indien bonusse nie daardie jaar betaal kan word nie.
Werknemers: Moenie ‘n bonus uitgee voordat jy vir seker weet welke bedrag, indien enige, aan jou betaal gaan word nie. Hou ook in gedagte dat die SAID op ‘n groter hap kan aanspraak maak as normaalweg – vra jou werkgewer vir ‘n beraming daarvan vanaf die toepaslike belastingtabelle. Wanneer jy begin dagdroom oor hoe jy jou bonus gaan uitgee, volg gerus die raad in die artikel van The Post “Use your 13th cheque wisely”, hier beskibaar.
Kommunikeer! Kommunikeer!
Ongeag aan watter kant van die indiensnemingskontrak jy jou bevind, is openlike en effektiewe kommunikasie van uiterste belang. Dit bly die sleutel om valse verwagtinge en bitter teleurstelling te voorkom wanneer die tyd aanbreek om bonusse te betaal.
Dus, werknemers, moenie skaam wees om by jou werkgewer navraag te doen oor enige moontlikhede met betrekking tot bonusbetaling nie. Werkgewers, indien daar enige onsekerheid is oor die besigheid se vermoë en/of bereidwilligheid om hierdie jaar bonusse te betaal, bring jou werknemers op hoogte van die situasie, voordat verwagtinge oor bonusse reeds gevestig is. Verkry dan regsadvies indien jy enigsinds onseker is oor die regsposisie. Ons arbeidswetgewing is gekompliseerd en enige mistastings hieroor kan jou duur te staan kom.
Provided by Kramer Villion Norris - KVN
© DotNews. All Rights Reserved.