Wanneer is ‘n skuldenaar “Insolvent”? Die Geval van Agterstallige Onderhoud dien as Illustrasie
“Die beste bewys dat iemand solvent is, is die feit dat hy sy skulde vereffen.” (Losweg vertaal uit hierdie hofsaak.)
Indien jy ‘n eis het vir agterstallige onderhoud, het jy verskeie metodes om jou eis af te dwing tot jou beskikking. Vra jou prokureur gerus vir advies oor die beste opsie vir jou bepaalde eis en omstandighede.
‘n Onlangse uitspraak van die Hooggeregshof bevestig dat een van die opsies ‘n aansoek vir sekwestrasie is. Hier het die wanbetaler desperate pogings aangewend om sekwestrasie te vermy. Net die moontlikheid van sekwestrasie bied dikwels ‘n oortuigende motivering om te betaal, ongeag of die eis op agterstallige onderhoud of enige ander vorm van skuld berus.
‘n Insolvente persoon verloor beheer oor sy boedel en gee dit oor aan ‘n aangestelde Trustee. Die Trustee moet die insolvente persoon se bates invorder en verkoop, en die opbrengste word dan aan die bewese skuldeisers toegedeel. Die insolvente persoon kan ook beveel word om enige verdere inkomstes – soos byvoorbeeld ‘n maandelikse salaris minus redelike uitgawes – aan die Insolvente Boedel oor te betaal. Dit is ‘n duidelike voorbeeld van hoe jy beheer oor jou eie sake kan verloor.
Agterstallige onderhoud en die balju se verslag aan die hof
In hierde betrokke aangeleentheid was ‘n egskeiding ter sprake –
-
Ingevolge die partye se skikkingsooreenkoms word ‘n pa beveel om onderhoud vir sy kinders te betaal. Hy raak agter met sy onderhoudsbetalings en uiteindelik is hy ‘n aansienlike bedrag agterstallig en verskuldig.
-
Die man se voormalige vrou verkry vonnis teen hom in die onderhoudshof vir die bedrag van R45,000. Die balju, gewapen met ‘n lasbrief vir eksekusie in die hand, lê beslag op sy motorvoertuig.
-
Ongelukkig het die balju die voertuig nie op daardie stadium verwyder en verkoop nie. Drie maande later was die voertuig skoonveld. Die man beweer dan dat hy oor geen fondse of eiendom beskik waarop beslaggelê kan word nie. Die balju reik dan ‘n sogenaamde nulla bona relaas uit, waarin hy bevestig dat hy geen bates kon vind om op beslag te lê nie, nadat die man hom meegedeel het dat hy oor geen geld of roerende bates beskik nie.
-
Die vrou doen dan aansoek vir die sekwestrasie van haar gewese man se boedel, en hy voer die volgende twee hoofverwere aan -
“Ek is nie werklik insolvent nie”
Om iemand se boedel te sekwestreer moet óf daadwerklike insolvensie, óf ‘n “daad van insolvensie” bewys word. Die eerste is nie altyd ‘n maklike taak nie, en alhoewel die balju se nulla bona relaas in hierdie saak wel gekwalifiseer het as ‘n daad van insolvensie, het die man steeds aangevoer dat hy nie werklik insolvent was nie. Hy het nie ontken dat die R45 000 verskuldig en betaalbaar was nie en hy het ook nie ontken dat die verskuldigde bedrag intussen met ‘n verdere R183 000 gegroei het nie. Hy het wel aangevoer dat hy die betaling op ‘n latere stadium sou maak sodra hy belastingterugbetalings van SARS sou ontvang het.
Die Hof het hierdie argument van die hand gewys, en ook ‘n bekende uittreksel uit ‘n hofuitspraak van 1907 direk aangehaal: “Speaking for myself, I always look with great suspicion upon, and examine very narrowly, the position of a debtor who says, ‘I am sorry that I cannot pay my creditor, but my assets far exceed my liabilities'. To my mind the best proof of solvency is that a man should pay his debts; and therefore I always examine in a critical spirit the case of a man who does not pay what he owes” (ons beklemtoning).
Die Hof beslis dat dit eenvoudig nie voldoende is vir die man om te sê dat hy een of ander tyd in die toekoms die agterstallige onderhoud gaan betaal nie.
“Dit sal nie tot die voordeel van my skuldeisers wees, as my boedel gesekwestreer gaan word nie”
Om ‘n sekwestrasiebevel te verkry, moet die aansoeker kan aantoon dat “daar rede is om te glo dat dit inderdaad tot voordeel van die skuldeisers van die skuldenaar sal wees indien sy boedel gesekwestreer word”.
In hierdie saak het die man beweer dat hy onderhewig was aan skuldberading ingevolge die Nasionale Kredietwet, en dat hy betalings aan sy skuldeisers gemaak het. Die probleem wat die hof hiermee gehad het was dat slegs die gelyste skuldeisers sporadies betalings ingevolge die skuldberadingsproses ontvang het. Oor ‘n tydperk van vier jaar was daar geen betalings vir onderhoud gemaak nie en die agterstallige bedrag het maandeliks met R7 000 gegroei.
In hierdie omstandighede was die hof van mening dat sekwestrasie inderdaad tot voordeel van die man se skuldeisers sou wees.
Die Hof se diskresie
Selfs nadat jy bewys het dat jy oor ‘n “gelikwideerde” eis ( bestaande uit ‘n ooreengekome of maklik-vasstelbare bedrag) van ten minste R100 beskik, asook die insolvensie en ook die voordeel van skuldeisers bewys het, kan die hof steeds weier om ‘n sekwestrasie toe te staan. Die hof het ‘n wye diskresie “wat oordeelkundig uitgeoefen moet word, met inagneming van al die feite sowel as die algemene geskiedenis en omstandighede van die saak.”
Die hof kon geen redes vind hoekom die vrou nie geregtig was op ‘n sekwestrasiebevel nie. Die hof bevind in haar guns en die man se boedel word gesekwestreer.
Provided by Kramer Villion Norris - KVN
© DotNews. All Rights Reserved.