Kan ek troeteldiere in ‘n Residensiële Kompleks aanhou?
“I never married because there was no need. I have three pets at home which answer the same purpose as a husband. I have a dog which growls every morning, a parrot which swears all afternoon, and a cat that comes home late at night.” (Marie Corelli, Engelse skrywer.)
Residensiële komplekse en landgoedere raak algaande meer en meer gewild, te danke aan die vele voordele wat hulle bied. ‘n Mens moet egter in gedagte hou dat dit ook beperkinge meebring. Om in ‘n gemeenskaplike area te woon, hou noodwendig in dat inwoners se vryheid ten opsigte van die gebruik van die eiendom ingeperk word. Alle inwoners is onderhewig aan die Gedragsreëls wat in die gemeenskapskema geld.
Dikwels is een van hierdie beperkinge die reg om ‘n troeteldier aan te hou. Dit is daarom ook ‘n bron van groot konflik en ongelukkigheid.
Inwoners val gewoonlik in een van drie katogorieë:
-
“Dit is vir my baie belangrik dat my hondjie/katjie/papegaai/verkleurmannetjie by my woon”.
-
“Ek kan eenvoudig nie meer daardie skoothond-keffery/middernagtelike kattemaai /papegaai-gekrys vir ‘n oomblik langer hanteer nie – dit moet einde kry!” of
- “Troeteldiere – persoonlik nie vir my belangrik nie, maar nou ja, dit is in die haak solank hulle nie vir my probleme veroorsaak nie.”
Ongegag in watter kategorie jy jouself bevind is dit belangrik om, voordat jy in enige tipe kompleks intrek, vas te stel of jy en ander inwoners toegelaat word om troeteldiere aan te hou. Indien vereis word dat jy voor die tyd magtiging moet kry, kry dit eers.
Dit is in die belang van verkopers, kopers en eiendomsagente om hierdie onderwerp volledig in hul koopooreenkomste aan te spreek. Dit is die beste manier om latere teleurstelling en dispute te vermy.
Deeltitelskemas
Die Regspersoon het die reg om beperkinge te plaas op die aanhou van troeteldiere. Hulle kan byvoorbeeld troeteldiere in geheel verbied, of hulle kan sekere beperkinge oplê, of verwante reëls neerlê, onder andere op die hoeveelheid troeteldiere wat aangehou mag word, die tipes honde, of grootte van die troeteldiere, die diere se toegang tot gemeenskaplike areas, geraas-beperking, vervanging van diere wanneer ‘n troeteldier afsterwe ensovoorts. Die trustees van die regspersoon moet seker maak dat daar duidelikheid is oor wát toegelaat word en wát nie. Word honde verbied? Wat van katte en wat van voëls in hokke? Wat van troetelvarke? Gidshonde? Marmotte? Slange? Goudvissies? Hoe duideliker hierdie aspekte in die reëls aangespreek word, hoe beter vir almal.
Jy moet eerder presies vasstel watter reels in jou spesifieke kompleks van toepassing is, maar die standaard “Geskrewe Gedragsreëls” hieronder sal van toepassing wees, tensy jou kompleks se regspersoon dit gewysig het. Hierdie reël bepaal as volg -
Die aanhou van diere, reptiele en voëls
- ‘n Eienaar of okkupeerder van ‘n deel mag nie sonder die skriftelike toestemming van die trustees (welke toestemming nie onredelik weerhou mag word nie) enige dier, reptiel of voël in ‘n deel of op die gemeenskaplike eiendom aanhou nie.
- ‘n Eienaar of okkupeerder wat gestremd is en wat redelikerwys ‘n gids-, gehoor- of hulphond nodig het, moet geag word deur die trustees toestemming te hë om daardie dier in ‘n deel aan te hou en die dier op die gemeenskaplike eiendom te vergesel.
- Die trustees is by magte om enige redelike voorwaardes ten opsigte van die aanhou van ‘n dier, reptiel of voël in ‘n deel of op die gemeenskaplike eiendom te stel.
- Die trustees is by magte om hul toestemming terug te trek indien enige eienaar of okkupeerder enige voorwaarde wat ingevolge subreël (3) opgelê is, verbreek.
Let daarop dat waar hierdie Voorgeskrewe Reël van toepassing is, daar spesifiek van die regspersoon vereis word om in alle omstandighede en met elke aangeleentheid “redelik” op te tree. Dit vereis ‘n delikate balans tussen die mededingende regte van troeteldier-eienaars en hul bure. Dit bring ons in ‘n grys gebied waar hewige dispute kan ontstaan.
Juis daarom dat ons sterk aanbeveel dat voornemende kopers duidelikheid moet verkry oor hul regte, voordat hulle teken om ‘n eiendom in ‘n kompleks te koop.
Huiseienaarverenigings (HEV’s)
Huiseienaarverenigings het soortgelyke regte om die aanhou van troeteldiere te beperk, maar daar is nie “Voorgeskrewe Reëls” wat van toepassing is, soos met Deeltitelskemas nie. Die HEV se magte sal bepaal word ingevolge die toepaslike oprigtingsdokumente. Huiseienaarverenigings beheer gewoonlik losstaande huise binne ‘n landgoed eerder as woonstelle, en is gevolglik meer geneig om tegemoetkomend te wees ten opsige van die aanhou van troeteldiere. Dit bly steeds belangrik om eers vas tel stel wat die kompleks se Reëls bepaal voordat julle daar koop.
Het die trustees dalk die kat aan die stert beet? Alternatiewe om geskille te besleg.
Indien ‘n mens jouself in ‘n dispuut met die regspersoon of HEV of met ‘n mede-inwoner of eienaar bevind, is dit verkieslik dat die oplossing eerder gevind word deur ‘n vriendelike gesprek oor ‘n koppie koffie. So kan die partye probeer om gemeenskaplike grond te vind en ‘n positiewe uitkoms te bewerkstellig.
Indien dit onsuksesvol is, bied die (relatief) nuwe Gemeenskapskema-ombudsdiens ‘n diens om geskille op alternatiewe wyses te probeer oplos. Hierdie diens en metodes is spesifiek ontwerp om bystand aan die strydende partye te verleen, om ‘n oplossing te vind en om te poog om ‘n goeie verhouding tussen die partye te behou. Vra jou prokureur om jou hiermee behulpsaam te wees.
Provided by Kramer Villion Norris - KVN
© DotNews. All Rights Reserved.