Ondernemingsredding En Borgstellings : Skuldeisers Op Risiko
Oorweeg die volgende feitestel wat ‘n realiteit is vir enige Suid Afrikaanse handelaar:-
-
Een van jou korporatiewe kliënte se rekeninge by jou is al ‘n geruime tyd agterstallig. Dan kom die kennisgewing dat hulle in finansiële moeilikheid is en dat hulle nou in ondernemingsredding verkeer.
-
Jy vermoed dat jy waarskynlik in die toekoms ‘n gedeelte van jou eis gaan moet afskryf.
-
Dan ontvang jy die voorgestelde ondernemingsreddingplan.
-
Soos te wagte, maak die plan voorsiening dat alle skuldeisers ‘n gedeelte van hulle skuld moet afskryf.
- Jy is nie te bekommerd nie, want jy het darem aanvanklik aangedring op persoonlike borgskappe van die direkteure en hulle het bates in hul persoonlike name. As daar ‘n tekort gaan ontstaan, sal hulle daarvoor kan instaan.
Die borgstellings is dalk nie so waterdig nie …..
Onlangse regspraak hieroor dui daarop dat jou borgstellings dalk van geen waarde kan wees, indien jou eis by ooreenkoms in die aanvaarde ondernemingsreddingplan verminder word. Dit gaan meermale die geval wees.
In die mees onlangse geval beslis die Hooggeregshof as volg –
-
Voordat die plan deur skuldeisers aanvaar word, kan jy steeds dagvaar om jou skuld van die borge te verhaal. Die moratorium teen die dagvaarding van ‘n maatskappy, wat by die aanvang van ondernemingsredding tot stand kom, bied geen beskerming aan die borge nie.
- Indien die ondernemingsreddingplan egter voorsiening maak vir ‘n afskrywing van ‘n gedeelte van die bedrag wat aan jou verskuldig is en dat betaling van die toegedeelde bedrag wel in volle en finale skikking van jou hoofeis sal wees, en hierdie plan word amptelik by ‘n vergadering van belanghebbende partye aanvaar, sal jou eis teen die borge in die algemeen ook wegval.
Dit is nou tensy:
-
die borgaktes so bewoord is dat die verpligting om te betaal in plek bly, selfs in die geval van ondernemingsredding;of
-
die ondernemingsreddingplan uitdruklik voorsiening maak vir borgskappe om steeds van krag te bly.
- Dit maak ook nie saak hoe jy op individuele basis jou stem uitbring by die vergadering van belanghebbende partye nie; jy gaan uiteindelik gebonde wees aan die besluite en die ondernemingsreddingplan wat by die vergadering ingestem word.
Hoe om jou borgstellings te beskerm
-
Voordat jy enige verdere krediet aan kliënte en aan kredietaansoekers verleen –
-
Laat jou prokureur kyk na jou standaard borgstellingsooreenkoms- is die bewoording reg en is dit opgedateer om vir ondernemingsredding voorsiening te maak?
-
Dalk is dit gepas om eerder volle waarborge van die direkteure aan te vra, soos wat sommige kommentators voorstel.
-
Kyk ook na alternatiewe sekuriteite as borgstellings, soos byvoorbeeld ‘n sessie van debiteure, notariële verbande oor toerusting en roerende bates of verbande oor eiendomme.
-
-
Indien die debiteur wel in ondernemingsredding geplaas word, moet jy sonder versuim –
-
Advies neem oor die beste manier om jou regte te beskerm en spesifiek enige regte wat jy ingevolge borgstellings teen borge mag hê.
- Jou posisie ten beste verskans, nog voordat enige ondernemingsreddingplan vir oorweging voorgelê word.
-
Die skade en kostes gaan natuurlik van geval tot geval verskil – in hierdie spesifieke geval was die handelaar R370 000 slegter daaraan toe, nadat bevind is dat die borgstelling nie afgedwing kon word nie.
Provided by Wessels + van Zyl Inc
© DotNews. All Rights Reserved.