Lewende Testament: Wat Is Dit En Het Jy Een Nodig?
Dit gaan met ons almal gebeur. Ons het dalk beperkte beheer oor hoe en wanneer ons tot sterwe gaan kom, maar daar is darem wense en reëlings wat ons duidelik kan oordra. Dit moet ons doen terwyl ons nog fisies en geestelik in staat is om ondubbelsinnig aan te dui wat ons voorkeure en wense is. Ons kan veral aandui watter mediese versorging en ingrype ons sal verkies. Mense het dikwels sterk opinies dat hulle nie op kunsmatige wyse aan die lewe gehou wil word, wanneer daar geen vooruitsig op herstel of beterskap in die laaste dae van hulle lewens is nie. Maar as hulle dit nie duidelik op skrif gestel het of duidelik aan hul familie of naasbestaandes gekommunikeer het nie, sal niemand dit weet as hulle nie meer in staat is om dit oor te dra nie. As dit met jou gevoelens strook, behoort jy ‘n lewende testament op te stel.
Wat is ‘n Lewende Testament?
‘n Lewende Testament is jou aanwysings aan jou naasbestaandes en aan jou mediese dokters, versorgers en hospitaal waarin jy, terwyl jy by jou volle positiewe is, dit duidelik maak watter mediese versorging en mediese ingrype jy wil hê wanneer jou lewe of lewenskwaliteit in die laaste stadium is. Mense sal dikwels bepaal dat hulle nie op kunsmatige wyse aan die lewe gehou moet word as daar geen realistiese vooruitsig op herstel is nie; hulle sal dan instem tot medikasie wat hulle pyn en ongemak beheer, sonder dat hul lewens noodwendig verleng word. Hierdie skriftelike aanduiding sal dus jou wense duidelik maak, wanneer jy nie meer in ‘n posisie is om self aanwysings oor jou behandeling te gee nie.
Dit maak dit net makliker vir jou mediese span en jou naasbestaandes om besluite te neem wanneer jy nie meer in staat is om dit te doen nie. Bespreek die verskillende scenarios en jou aanduidings met jou naasbestaandes en met jou dokter. Maak dit duidelik wat jou standpunt en aanwysings is, nadat jy dit goed oordink en bespreek het. Sorg dan dat jou aanwysings op skrif gestel word, onderteken dit en maak seker dat jou naasbestaandes weet wat daarin staan. Maak veral seker dat hulle weet waar hierdie Lewende Testament te vinde is.
Jy het uiteraard ook ‘n gewone Testament nodig!
Let daarop dat ‘n Lewende Testament nie soos ‘n gewone Testament, die verdeling van jou bates na jou dood reguleer nie. Indien jy nie alreeds oor so ‘n gewone Testament beskik nie, moet jy beslis ‘n plan maak. Dieselfde geld ook vir ‘n Lewende Testament –jy het beide nodig.
Is ‘n Lewende Testament geldig?
Hierdie is nie dieselfde as genadedood of “geassisteerde selfdood” nie. Sodanige handelinge bly steeds onwettig in Suid-Afrika en druis in teen baie mense se morele, kulturele en godsdienstige waardes. Die verskil lê daarin dat genadedood en geassisteerde selfdood ‘n aktiewe ingryping is om iemand se lewe te beëindig. ‘n Lewende Testament daarenteen spreek bloot jou wens uit om, wanneer die tyd kom, die natuur toe te laat om sy eie gang te neem.
Die praktiese afdwingbaarheid van die bepalings jou Lewende Testament kan nie gewaarborg word nie, aangesien die betrokke regsbeginsels nog nie in ons Howe getoets is nie. Jou Lewende Testament sal dit ten minste makliker maak vir jou naasbestaandes en die mediese span wat jou versorg, om die moeilike besluite te neem wanneer die tyd kom.
Provided by Wessels + van Zyl Inc
© DotNews. All Rights Reserved.