Bedrog Met Eiendom: Kopers En Verbandhouers Neem Kennis
“Ons stelsel van akteregistrasie het as ‘n negatiewe stelsel ontwikkel; prima facie dui dit vir jou aan wie die geregistreerde eienaar van eiendom is, maar dit dien nie as absolute waarborg van die korrekte registrasie van eienaarskap oor eiendom nie.” (Vertaalde opsomming uit die eerste uitspraak hieronder.)
In ons daaglikse omgang en praktyk steun ons geredelik op titelaktes soos wat dit in die Aktekantoor geregistreer is, vir positiewe bevestiging van eienaarskap van vaste eiendom. Twee belangrike uitsprake van die Hoogste Hof van Appèl wys egter die teendeel aan ons uit.
Saak 1: Bedrog
Die feite was as volg: –
-
Die eienaar van ‘n eiendom het tot sterwe gekom. Later is beweer dat sy ‘n week voor haar afsterwe haar eiendom aan ‘n maatskappy, onder beheer van haar twee seuns, verkoop het.
-
Hierna het ‘n bank ‘n verband oor die eiendom geregistreer om as sekuriteit vir ‘n lening van ses miljoen Rand te dien.
-
Die maatskappy is gelikwideer.
-
Dit blyk toe dat een van die seuns ‘n vervalsing van sy ma se handtekening op die verkoopsooreenkoms aangebring het; hy het ook sy broer se handtekening op ‘n instemming tot die koopooreenkoms vervals.
- Die eksekuteurs van die moeder se boedel het stappe geneem om haar eiendom weer in die boedel in te bring. Hulle het die Hooggeregshof genader vir hulp om die oordrag ongedaan te maak. Die hof reik ‘n bevel uit waarin die Registrateur van Aktes opdrag kry om die eiendom weer aan die moeder se boedel te transporteer en om die verband wat teen die eiendom geregistreer is, te kanselleer. Daar is dan ook nie meer sekuriteit vir die terugbetaling van die lening van ses miljoen Rand nie.
Hierdie bevel is dan ook onlangs deur die Appèlhof bekragtig. Die hof stel dit uitdruklik dat waar die registrasie van eiendom op bedrieglike wyse of op sterkte van vervalste dokumentasie bewerkstellig word, die onroerende eiendom regtens nie oorgedra word nie, al dui die openbare rekords van die Registrateur van Aktes dat die eiendom wel in die naam van die nuwe “eienaar” geregistreer is. Omdat daar nooit enige werklike bedoeling van die geregistreerde eienaar kon wees om die eiendom oor te dra nie, gaan eiendomsreg nooit oor nie en het die klaarblyklike “registrasie” van die eiendom in die naam van die nuwe “eienaar” geen regskrag nie.
Saak 2: Nog erger bedrog
In die tweede geval het ‘n huiseienaar met haar verbandpaaiemente agterstallig geraak. Die bank het met regstappe begin en het op haar huis beslag gelê. Uit desperaatheid het sy by ‘n eiendomsbeleggingsmaatskappy aansoek gedoen vir ‘n lening. Die maatskappy se agent het haar op bedrieglike wyse gekry om die nodige dokumente te teken om haar huis te verkoop en om na oordrag die huis te huur (verkoops- en terughuurooreenkoms). Volgens haar was sy onder die indruk dat al die dokumente wat sy onderteken het, nodig was vir die goedkeuring van die lening waarvoor sy aansoek gedoen het.
Die Appèlhof bevestig dan dat waar ‘n verkoopsooreenkoms soos hier op bedrieglike wyse verkry was, daar regtens geen oordrag van eienaarskap geskied het nie, selfs waar die eiendom reeds in die naam van die koper geregistreer is nie. Gevolglik word die oorspronklike hofbevel dat die eiendom in haar naam herregistreer moet word, bekragtig.
Benader met omsigtigheid!
Kopers en verbandhouers is op risiko. As dit by ‘n eiendomstransaksie kom, kan mens nie bekostig om kanse te vat nie. Sodra iets ongewoond voorkom of ‘n verduideliking vir jou snaaks klink, moet jy die situasie eerder goed ondersoek. Die Aktekantoor se rekords is gewoonlik volledig en akkuraat, maar soos die hofsake aantoon, kan selfs dit ‘n verkeerde prentjie teken.
Mediaberigte dui ook op ondersoeke na beweerde bedrog, korrupsie en wanadministrasie op hoë vlak in ons aktestelsel.
Provided by Taylor and Finlay Attorneys
© DotNews. All Rights Reserved.