Besigheid by die huis - Is dit wettig?
Werk van die huis af en die tendense in die eiendomsmark
Kom ons kyk na die nuutste tendense in die eiendomsmark. Wat is die effek van duisende mense wat van die huis af werk? Wat is die effek van die ekonomie wat stil staan as gevolg van die pandemie en die inperking?
- Belangstelling in kusstreke en in plattelandse areas met mense wat van die huis af wil werk en nie naby die stad en verkeersknope hoef te wees nie.
- Versoeke vir groter huise van mense wat kantore en fasiliteite by die huis wil inrig.
- Huiseienaars wat nie meer ‘n groot huis se verband of geboue in stand kan hou nie. Hulle kyk daarna om te verkoop of om die huis gedeeltelik of in geheel uit te verhuur.
- In sekere gebiede is daar ‘n groter vraag na huureiendomme. Dit in gevalle waar eienaars hul huise verkoop het en van voorneme is om intern in die land te skuif of om permanent te emigreer.
Wat is die regsposisie?
Of jy nou verkoop, koop, bly of emigreer, sal jy duidelikheid wil hê oor wat die regsposisie rondom tuisbesighede is. Mag jy nou met jou klein besigheid van die huis af sake doen? As werknemer mag jy nou van die huis af begin werk? As dit in die huis langs jou huis gebeur, het jy enige reg om daarteen beswaar te maak?
Jy sal duidelikheid oor hierdie belangrike besonderhede wil hê, voordat jy ‘n huis gaan koop vanwaar jy voortaan jou besigheid wil bedryf en ook in wil woon. Of voordat jy jou hele besigheid na jou bestaande woonhuis toe skuif. Jy wil beslis nie in ‘n dispuut vasloop met jou munisipaliteit of met jou nuwe bure nie.
Die volgende is die twee belangrike aspekte wat jy wil weet
Die Hooggeregshof het bevestig dat daar in werklikheid twee belangrike vrae is om uitsluitsel oor te kry-
- Word die handelsaktiwiteit deur die plaaslike soneringskema en gebruiksregte toegelaat?
- Is daar enige ander regsbesware teen die eiendom se beoogde handelsgebruik? Is daar enige beperkings op die titelakte? As die eiendom deel is van ‘n gemeenskapskema, moet ons kyk of dit ingevolge die Huiseienaarsvereniging of Deeltitelskema se reëls toelaatbaar is.
Die haarsalon – geen probleem met die toepaslike munisipale soneringskema nie, maar die bedryf van so ‘n salon word uitdruklik ingevolge die reëls van die Huiseienaarsvereniging verbied.
- ‘n Huiseienaar het vir jare lank ‘n haarsalon van haar huis in ‘n kompleks bedryf. Die Huiseienaarsvereniging se Grondwet en ook die reëls bepaal uitdruklik dat huise slegs vir residensiële doeleindes aangewend mag word, tensy magtiging ingevolge ‘n spesiale resolusie verkry word om ‘n besigheid in ‘n woning in die kompleks toe te laat. Ingevolge haar oorspronklike koopooreenkoms asook ingevolge die uitdruklike bepalings van haar titelakte was sy gebonde aan die bepalings van die behuisingskompleks se grondwet en die reëls.
- Die Huiseienaarsvereniging (“HEV”) het haar versoek om haar bedrywighede binne in die kompleks te staak. Sy het geweier en die HEV het die Hooggeregshof genader vir ‘n interdik om haar te verplig om haar bedrywighede te staak. Sy beweer dat die munisipale sonering sulke kleinskaalse sake in die gebied toelaat.
- Die hof bevind dat die sonering as sulks nie relevant is nie en staan dan die interdik teen haar toe; sy word verbied om die salon in die kompleks te bedryf. Die hof bevind dat toe sy in die kompleks met sy bestaande reëls ingekoop het, het sy skriftelik ingestem en ooreengekom dat haar regte ingeperk gaan word. Sy het skriftelik ingestem dat die huis slegs as woonhuis gebruik mag word. Daarenteen het die HEV nie die soneringskema probeer verander nie, hul optrede was heeltemal geregverdig en was duidelik daarop gemik om die residensiële aard van die ontwikkeling te beskerm.
Moet jy aansoek doen vir hersonering of munisipale toestemming? Drie kategorieë ter oorweging.
As jy in ‘n gemeenskapskompleks woon, moet jy eerstens optree in oorenstemming met die bepalings van jou kompleks se reëls. As jou kompleks jou toelaat om wel op beperkte wyse sake te bedryf, of as jy in ‘n woonbuurt sonder HEV woon, moet jy dan vervolgens kyk na enige munisipale voorskrifte of beperkings.
Jou plaaslike munisipaliteit sal hul eie grondgebruik en soneringsregulasies hê. In die algemeen sal jou sakebedrywighede in drie kategorieë val:
- Mikro-besighede: Onderhewig aan die sonering van jou woongebied, behoort dit in orde te wees as jy alleen van jou huis af werk. Verskillende munisipaliteite werk met verskillende indelings. Mikro-besighede en tuisondernemings word ingevolge munisipale sonerings toegelaat en as jy aan hul voorskrifte voldoen, sal die munisipaliteit jou nie lastig val nie. Kry die toepaslike voorskrifte by jou plaaslike munisipaliteit.
- Munisipale toestemming: Wanneer jou aktiwiteite verder as dit strek (gewoonlik is daar beperkings soos die aard van die besigheid, die getal personeel wat van die eiendom mag werk, beperkings op die persentasie van jou huis se oppervlakte wat vir sake gebruik mag word, parkeringsvoorskrifte, beperking op geraas en so aan) sal jy by jou munisipaliteit moet aansoek doen vir toestemming of ‘n permit om sake vanuit jou woonperseel te bedryf.
- Hersonering: In ander gevalle sal jy verder moet gaan en formeel aansoek moet doen om die eiendom te hersoneer. Jy sal waarskynlik ook bykomend moet aansoek doen vir die verwydering van alle beperkende voorwaardes op die bestaande titelakte, wat in stryd is met die voorgenome gebruik van die eiendom vir sake doeleindes.
Provided by Taylor and Finlay Attorneys
© DotNews. All Rights Reserved.