Is Jou Testament Geldig?
“Death knocks at all doors alike” (John Dunton 1692)
Dit is ’n werklikheid dat ons gesinne en naasbestaandes op een of ander stadium die lewe sonder ons gaan aandurf. Ons ervaar ook die huidige era as ‘n tyd met besondere gevare.
Maak dus nou seker dat jou eie sake agtermekaar is –
- ’n Geldige testament is ‘n belangrike komponent van jou reëlings om te verseker dat daar behoorlik na jou naasbestaandes en geliefdes omgesien word wanneer jy eendag nie meer daar is nie.
- Indien jy reeds ’n bestaande testament het, gaan daar deur om te bepaal of dit nodig is om dit op te dateer of te verander.
- Hou ’n lêer by waarin jy al die belangrike inligting en dokumente wat die aangestelde eksekuteur van jou boedel gaan benodig, bymekaar hou.
Vyf foute wat jou testament ongeldig kan maak
Die laaste ding wat jy wil hê is dat jou geliefdes moet worstel met die tragedie en hartseer van jou afsterwe, terwyl ’n bittere stryd oor die geldigheid van jou testament ook woed. Die volgende foute moet in besonder vermy word -
- Die voorgeskrewe formaliteite word nie nagekom nie.
Die Meester van die Hooggeregshof hanteer testamente en boedelaangeleenthede in Suid-Afrika. Net die Hooggeregshof self het die bevoegdheid om die Meester te verplig om ‘n testament of testamentêre geskrif as geldig te aanvaar, in gevalle waar die voorgeskrewe formaliteite nie nagekom nie. Die hof moet wel oortuig wees dat die dokument wel die oorledene se laaste wense bevat en dat dit bedoel is om ‘n testament of wysiging van die bestaande testament te wees. Jy sal jou naasbestaandes beslis die kostes, vertraging, stres en risiko van sodanige latere hofaansoeke wil spaar.
- Jy verander jou testament, maar kom nie die voorgeskrewe formaliteite na nie.
Jy moet aan die formaliteite voldoen wanneer jy jou testament verander of herroep. Jy kan deur jou optrede jou testament of ‘n deel daarvan herroep. Na jou dood kan ‘n belanghebbende party die hof nader om so ‘n bevinding te maak. Jy skryf dalk op jou bestaande testament of krap ‘n deel dood, of jy verkoop dalk ‘n bate wat jy in jou testament bemaak, sonder dat jy jou testament aanpas om jou bedoeling duidelik te maak. Dit kan selfs ‘n ander geskrif wees wat jy opstel wat ooglopend daarop dui dat jy jou testament gedeeltelik of in geheel wou wysig of herroep. Jy wil nie hierdie onsekerheid vir jou naasbestaandes nalaat nie. ‘n Duidelike kodisil of selfs ‘n heel nuwe testament is die regte manier om dit te hanteer.
- Laat jy dalk enige twyfel oor jou bevoedgheid om jou testament te maak?
‘n Persoon van 16 jaar en ouer mag ‘n testament maak, tensy hy of sy op daardie tydstip nie geestelik in staat is om die aard en die gevolge van sy of haar optrede te verstaan nie. Die persoon wat beweer dat jy onbevoeg was om ‘n testament te maak, moet dit natuurlik bewys. Tog is daar heelwat gevalle waar hofsake gevoer is oor testamentêre bevoegdheid. Indien daar dus enige sprake is dat dit in dispuut geplaas kan word, vra jou prokureur oor praktiese maniere om jou bevoegdheid uit die staanspoor aan te spreek en te bevestig, wanneer jy jou testament onderteken.
- Laat jy dalk enige twyfel oor bedrog of vervalsing?
Ons howe moet dikwels beslis oor die egtheid van handtekeninge op testamente en ook oor bewerings van bedrog. Weereens, indien daar enige sprake is dat dit kan gebeur, vra jou prokureur oor praktiese maniere om die egtheid van jou testament en die akkuraatheid van jou testament vanuit die staanspoor te verseker.
- Laat jy dalk enige twyfel oor dwang of onbehoorlike beïnvloeding?
Soos met die vorige twee waarskuwings, is dit onwaarskynlik dat hierdie situasie sal ontstaan. Tog is dit altyd beter om seker te maak. Weet dat dit wel gebeur dat mense ‘n testament aanveg op die basis dat die testament onder dwang (dreigemente of enige vorm van intimidasie wat die persoon ‘n testament laat teken het wat nie sy of haar laaste wil weergee nie) of as gevolg van onbehoorlike beïnvloeding onderteken is.
Provided by Taylor and Finlay Attorneys
© DotNews. All Rights Reserved.