Wees bedag op die risiko’s van gevolgskade in die vorm van “Verlies aan Winste”: Gaan jou kontrakte en versekeringsdekking na!
“Consequential Loss: This is loss not directly caused by the insured event, but is an indirect result of the event. This is loss or damage that was not foreseen by the insurer or the policyholder at the time the policy was taken out. Consequential loss is in many instances not covered and cover is dependent on the risk that the policy covers” (Definisie soos bepaal deur die “South African Insurance Association”.)
Een van die risiko’s waaraan jy blootgestel is wanneer jy ‘n besigheid bedryf, is om gedagvaar te word vir verliese wat jy vir iemand anders veroorsaak het. Normaalweg is die risiko vir regsaanspreeklikheid gekoppel aan die eiser se vermoë om te kan bewys dat jy nalatig was (met ander woorde die onus of bewyslas is op die eiser om jou nalatigheid te bewys). Daar is egter uitsonderings op hierdie algemene reël. Een hiervan is (soos wat ons sal opmerk in die saak wat ons hieronder bespreek) ‘n “vervoerder wat teen vergoeding goedere oor land vervoer” se “absolute aanspreeklikheid” om die goedere onbeskadig af te lewer. Die onus verskuif in hierdie geval na die vervoerder om te bewys dat daar geen skuld aan sy kant was nie.
Ongeag van wie wat moet bewys, is dit duidelik dat hier groot finansiële belange ter sprake is. Daarom is dit belangrik en verstandig om reeds vooraf stappe te neem om jouself te beskerm.
Beskerm jou besigheid met versekering
Die eerste belangrike stap is natuurlik altyd die praktiese een: beperk sover jy kan die werklike risiko’s om enige soort skade of verlies aan enige en alle rolspelers te veroorsaak – klante/kliënte, verskaffers, werknemers, ensovoorts. Vanuit ‘n regsoogpunt word vrywarings- en uitsluitingsklousules algemeen vir hierdie doel gebruik, maar sulke klousules het ook beperkinge en is nie onfeilbaar nie.
Dit maak net goeie besigheidsin om kommersiële (besigheids-) versekering uit te neem. Indien jou praktiese voorkomingsstappe jou in die steek laat, kan jy op jou versekeraar staatmaak vir dekking van die skadevergoeding waarvoor jy aanspreeklik gehou kan word.
Wees egter versigting. ‘n Onlangse uitspraak van die Hooggeregshof illustreer duidelik dat, selfs met versekering in plek, kan jy jouself in ‘n netelige situasie bevind indien jy vir “gevolgskade” aanspreeklik gehou word.
Wat behels die begrip “gevolgskade”?
Voordat ons die besonderhede van hierdie Hooggeregshofsaak bestudeer, is dit belangrik om eers te kyk na die verskillende tipes skade waarvoor jy aanspreeklik gehou kan word -
- Die eerste verwysing is na “algemene skade”. Dit is skade wat normaalweg en algemeen voortvloei uit die tipe kontrakbreuk wat ter sprake is. Die reg aanvaar dat die partye waarskynlik hierdie soort skade in geval van kontrakbreuk in gedagte sou gehad het. ‘n Elektrisiën wat byvoorbeeld nalatig optree en die distibusiebord van sy kliënt se besigheid laat uitbrand, sal waarskynlik heel eerste gedagvaar word vir die koste om die bord te vervang.
- Dan is daar sogenaamde “spesiale”, “gevolglike” of “indirekte” skade. Dit is daardie skade wat, hoewel dit deur die kontrakbreuk veroorsaak was, gewoonlik regtens as te vêr verwyderd beskou word om verhaalbaar te wees. Dit is tensy in die spesiale omstandighede tydens sluiting van die kontrak, die partye daadwerklik of vermoedelik hierdie soort skade in gedagte gehad het as ‘n waarskynlike gevolg van kontrakbreuk. Om weer na die nalatige elektrisiën voorbeeld hierbo te verwys, sou die besigheid dalk ook vir gevolgskade kon dagvaar. ‘n Voorbeeld hiervan sou wees ‘n verlies aan verkope, omdat die besigheid vir ‘n tyd lank sonder elektrisiteit moes wees. Die toets in hierdie geval sal dan wees of die elektrisiën en die besigheid daardie verlies aan verkope as ‘n waarskynlike gevolg van ‘n onklaar distibusiebord sou kon voorsien.
Kom ons kyk na hierdie onderskeid aan die hand van ‘n praktiese voorbeeld ...
Gedagvaar vir R2.2 miljoen se “verlies aan winste” wat nie deur versekering gedek was nie
- ‘n Vervoermaatskappy (‘n “vervoerder”) het ingestem om twee waardevolle masjiene vir ‘n kliënt te vervoer. Die kliënt was van voorneme om die masjiene aan die filmbedryf uit te verhuur.
- Gedurende die vervoer van hierdie masjiene het beide masjiene aansienlike skade opgedoen. Daar is beslis dat die vervoerder die vervoerkontrak verbreek het en dat hy die skade en verliese as gevolg van sy nalatigheid veroorsaak het.
- Die vervoerder het van sy versekeraars geëis om sy aanspreeklikheid te dek.(Elke masjien was met R1 miljoen se “goedere in transito” versekering gedek.)
- Die versekeraar het ‘n totaal van R1.7 miljoen vir die direkte verliese uitbetaal, en dit het die herstel van die een masjien en die vervanging van die ander masjien gedek.
- Dit was alles goed en wel. Die vervoerder se probleem het egter gekom by die tweede been van die skadevergoedingseis. Dit was vir “verlies aan winste” wat deur die kliënt gely is. Die kliënt was nie daartoe in staat om die masjiene uit te verhuur terwyl hy moes wag dat dit herstel/vervang moes word nie.
- Die versekeraar het geweier om hierdie tweede gedeelte van die eis (R2 218 464) uit te betaal, aangesien dit kontraktueel ooreengekom het om slegs “werklike” skade aan die masjiene te dek. Die goedere-in-transito-polis het spesifiek “gevolglike finansiële skade as gevolg van enige oorsaak hoegenaamd” uitgesluit. Die vervoerder moes homself teen die kliënt se eis verdedig sonder enige versekeringsdekking aan sy kant.
- Die vervoerder het aangevoer dat sy aanspreeklikheid teenoor die kliënt beperk was tot die maksimum goedere-in-transito-dekking van R1 miljoen, per masjien. Die Hof het egter beslis dat die versekeringskontrak tussen die vervoermaatskappy en die versekeraars gesluit was. Gevolglik het dit nie die kliënt verhoed om skadevergoeding te eis vir verliese wat hy bo en behalwe dié wat deur die vervoerder se versekering gedek was, gely het nie.
- Die Hof het op die feite beslis dat “hierdie soort verlies geredelik oorweeg en in geheel voorsienbaar moes gewees het toe die oorhoofse vervoerkontrak tussen die partye gesluit was”; en dat die kliënt se verlies aan inkomste logies gevloei en in geheel voorsienbaar was omdat dit nie die masjiene kon uitverhuur nie.
- Die eindresultaat - die vervoermaatskappy moet enige gevolgskade wat die kliënt kan bewys uit sy eie sak betaal (die kliënt sal hom waarskynlik beroep op die aanvanklike eis van R2.2 miljoen).
Gaan jou kontrakte en jou versekeringsdekking sorgvuldig na!
Die les hier is natuurlik om seker te maak dat jou versekeringsdekking jou teen aanspreeklikheid vir “gevolgskade” en dies meer beskerm; en/of om seker te maak dat jou versekeringsdekking jou sal beskerm indien jy wel vir aanspreeklikheid bo en behalwe “algemene skade” gedagvaar word. Indien daar ‘n “uitsluitingsklousule” in jou polis is soos hierbo bespreek, is jy ongelukkig op jou eie!
Provided by Chennells Albertyn Attorneys
© DotNews. All Rights Reserved.