Boedelbeplanning en Jou Testament: ‘n Kontrolelys om jou Naasbestaandes te Beskerm
“Moenie die dood vrees nie, maak eerder daarvoor voorsiening.” (Anoniem)
Dit is merkwaardig dat, te midde van ‘n dodelike pandemie, ‘n beraamde 70% tot 80% van werkende Suid-Afrikaners nie ‘n geldige testament in plek het nie.
Daar is twee redes waarom ‘n testament van kardinale belang is -
- Jou geliefdes is meer kwesbaar as jy nie ‘n testament in plek het nie
Wanneer jy tot sterwe kom, moet jou gesin skielik leer hoe om sonder jou klaar te kom. Moet hulle nie aan verdere onsekerheid en bekommernis blootstel deur nie ‘n geldige testament in plek te hê nie. (‘n Testament word ook soms ‘n “Laaste Testament en Wilsbeskikking genoem", om dit van ‘n “Lewende Testament” te onderskei”.)
Indien jy sonder ‘n testament tot sterwe kom, sal jou boedel ingevolge Suid-Afrikaanse wetgewing oor “intestate erfopvolging” beredder word. Jy het dan die reg (en verpligting) verbeur om te verseker dat jou geliefdes van jou boedel ontvang wat hulle nodig het, dat jou kinders en hul erflatings behoorlik beskerm word en dat jou boedel beredder word deur iemand wat jy vertrou.
- Boedelbeplanning is noodsaaklik
Boedelbeplanning verwys hier na die proses om jou finansiële sake so te orden dat jou nalatenskap so omvangryk as moontlik en so goed gestruktureerd is as wat dit kan wees. Hierdie proses hoef nie gekompliseerd of duur te wees nie. Elke persoon, ongeag van ouderdom, gesondheid of finansiële posisie, moet sy of haar eie boedelplan in plek hê. Opsommend is die doel om jou bates te maksimeer, jou boedelkostes en boedelbelasting te beperk en om die bereddering van jou boedel uiteindelik so eenvoudig as moontlik te maak sodat jou erfgename so gou as moontlik hul erflatings kan ontvang.
As jy nie ‘n testament het nie, beteken dit jy het nie ‘n boedelplan nie. Geen boedelplan beteken bykomende bekommernisse, kostes en vertragings in die proses wat jou geliefdes na jou afsterwe gaan moet deurmaak.
‘n 15-Punt kontrolelys (“checklist”) om jou naasbestaandes te beskerm
Gebruik hierdie kontrolelys om seker te maak dat jy voorsiening maak vir jou naasbestaandes se voorspoed en finansiële welstand lank nadat jy nie meer daar is nie -
- Maak seker jy het ‘n testament: Sien hierbo – ‘n testament is ‘n absolute noodsaaklikheid! Dit is boonop so eenvoudig om ‘n behoorlike testament te laat opstel, dat dit regtig onnodig is om jou naasbestaandes se sekuriteit en welstand op risiko te plaas deur nie ‘n testament in plek te hê nie.
- Moenie uitstel nie: Om uit te stel is menslik, en ook verstaanbaar wanneer dit kom by besluite en oorwegings wat met jou eie sterflikheid te make het. Ons wil nie daaraan dink nie, maar die dood is onvermydelik, en niemand, ongeag hoe gesond of hoe jonk, kan bloot aanvaar dat hulle môre nog gaan lewe nie. Al te dikwels kom die dood sonder enige waarskuwing. So moenie daarvoor vrees nie, maar maak voorsiening daarvoor. Nou.
- Wees versigting vir die “doen-dit-self” (“DIY”) roete: Die “doen-dit-self” roete kan baie aanloklik klink. Dit is maklik genoeg om aanlyn voorbeelde te kry. Om dit self te doen is egter ‘n bietjie soos om jou eie valskerm in te pak vir jou eerste sprong, sonder enige bystand – ‘n goeie idee as jy ‘n kenner is, maar vir die meeste van ons maak dit meer sin om professionele hulp te verkry. Dit is immers nie jy nie, maar jou geliefdes, wat met enige foute wat jy nou maak gaan moet saamleef!
- Maak seker jou testament is geldig: Vir jou testament om geldig te wees moet dit aan al die regsformaliteite voldoen. Hoewel die howe ‘n diskresie het om ‘n “gebrekkige” testament geldig te verklaar, is hierdie proses baie onseker, stadig en duur. Doen dit eerder net van die begin af reg.
- Vermy dubbelsinnigheid en dispute: Enige onduidelikheid in die bewoording van die testament het die potensiaal om tot dispute te lei. Ons howe word dikwels gebruik om onplesierige, ontwrigtende en duur familievetes te bereg. Dit sou vermy kon word indien die testament vanuit die staanspoor deur ‘n professionele persoon opgestel was wat die oorledene se presiese wense en bedoelings duidelik en bondig uiteengesit het.
- Buitelandse bates: Indien jy bates in ‘n ander land het, mag dit dalk nodig wees vir ‘n buitelandse testament, sowel as ‘n Suid-Afrikaanse testament. Vra ‘n professionele persoon vir meer raad hieroor.
- Hou bedryfskontinuïteit in gedagte: Indien een van jou bates ‘n aktiewe sakebedryf (of ‘n belang in een) is, maak seker dat jy ‘n kontinuïteitsplan in plek het sodat sake sonder onderbreking kan voortgaan.
- Hersien jou testament gereeld: Hierdie punt word maklik en dikwels uit die oog verloor. Jy het uiteindelik ‘n testament in plek, en jy dink “fantasties, nou is dit afgehandel”. Niks bly egter net dieselfde nie. Persoonlike omstandighede verander, jou famile se samestelling verander, wetgewing verander, belastingreëls verander. Daarom stel ons voor dat jy elke jaar jou testament in die lig van jou lewensomstandighede hersien. Indien nodig kan jy dit dan wysig en vervang.
- Wees deurdag met jou keuse van Eksekuteur: Dit is ‘n belangrike besluit wat ‘n groot invloed op jou naasbestaandes kan hê. Kies iemand op wie jy kan staatmaak om jou boedel op ‘n vinnige en professionele wyse te beredder.
- Wat van jou minderjarige kinders se finansiële behoeftes: Dit is die geleentheid om in elkeen van jou minderjarige kinders se finansiële behoeftes te voorsien. Jy kan jou boedel in gelyke dele verdeel. Of jy kan ook ingevolge elkeen se individuele omstandighede en behoeftes onderskei. (Dit is gewoonlik sinvol om die redes vir jou besluit oor te dra.) Dit is ook hier waar jy iemand van jou keuse kan nomineer as voog van jou minderjarige kinders – dit maak tog sin vir jou om hierdie keuse te maak. Voorsien ook dat jou minderjarige kinders se erflatings vir hulle in trust gehou word, met jou keuse van trustees.
- Verminder kostes en belastings: Om dit wat uiteindelik na jou erfgename toe gaan te maksimeer, moet jy kyk na al die kostes wat deur jou boedel betaal moet word. ‘n Professionele persoon kan jou help om die waarskynlike boedelbelasting, eksekuteursfooie en uitgawes te bepaal en dan deur die proses te lei om te verseker dat dit so laag as moontlik gehou kan word. Hou ook in gedagte dat oor die lang termyn is “goedkoper” nie altyd beter as dit by advies kom nie. Belasting kom in verskillende gedaantes by afsterwe. Jy wil bepaal wat na SARS toe gaan vir inkomstebelasting, kapitaalwinsbelasting en boedelbelasting. Dan wil jy verseker dat jy dit so min as moontlik maak met die keuses wat wel tot jou beskikking is.
- Benoem direkte begunstidges waar jy kan: Benoem sover as moontlik begunstigdes op jou lewenspolisse, annuïteite en belastingvrye beleggings. Dit sal dan direk aan daardie genomineerde persone uitbetaal, sonder die vertragings wat inherent aan die boedelberedderingsproses is. Dit sal ook in sommige gevalle die boedel se uitgawes en belastings verminder. Verkry professionele advies op hierdie gebied – verskillende reëls geld vir elkeen van hierdie kategorieë.
- Beplan vir likiditeit. Dink ook aan waarvan jou naasbestaandes gaan lewe. Jy wil nie hê dat die Eksekuteur ‘n bate (byvoorbeeld jou huis of besigheid) wat jy aan ‘n spesifieke erfgenaam nagelaat het, noodgedwonge moet verkoop nie. Ongelukkig mag dit onafwendbaar raak as daar nie voldoende kontant in die boedel beskikbaar is om die verskillende kostes en belastings te betaal wat noodwendig deel van die beredderingsproses is nie. Jou bankrekeninge sal ook gevries word sodra die bank in kennis gestel word van jou oorlye. Daarom moet jy verseker dat jou naasbestaandes genoeg kontant het om van te lewe terwyl jou boedel beredder word. (Dit kan ‘n uitgerekte proses wees met die rompslomp wat kenmerkend van hierdie proses is.) Aparte bankrekeninge, lewenspolisse (sien hierbo), familietrusts en dies meer mag dalk in jou betrokke omstandighede die oplossing wees, maar spesifieke professionele advies hieroor is noodsaaklik.
- Laat ‘n lêer met “Belangrike Inligting” vir jou geliefdes na: Dit maak dinge net baie makliker. Daar is gevalle van treurende gades en kinders wat hulself skielik in ‘n wêreld van onsekerheid en bekommernis bevind. Hulle het geen idee waar die oorledene se testament is nie, of hoe die boedel gestruktureerd is nie; of watter bates of laste daar is nie; of hoe om toegang tot rekenaars met wagwoorde te verkry, of waar belangrike dokumente gehou word nie; of wie hulle moet kontak om vir hulp te vra nie. Soms is hulle selfs in die donker oor watter bates vanuit die staanspoor of daarna in hul eie name geregistreer is. Die lys is nimmereindigend.
Wat moet in so ‘n lêer gehou word? In kort, alles wat jou naasbestaandes mag benodig. Die eerste punt moet natuurlik die besonderhede gee van waar jou Testament gehou word. Probeer jouself in hul skoene plaas – wat sou jy moes weet as jy die langslewende was? Watter inligting en dokumente sal dit vir jou makliker maak om met jou lewe aan te gaan? Soos gewoonlik, sal professionele advies en bystand hier jou geliefdes hope ellende en bekommernisse spaar.
‘n Laaste woord hieroor – dit is 'n goeie idee om “daardie gesprek” met jou naasbestaandes so spoedig as moontlik te hê. Dit is nie ‘n maklike taak nie, maar hulle verdien niks minder nie. Ideaal sal hulle reeds van die begin af betrokke wees by jou beplanning en die samestelling van jou “Belangrike Inligting” lêer. Andersins moet hulle ten minste weet dat daar so ‘n lêer bestaan, waar dit is en hoe om dit te gebruik.
- Wat nog? Geen algemene lys oor boedelbeplanning kan ooit volledig genoeg wees nie. Pas jou plan aan om in jou spesifieke behoeftes te voorsien. Hou ‘n vergadering hieroor met jou gesin of familie (of ander naasbestaandes) met die insette van ‘n professionele persoon, om seker te maak dat jy die relevante aspekte hanteer.
Provided by Chennells Albertyn Attorneys
© DotNews. All Rights Reserved.