Daardie Terme en Voorwaardes op ‘n webwerf? Kyk daarna voordat jy dit aanvaar
“The Internet is a Real Place with Real Consequences” (Rebecca MacKinnon, ‘n deskundige op die gebied van beleide oor internetgebruik.)
Ons leef in ‘n tyd van aanlyn handelsdienste. Ons kan omtrent enigiets op die internet koop en verkoop. Ons kan baie maklik dienste, van ‘n Uber-rit tot ‘n loodgieter, aanlyn bestel.
Daarom weet ons ook van daardie boksies wat iets sê soos die volgende: “I agree to the terms and conditions available here” (met ‘n skakel by “here” wat jou neem na terme en voorwaardes in fyn skrif van ‘n hele paar bladsye).
‘n Interessante geval is onlangs in die Hooggeregshof afgehandel.
“Ek het R5 miljoen gewen!”
Die persoon was ‘n gereelde besoeker en deelnemer aan sportweddenskappe op ‘n webblad wat hierdie dienste aangebied het. Hy het oor ‘n tydperk van agt maande 530 weddenskappe deur die webblad geplaas. Met ‘n betaling van R100 het hy ’n weddenskap geplaas en die wenners in agt verskillende perdewedrenne suksesvol aangewys.
Hierdie suksesvolle weddenskap het ‘n moontlike uitbetaling van R4,841,728 aangedui en die dobbelaar het gedink dit is presies wat hy gewen het. (Dit sou meer as R5 miljoen gewees het voordat belasting in berekening gebring is.)
Toe dit by die uitbetaling kom het hy slegs R1 miljoen ontvang. Die dobbelhuis het hom na hul standaard terme en voorwaardes verwys, wat elke deelnemer moet aanvaar, voordat hulle weddenskappe deur die aanlyn platform kan plaas. Klousule 9 se opskrif is “Maximum Payout” ingevolge waarvan die daaglikse maksimum wat ‘n kliënt kan wen duidelik beperk is tot R1 miljoen.
Die dobbelaar was nie hiermee tevrede nie en het die dobbelhuis vir die volle bedrag gedagvaar. Hy het aangedui dat hy nie die terme en voorwaardes gelees het nie (sekerlik ‘n algemene posisie om in te wees) en dat die gedrukte weddenskapsverslag wat hy met betaling ontvang het, die voorwaardes vervang het toe die volle bedrag as moontlike wenbedrag daarop gedruk is.
Let op as jy iets onderteken
Die geluksgodin was egter nie aan sy kant nie. Die hof het sy eis met koste van die hand gewys. Die bedrag wat op die weddenskapsverslag aangedui is, was nog steeds ondergeskik en onderhewig aan die algemene daaglikse limiet wat in die terme en voorwaardes vervat is.
Die hof wys daarop dat die enigste manier waarop die dobbelaar ‘n rekening op die webwerf kon oopmaak, was deur al die standaard terme en voorwaardes van die webwerf en die dobbelhuis te aanvaar:
“When signing the document by placing an electronic tick in the box, the applicant placed himself in the same position as a person who had physically signed the document. He is bound by the maxim caveat subscriptor [‘let the signer beware’], whether or not he actually took the trouble to read the terms.”
Ons kry almal in die proses ‘n waarskuwing. Wanneer jy daardie boksie op die webwerf afmerk om toegang te verkry of om sake te doen, is jy daaraan gebonde. Jy kan nie na die tyd kom en sê jy het dit nie gelees nie en daarom is jy nie gebonde nie. Min mense lees dit. Jy dink dalk niemand het die tyd of die krag om dit te lees nie. As daar iets groot op die spel is, moet jy maar die tyd neem en die moeite doen om dit te lees en te verstaan. Indien dit ‘n omvangryke situasie of aankoop of belegging is, moet jy selfs oorweeg om regsadvies in te win, voordat jy dit aanvaar.
Wag, dit is nie al nie. (‘n Waarskuwing aan diegene wat hul produkte en dienste aanlyn verhandel)
Hierdie is ‘n gedeelte van ons regstelsel wat nog ontwikkel en verander. Ons leef in ‘n era van sterk verbruikersbeskerming. Hou in gedagte dat die diensverskaffer se saak hier deur twee bykomende feite versterk is –
- Die dobbelaar het skriftelike waarskuwings op elkeen van die 530 weddenskapsverslae ontvang waarop die bestaan van daaglikse limiete aangedui is, asook elke keer wanneer hy ‘n bedrag gewen het, was dit ook op die verslag aangedui.
- Die volledige terme en voorwaardes was deurentyd beskikbaar deur slegs op die skakel te kliek.
Die hof maak dan die bevinding dat die dobbelhuis “takes all reasonable steps to ensure that the client assents to the terms and conditions before the account is opened and both prior and subsequent to the placing of any bet the punter is told about the limits on winnings.”
Die dobbelhuis sou waarskynlik die saak gewen het deur net te steun op die instemming wat die dobbelaar gekliek het en op die beginsel dat as jy iets onderteken, moet jy daaraan gebonde gehou word.
Dit is ‘n goeie voorbeeld vir ander diensverskaffers om die terme en voorwaardes deurentyd op die webblad sigbaar en maklik toeganklik te hou. Dan steun jy nie uitsluitlik op ‘n enkele kliek wat dalk jare gelede al gedoen is, met die aanvanklike toetrede tot die webwerf nie.
Provided by Darrolls Attorneys, Notaries & Conveyancers
© DotNews. All Rights Reserved.