Vrywaringsklousules en Werknemers wat van jou steel: Kan jy dagvaar (of gedagvaar word)?
Waar een van die partye geheel of gedeeltelik van 'n verpligting of aanspreeklikheid onthef wil word wat volgens die gemenereg sou of kon ontstaan ingevolge 'n kontrak van die soort wat die partye beoog om te sluit, is dit vir daardie party om te verseker dat die omvang van dit waarvan hy of sy vrygestel wil word, duidelik uitgespel word. (Vertaalde uittreksel uit die uitspraak hieronder.)
Diefstal deur werknemers is nog altyd ‘n kopseer vir werkgewers gewees. Geen besigheid kan bekostig om die gevare daarvan te ignoreer nie. Dit is veral die geval waar jou besigheid goedere van derdepartye, van hoë waarde hanteer. Jou kanse is groot om gedagvaar te word as een van jou werknemers ’n kliënt se bate/s steel. Die rede daarvoor is die konsep van “middellike aanspreeklikheid” – die regsreël wat jou algemeen aanspreeklik kan maak vir jou werknemer se optrede.
Jou beste verweer (behalwe natuurlik om stappe te neem om te verhoed dat werknemers met lang vingers in die eerste plek steel!) is die "vrystelling" of "vrywaring"-klousule. Dit kan 'n struikelblok wees vir enige kliënt (of hul versekeraar) wat jou aanspreeklik wil hou. Dit moet egter professioneel voorberei, ondubbelsinnig en pasgemaak vir jou spesifieke bedryf, omstandighede en kontrakte wees.
’n Onlangse beslissing van die Hooggeregshof van Appèl (HHA) dien as voorbeeld –
Die vragdief wat R4,5 miljoen se rekenaars gesteel het
'n Kliënt het sowat R4,5 miljoen se rekenaars en bybehore per lugvrag ingevoer. Hy het ‘n uitklarings- en versendingsagent gekontrakteer om die vrag te ontvang en om dit vanaf die SAL-vragpakhuis aan die kliënt te stuur.
Die agent se werknemer, gewapen met sy “identiteitsverifikasiestelsel”-kaart en die nodige pasgemaakte doeane vrystellingsdokumente, het die besending afgehaal en in 'n ongemerkte vragmotor gelaai, die vragafleweringstrokie geteken en met sy buit verdwyn.
Nadat die agent deur die kliënt vir sy verliese gedagvaar is, het hy op die vrywaringsklousules in sy Standaard Handelsbepalings en -voorwaardes gesteun. Hierdie klousules was omvattend en wyd bewoord. Dit was, soos ons hieronder sal sien, sentraal tot die agent se regsoorwinning hier.
Op appèl het die HHA die eis teen die agent weer van die hand gewys op grond daarvan dat die agent kon bewys dat sy aanspreeklikheid deur die vrywaringsklousules uitgesluit is. Kom ons kyk hoe dit gewerk het.
Werkgewers – kan jy gedagvaar word?
Sonder 'n afdwingbare vrywaringsklousule in sy standaardkontrak sou die werkgewer in hierdie geval vir R4,5 miljoen (plus aansienlike regskoste) aanspreeklik gewees het.
Die versendingsagent se voortgesette sukses hier is te danke aan die Hof se interpretasie van die bewoording van hierdie spesifieke klousules, in die konteks van hierdie spesifieke kontrak, en in die betrokke omstandighede van hierdie aangeleentheid. Enige onduidelikheid in die betekenis daarvan sou fataal vir die agent se verweer gewees het. Die agent se verweer in hierdie geval is verder versterk deur die feit dat daar spesiale voorsiening in die kontrak gemaak was vir "goedere wat spesiale reëlings vereis". Met ander woorde, maak seker dat jou kontrakte almal vrywaringsklousules bevat wat ondubbelsinnig bewoord is, wat vir jou spesifieke bedryf en omstandighede aangepas is.
Kliënte – kan jy dagvaar?
Lees en verstaan die kontrakte wat jy onderteken, volg enige voorskrifte en vereistes wat op gespesifiseerde of "waardevolle" goedere van toepassing is, en verkry professionele advies indien jy nie nie tevrede is met enige van die bepalings nie. Die realiteit is egter dat min diensverskaffers bereid sal wees om oor die bewoording van vrywarings- en vrystellingsklousules te onderhandel. Dit kan jou kwesbaar laat, en daarom moet jy ook die regte tipe versekeringsdekking in plek hê – maak vooraf hieroor seker!
Provided by B. R. Sandwith Inc.
© DotNews. All Rights Reserved.