Moenie jou gekose erfgename per ongeluk diskwalifiseer om te erf nie!
“Death is not the end. There remains the litigation over the estate.” (Die siniese opmerking van Ambrose Bierce.)
Jou testament ("Laaste testament en Wilsbeskikking") moet altyd die hoeksteen van jou boedelbeplanning vorm. 'n Onlangse beslissing in die Hooggeregshof wys weer daarop dat jy nie hiermee moet kanse vat nie. Laat jou testament eerder vanuit die staanspoor deur ‘n professionele persoon opstel. ‘n Pa wat sy testament nie professioneel laat opstel het nie, het sy dogter in die proses gediskwalifiseer om haar toegewysde erfporsie te kon erf, terwyl haar man gediskwalifiseer is om as eksekuteur aangestel te word.
Wie word gediskwalifiseer om te kan erf?
Die Wet op Testamente, bepaal dat niemand (of hul gade) “enige voordeel” kragtens 'n testament kan ontvang indien –
- Hulle die testament as 'n getuie onderteken het (tensy die testament ook deur twee ander bevoegde persone as getuies onderteken is, wat geen voordeel uit die testament ontvang het nie), of
- Hulle die testament namens die testateur onderteken het (selfs al is dit in die teenwoordigheid van die testateur en op sy aandrang), of
- Hulle die testament of enige deel daarvan in hul eie handskrif uitgeskryf het.
Hier beteken “enige voordeel” nie net erfenis as erfgenaam nie, maar ook die benoeming en voorgenome aanstelling as eksekuteur, trustee of voog.
'n Hof kan so 'n persoon slegs toelaat om te erf indien die hof tevrede is dat daardie persoon of sy gade nie die erflater in die uitvoering van die testament bedrieg of onbehoorlik beïnvloed het nie. Dit is belangrik om te weet dat dit die voorgenome erfgenaam is wat moet bewys dat daar geen bedrog of onbehoorlike beïnvloeding ter sprake was nie.
Die Hof stel dit as volg duidelik:
“This disqualification exists in order to prevent falsity and fraud, and to prevent ‘the exertion of undue influence over people in bad health or in feeble state of mind’. This is because the fact that someone who stands to benefit from the death of a testator in terms of a will, and who is involved in the drawing of the very will in which that benefit is declared, ineluctably invites speculation that he or she may have improperly influenced the testator in the framing of his final testament, more particularly so where the will is executed at a moment of crisis in the testator’s life.”
In gevalle waar die begunstigde in elk geval onder intestate erfreg ‘n deel sou erf (dws indien die oorledene glad nie enige geldige testament nagelaat het nie), mag daardie begunstigde steeds erf, maar dan niks meer as die waarde van sy of haar intestate erfdeel nie.
Die feite in hierdie geval
- Ons testateur was in swak gesondheid en hy het besef dat hy 'n opgedateerde testament nodig het. Hy het sy vriend gevra om hom te help om ‘n testament op te stel. Die vriend het 'n getikte testament opgestel. Hiervolgens sou elkeen van die erflater se drie kinders (uit twee verskillende huwelike) een derde van sy boedel ontvang het. Die testament het ook bepaal dat sy skoonseun as eksekuteur aangestel moet word.
- Die testament was, soos die hof die gestel het, "effens ongewoon" omdat dit ‘n opsomming oor die vader se probleme met sy derde vrou ingesluit het. Die werklike probleem (soos dit later sou blyk) kom eerder uit die feit dat dit 'n vier bladsy getikte skedule bevat het wat 69 bates gelys het. Die lys het ‘n oop spasie by elke bate bevat, vir die invoeging van die naam van die kind wat daardie bate moes ontvang. Hierdie name is deur een van sy dogters met die hand ingevul – volgens haar het sy die toedelings ingevolge haar pa se instruksies gedoen.
- Die testament en die skedule van bates van vier bladsye is behoorlik deur die pa en twee getuies onderteken, en die pa is vyf dae later oorlede.
- Soos ongelukkig soms gebeur wanneer 'n oorledene kinders uit meer as een huwelik agterlaat, het 'n bakleiery tussen die kinders vanuit die verskillende huwelike ontstaan. Die een familie het beweer dat die skedule van bates nie die vader se wense weerspieël het nie en dat die lys van bates deur bedrog of onbehoorlike invloed opgestel is.
- Die eindresultaat was dat die Hof bevind het dat die dogter wat die name op die skedule van bates met haar hand ingevul het, gediskwalifiseer sou wees om enigiets meer as haar aandeel ingevolge intestate erfreg te ontvang. Deur haar inskrywings in die testament, is haar man ook gevolglik gediskwalifiseer om as eksekuteur aangestel te word.
Wat leer ons hier uit?
Al hierdie twis, onsmaaklikheid, onsekerheid en regskostes kon vermy gewees het as die pa 'n bekwame professionele persoon ingeroep het om sy testament vir hom op te stel (verkieslik lank voordat sy siekte toegeslaan het). Moenie ook hierdie fout maak nie!
Provided by B. R. Sandwith Inc.
© DotNews. All Rights Reserved.