Is die eienaar en regspersoon aanspreeklik waar ‘n kind deur elektrisiteit geskok en beseer is?
In 'n onlangse beslissing van die hooggeregshof is die eienaar van 'n deeltitel-eenheid en sy kaskontrakteur aanspreeklik gehou vir skadevergoeding. Die slagoffer was ‘n seun van 11 jaar oud, en hy is geskok toe hy ‘n gemeenskaplike kraan oopgedraai het. Die kompleks se regspersoon en 'n elektrisiën is ook gedagvaar, maar die eis teen hulle is afgewys.
Die redes wat die Hof vir hierdie kontrasterende bevindings gegee het, bied waardevolle lesse vir eiendomseienaars, kontrakteurs, regspersone en bestuursagente van gemeenskapskemas.
Ernstige elektriese skok toe hy die kraan oopgedraai het
- Niemand verwag om ‘n elektriese skok te kry as jy 'n kraan oopdraai nie. Ongelukkig was dit wat met ‘n seun van 11 jaar oud gebeur het, toe hy sy ma se motor in 'n woonkompleks wou was.
- Toe hy aan 'n gemeenskaplike kraan geraak het om 'n emmer vol water te maak, is hy elektries geskok. Hy kon ook nie sy hand verwyder nie en vir ‘n tydperk van een tot twee minute is hy deurlopend geskok. Gelukkig het die huurder van die eenheid wat die bron van die elektriese stroom was, by die huis aangekom en kon hy die elektrisiteit afskakel en die seun red.
- Die seun is met ernstige beserings na die hospitaal geneem. Hierna het sy ma namens hom al die betrokke partye vir meer as R3 miljoen se skadevergoeding gedagvaar.
- Ons vereenvoudig die ingewikkelde feitestel soveel as moontlik. 'n Kaskontrakteur is op versoek van 'n huurder deur die eienaar se agent / werknemer ingeroep om werk in die eenheid te doen. Die kaskontrakteur het twee werkers in diens gehad en hulle het die aanvanklike probleem veroorsaak deur 'n gat in die muur te boor en in die proses het hulle die elektriese isolasie beskadig.
- Die eienaar se agent het toe 'n elektrisiën gekontrakteer om die elektriese skade te herstel. Hy het die gevaarlike situasie egter met sy knoeiwerk vererger en daar was toe reeds probleme met die elektrisiteit en met die water.
- Die huurder was geskok (elektries, vermoedelik ook figuurlik) toe sy krane in die eenheid oopdraai en die elektriese reaksie daarop beleef het. Sy het die elektrisiteit afgeskakel en die gevaar by die agent aangemeld. Ongelukkig het die kaskontrakteur se twee werkers in haar afwesigheid die volgende dag die elektrisiteit weer aangeskakel. Hulle het weer die gevaarlike situasie geskep wat later die dag tot die seun se skokkende ervaring sou lei.
Kom ons kyk na 'n paar van die regsbeginsels wat die Hof tot die beslissing oor elk van die partye se aandeel gelei het –
Jou agent of werknemer vertel jou nie van 'n gevaarlike situasie nie – is jy aanspreeklik?
Daar was 'n dispuut oor of die eienaar se "agent" uit ‘n wetlike standpunt 'n agent of 'n werknemer was, en of hy die eienaar van die gevaarlike situasie vertel het of nie. Volgens die hof maak dit geen verskil nie. Die “agent” se kennis van die gevaarlike situasie in die eenheid is aan die eienaar toegeskryf omdat (1) hy daardie kennis in die loop van sy diens opgedoen het, en (2) in die omstandighede hy het 'n plig gehad om dit by die eienaar aan te meld.
Maak seker jou agente en werknemers is opgelei en betroubaar genoeg om jou dadelik te vertel van enige gevaarlike situasie met jou eiendom.
Is jy aanspreeklik vir jou kontrakteur se nalatigheid?
Dit is duidelik dat die werkers in diens van die kontrakteur die gevaarlike situasie veroorsaak het. Hulle het eerstens die elektriese isolasie beskadig. Tweedens, het hulle die elektrisiteit later weer aangesit, al was hulle bewus van die gevaar. Die kontrakteur was gevolglik aanspreeklik, maar wat van die eienaar van die eiendom wat die kontrakteur in diens geneem het?
Regtens is jy nie outomaties aanspreeklik vir jou kontrakteur se nalatigheid nie, maar jy moet wel “die nodige sorg aan die dag lê wat die omstandighede vereis”. Die hof bevind dat die prinsipaal sy agent kies en hom as 'n betroubare persoon voorhou, en nie die ander party by 'n kontrak wat geen sê in hierdie keuse het nie, en gevolglik is dit die prinsipaal wat hier die risiko moet dra. Die hof bevind dat beide die kontrakteur en die eenheid se eienaar aanspreeklik is vir “die nalatige versuim en/of optrede aan die kant van hul agente/werknemers”.
In elk geval het beide die agent se gebrek aan optrede en die optrede van die twee werkers gesamentlik bygedra tot die elektriese skokke van die minderjarige seun. As enige van hulle opgetree het soos wat hulle moes, sou die minderjarige nie die elektriese skokke ervaar het nie.
Jy loop die risiko vir die optrede van enige kontrakteurs en werknemers op jou eiendom, so maak dubbel seker dat hulle bekwaam en betroubaar is.
Wanneer sal die regspersoon aanspreeklik wees?
'n Regspersoon loop net soveel gevaar om gedagvaar te word as enige individuele eienaar in 'n saak soos hierdie. Die regspersoon is hier waarskynlik ook gedagvaar omdat dit ‘n "gemeenskaplike" kraan was en dus onder die beheer van die regspersoon val.
Die kompleks se sekuriteitsbeamptes het van die situasie bewus geword toe hulle die teenwoordigheid van die werkers in die kompleks bevraagteken het. Die eis teen die regspersoon het egter misluk, aangesien die getuienis was dat die regspersoon nie die kind se elektriese skokke sou kon voorsien het nie. Die regspersoon het geen plig gehad om iets te doen terwyl dit onbewus was van die gevaarlike situasie nie. Daar was nog nooit voorheen enige probleem met die elektriese situasie nie en wat gebeur het, was dus nie redelikerwys voorsienbaar nie. Toe die gevaarlike situasie wel onder die regspersoon se aandag gebring is, het dit dadelik opgetree.
As 'n regspersoon, moet julle alle redelike stappe neem om te verhoed dat gevaarlike situasies in die kompleks in die eerste plek ontstaan. Indien dit wel ontstaan moet julle onmiddellike stappe neem om enige situasie wat ontstaan en wat tot jul kennis kom, dadelik reg te stel!
Wat van die nalatige elektrisiën en die kousale verband?
Regtens is jy slegs aanspreeklik indien daar 'n kousale verband is tussen jou nalatigheid en die skade wat daaruit voortspruit. Jy kan dus soms aanspreeklikheid vryspring as daar ’n nuwe oorsaak tussenbeide tree, wat jou kousale verband met die gebeurtenis verbreek.
In hierdie geval was die elektrisiën se versuim om die herstelwerk behoorlik te doen 'n direkte oorsaak van die voorval. Maar die probleem is wel ontdek en onskadelik gemaak. Dit was totdat die twee werkers die elektrisiteit weer aangeskakel het, terwyl hulle geweet het dat hulle daardeur opnuut weer 'n gevaarlike situasie skep.
Hulle optrede was “ongewoon”, “onverwags” en nie “redelik voorsienbaar” en uit die oogpunt van die elektrisiën was daar nou ’n nuwe “ingrypende oorsaak” wat die kousale verband tussen sy nalatigheid en die skokke verbreek het. Die hof het die eis teen die elektrisiën gevolglik van die hand gewys.
Enige wesenlike onderbreking in die ketting van kousale verbintenisse kan tot jou redding kom as jy gedagvaar word. Maar moet eerder nie daarop reken nie!
Provided by Chennells Albertyn Attorneys
© DotNews. All Rights Reserved.