Wat staan jou te doen wanneer iemand na aan jou geen beheer oor hul besteding het nie?
“A prodigal is a person who, through some defect of character or will, squanders his or her assets with such abandon that he or she threatens to reduce himself or herself and/or her dependents to destitution”
'n Verkwister is ‘n persoon wat, as gevolg van een of ander gebrek in karakter of wil, sy of haar bates so verkwis dat hy of sy die gevaar loop om hom- of haarself en/of haar afhanklikes tot armoede te dryf” (Uittreksel uit die uitspraak hieronder soos vrylik vertaal.)
Wat kan jy doen wanneer iemand wat jy ken (dikwels ’n bejaarde familielid en/of iemand met ’n dobbel-, dwelm- of drankprobleem, maar nie altyd nie) hul geld en eiendom onverantwoordelik en roekeloos begin verkwis? Let daarop dat ons nie hier van 'n geestesongestelde persoon praat nie, maar van iemand "van gesonde verstand maar ongesonde gewoontes".
Die goeie nuus is dat jy nie hulpeloos hoef toe te kyk terwyl hulle hulself (en dalk selfs hul afhanklikes) tot in armoede dryf nie. Ons reg maak voorsiening vir 'n remedie in die vorm van 'n Hooggeregshofbevel, ingevolge waarvan die persoon tot 'n "verkwister " verklaar word. ‘n Kurator bonis word dan aangestel om die persoon se geldsake namens hom of haar te bestuur.
Dit is egter 'n drastiese stap, en jy sal 'n duidelike en sterk saak moet aanvoer om te slaag. Kom ons kyk na 'n praktiese voorbeeld -
Die “strawwe drinker” wat daarvan beskuldig is dat hy sy boedel op prostitute verkwis het
- Nadat ‘n "romantiese verbintenis" van dertig jaar versuur het en beëindig is, het een van die partye die ander gedagvaar vir R2 miljoen (of 50% van sy boedel),terugbetaling van R15,000, en onderhoud van R7,500 per maand. Aan die ontvangkant van hierdie eis was 'n 68- jarige “semi-afgetrede boekhouer” wat die eis verdedig het op grond daarvan dat hy en sy voormalige mede-inwoner nooit bedoel het om 'n gesamentlike boedel te skep of 'n vennootskap te vorm nie.
- Sy doen toe by die Hooggeregshof aansoek dat hy as 'n verkwister verklaar word en dat bevind word dat hy "onbekwaam was om sy eie sake te bestuur". Sy het beweer dat hy “gemanipuleer word en hulp nodig gehad het” en dat hy “besig was om sy boedel te verkwis en aan prostitute te gee”, tot haar nadeel. Sy het aangevoer dat hy reeds 'n "strawwe drinker" was, en dat sy "inname van alkohol op 'n daaglikse basis verdriedubbel het sedert hy by prostitute betrokke geraak het".
- Soos te wagte, het die man se weergawe drasties van hare verskil. Hy het erken dat hy meer as sy inkomste bestee het, maar het gesê dat dit "nie buitengewoon was nie". Hy het voorts ontken dat hy sy geld onverantwoordelik bestee het, en het aangevoer dat hy nie so roekeloos of verkwistend was as wat sy beweer nie. Volgens hom was die enigste verandering in sy drinkgewoontes dat hy sedert die aanvang van die pandemie by die huis begin drink het, eerder as by die kroeg. Hy het ook gesê dat hy "sy meisie en haar dogter as spesiaal beskou het en dat hy finansieel wou bydra tot hul welstand" en dat hy aangehou het om bydraes ten opsigte van haar finansiële behoeftes te maak, "soos hy nog altyd gedoen het, vir die afgelope 30 jaar”.
- Die Hof het die aansoek van die hand gewys en gesê dat om as 'n verkwister verklaar te word, "een van die mees drastiese remedies in ons reg was vir die beskerming van 'n volwasse persoon.” Die remedie het ook “die potensiaal om inbreuk te maak op die persoon se grondwetlike regte soos menswaardighed, privaatheid en vryheid … 'n Hof sal nie 'n kurator bonis aanstel voordat die Hof absoluut daarvan oortuig was dat die pasiënt beskerm moet word teen finansiële verliese en verkwisting wat veroorsaak sou word omdat die pasiënt nie in staat was om sy eie sake te bestuur nie.” (Eie beklemtoning)
- Die onus (bewyslas) om jou saak te bewys is gewigtig, en berus by jou as die aansoeker. “Die aanstelling van ’n kurator behels ’n inbreukmaking op die betrokke persoon se reg om sy of haar eie sake te bestuur. Daar moenie ligtelik met hierdie reg ingemeng word nie, veral nie op grond van vae en ongegronde bewerings nie … 'n Behoorlike ondersoek na die geestestoestand van die beweerde pasiënt moet gedoen word voordat 'n hof met die reg van 'n volwassene om sy of haar eie sake te beheer, kan inmeng.”
- Die Hof se gevolgtrekking was dat daar geen werklike feitelike grondslag was wat die toestaan van die hofbevel regverdig het nie. Die aansoek is met koste van die hand gewys.
Provided by Chennells Albertyn Attorneys
© DotNews. All Rights Reserved.