Koop en verkoop van eiendom: hoe word die kostes tussen die partye verdeel?
“Risk comes from not knowing what you’re doing” (Warren Buffett)
Jy moet weet waarvoor jy jou inlaat wanneer jy eiendom koop of verkoop. Jy wil ook nie onkant gevang word met jou finansies nie. Jy moet daarom beplan en begroot vir die kostes wat op jou van toepassing is. Sommige uitgawes kan aansienlik wees en kom dikwels as ‘n verrassing as dit jou eerste eiendomstransaksie is; of as jou vorige transaksie lank terug was.
Die kontrolelyste hieronder is van ‘n algemene aard en kan gevolglik nie vir elke geval voorsiening maak nie. Dit bly ‘n goeie idee om spesifieke professionele advies in te win en kostekwotasies te kry voordat jy jou finansiële beplanning finaliseer.
Die koste wat jy as koper sal betaal.
Dit ‘n opwindende fase om jou eerste huis te koop. Dit kan egter gebeur dat jy uit onervarenheid, dalk nie ten volle begroot het vir die bedrae en uitgawes wat jy bykomend tot die koopprys moet betaal nie.
Een voorstel is om te begroot vir kostes van ongeveer 10% van die koopprys, maar hier is 'n lys om jou te help met jou eie berekeninge (ignoreer enige items wat nie op jou spesifieke aankoop van toepassing is nie) -
- Hereregte ('n belasting op die transaksie wat via SARS aan die staat betaalbaar is, tensy die verkoop aan BTW onderhewig is). Hereregte word volgens die eiendom se koopprys op 'n glyskaal bereken, en kan, afhangend van die koopprys – 'n aansienlike koste wees!
- Die toepaslike oordragfooie wat die transportbesorger vir hul dienste met die hantering van die oordrag gaan hef en wat die koper voor oordrag moet betaal.
- Die Aktekantoor se kostes.
- Verbandregistrasiefooie wat die bank se prokureurs gaan hef vir hul diens om jou as koper se nuwe verband oor jou toekomstige eiendom te registreer.
- Die bank se aanvangsfooi vir verband-/huislenings wat aan die bank betaalbaar is (die bank kan ook van jou vereis om bykomende lewensversekering uit te neem vir dekking en beskerming van jou huislening).
- Okkupasiehuur (“okkupasierente”) wat jy as Koper net gaan betaal as jy in die eiendom wil intrek, voordat die oordrag in die aktekantoor registreer.
- Pro-rata belastings, munisipale dienstegelde en heffings (indien van toepassing). Die koper sal hierdie bedrae, soos die okkupasiehuur, gewoonlik maandeliks vooruit moet betaal. (Dit gaan saam met die okkupasiehuur, as die koper voor die datum van registrasie in die eiendom wil intrek.)
- As jy in 'n gemeenskaplike kompleks (of dit nou onder ‘n Huiseienaarsvereniging of as ‘n deeltitel) gaan koop, gaan jy ook aanspreeklik wees vir die heffingsuitklaringsfooie van die regspersoon of die huiseienaarsvereniging; dit is bykomend tot die pro-rata heffings wat van toepassing mag wees.
- Onthou ook die ander kostes soos verhuisingskoste, telefoon- en internetverbindings, water- en elektrisiteitsdeposito's, en ander kostes om die huis binne en buite te kry soos wat julle dit wil inrig.
- Onthou ook om te begroot vir die deurlopende, maandelikse koste van eiendomsbesit –
eiendomsbelastings, heffings, munisipale dienste, versekering (vir die woning self en vir die inhoud), sekuriteit, instandhouding van die geboue (binne en buite) en van die tuine, soos van toepassing.
Wat is die kostes en uitgawes wat die verkoper sal moet betaal?
Hierdie is ‘n algemene lys. As verkoper kan jy enige van hierdie items wat nie in jou verkoopstransaksie van toepassing is nie, ignoreer-
- Eiendomsagent se kommissie (moenie die BTW komponent vergeet nie; dit is ‘n bykomende 15% op die kommissiebedrag).
- Die eiendom wat jy as verkoper aan die koper gaan oordra moet aan die minimum voorgeskrewe veiligheidstandaarde voldoen. Daarom is dit nodig dat jy as die verkoper die voorgeskrewe sertifikate van voldoening vir die eiendom verkry. Dit kan die volgende sertifikate vir die woning of eiendom insluit – sertifikate vir elektries, water, gas, elektriese heining, en dies meer. Wees daarop voorbereid dat die elektrisiën of loodgieter waarskynlik eers herstelwerk en opgraderings gaan moet doen, voordat die eiendom aan die veranderende regulasies gaan voldoen.
- Die kostes en uitgawes om die bank se verband by die aktekantoor te kanselleer (maak ook seker dat jy jou bank genoeg kennis gee van jou voorgenome kansellasie, gewoonlik moet jy ten minste 90 dae se kennis gee, om te verhoed dat jy ook 'n bykomende vroeë beëindigingsfooi aan jou bank moet betaal).
- As verkoper bly jy steeds verantwoordelik vir jou eiendomsbelastings en heffings, tot en met datum van oordrag.
- As jy in 'n kompleks woon, kan daar ander fooie aan jou regspersoon of Huiseienaarsvereniging betaalbaar wees.
Provided by Nelson Borman & Partners
© DotNews. All Rights Reserved.