Is jy werkloos en sukkel om jou verband- of kredietpaaiemente by te bring? “Krediet-lewensversekering” kan dalk tot jou redding kom
Krediet-lewensversekering is meer as net doodsdekking
Daarom moet jy onmiddellik uitvind of enige van jou kredietooreenkomste deur “krediet-lewensversekering” gedek word. Baie mense is nie eers daarvan bewus dat hulle hierdie dekking in plek het nie. En dié wat wel daarvan weet, mag dalk net die “lewens” gedeelte in die naam raaklees en dink: “Dit beteken niks vir my en my gesin nie. Ek is werkloos, nie dood nie.” Die goeie nuus is dat die meeste polisse ’n reeks van ander gebeurtenisse wat kan veroorsaak dat jy nie jou paaiemente kan betaal nie, ook dek – lees gerus hieronder vir meer hieroor.
Het jy dekking?
Jy mag dalk hierdie dekking in plek hê sonder dat jy daarvan bewus is. Dit word oor die algemeen vereis wanneer jy enige vorm van krediet uitneem. Dink byvoorbeeld aan verbande, motorfinansiering, kredietkaarte, kleinhandelkrediet (winkelkaarte, ens.) en dies meer.
Indien jy onseker is, gaan jou nuutste verbandstaat na. Kyk of daar enige aftrekkings van versekeringspremies is (dit word dalk “balansbeskerming” of iets soortgelyks genoem). Kontak dan die bank (of die relevante kredietverskaffer) en vra hulle om te kyk of daar sulke versekeringsdekking in plek is. Dit mag dalk nie van toepassing wees waar jy byvoorbeeld voorheen ’n ander lewenspolis aan die kredietverskaffer sedeer het nie.
Waarvoor word jy gedek?
Gaan die bepalings en voorwaardes van die betrokke polis na. Die Nasionale Kredietwet se Regulasies vereis die volgende minimum dekking (dit is van toepassing op kredietooreenkomste wat na 9 Augustus 2017 gesluit is)–
- Dood of permanente ongeskiktheid: Die uitstaande balans van jou totale verpligtinge word ingevolge die kredietooreenkoms gedek.
- Werkloosheid of onvermoë om ’n inkomste te verdien: Jy word gedek totdat jy werk kry of in staat is om ’n inkomste te verdien; ’n maksimum van 12 maande se paaiemente word gedek.
- Tydelike ongeskiktheid: Jy word gedek totdat jy nie meer ongeskik is nie; ’n maksimum van 12 maande se paaiemente word gedek.
Diegene wat vir hulself werk en pensioenarisse - kyk gerus na die dekking wat jul betrokke polisse bied en watter bepalings daarop van toepassing is.
Provided by DGA - Debra Gouws Attorneys
© DotNews. All Rights Reserved.