Testamente In Die Tegnologiese Era
Met die koms van die rekenaar en die gepaardgaande opkoms van die tegnologiese era, wat binne bereik van die meeste Suid-Afrikaners geplaas is, het die navigasieterrein van die lewe onherkenbaar verander. Elektroniese kommunikasie het die nuwe “skrif” geword. Handgeskrewe kwitansies, fakture en selfs ‘n brief om jou liefde teenoor iemand anders te verklaar, het ‘n rariteit geword. Die plek daarvan is lank reeds ingeneem deur EFT transaksies, e-pos en sosiale media om maar net ‘n paar voorbeelde te noem. Hierdie ontwikkeling is so algemeen, dat min mense wat daagliks in die milieu lewe, twee maal sal dink alvorens hulle dit sou gebruik om hul persoonlike sake daarop te verewig. Maar hoe raak dit die regsgeldigheid van jou testament? Sou jy doodgewoon jou rekenaar kon aanskakel, jou testament daarop kon tik, jou handtekening onderaan “copy” en “paste”, dit stoor in ‘n leêr wat na jou dood oopgemaak word en waaraan uitvoer gegee moet word? Dit klink tog so eenvoudig en heeltemal in lyn met ons alledaagse gebruike en ervaring van die tegnologie! Die Suid-Afrikaanse reg en met name die Erfreg, vra dat ons twee maal moet dink alvorens ons die bogenoemde weg wil neem. Huidiglik word elektroniese testamente, in watter vorm ookal, nie as ‘n geldige testament erken nie. Alhoewel die hoë hof die bevoegdheid het om ‘n elektroniese dokument as ‘n geldige testatement te aanvaar kan die proses om dit regsgeldig te verklaar baie tyd in beslag neem, duur kos en onnodige onsekerheid by die naasbestaandes van die afgestorwene veroorsaak. Die tegnologiese vooruitgang van vandag bied egter sy uitdagings. Die Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies 25 van 2002, poog om elektroniese transaksies moontlik te maak, asook om regsgeldigheid daarvan te bevorder. Ongelukkig sluit dié wetgewing testamente uit. Elektroniese testamente word dus nie in Suid-Afrika erken nie, alhoewel al meer mense gebruik maak van tegnologie om ‘n testament op te stel en daarmee die risiko loop dat dit nie as ‘n geldige testament aanvaar word nie. Formaliteitsvereistes geld steeds vir die opstel van ‘n testament en staan breed in die pad van die tegnologiese vooruitgang waaraan ons elke dag gewoond geraak het. Papier is en bly ongelukkig die primêre medium vir regsdokumentasie! Om aan die formaliteitsvereistes van die wet te voldoen is nie te ingewikkeld nie. Dit stel byvoorbeeld in heel eenvoudige taal dat die testateur,
Daar is egter ‘n paar voorbeelde in die Suid-Afrikaanse reg waar die hoë hof elektroniese dokumente as geldige testamente aanvaar het - In Van der Merwe v The Master was die applikant en die oorledene goeie vriende en het beide besluit om ‘n testament op te stel waarin hulle mekaar as enigste begunstigde benoem. Die oorledene stuur vir die applikant ‘n e-pos waarin sy testament vervat is vir goedkeuring, maar voordat daar aan die formaliteitsvereiste in artikel 2(1) van die Wet op Testamente voldoen is, het die opsteller van die testament gesterf. Die Hoogste Hof van Appél aanvaar die uitgedrukte dokument as testament en nie die elektroniese dokument wat bestaan het uit ‘n e-pos nie. In die saak, MacDonald and Others v The Master and Others, pleeg die testateur selfmoord, maar laat vier handgeskrewe notas op sy bedkassie agter. Die relevante nota vir die Erfreg het as volg gelees: “I, Malcolm Scott Macdonald, ID 5609065240106, do hereby declare that my last will and testament can be found on my PC at IBM under directory C:/WINDOWS/MYSTUFF/MY WILL/PERSONAL.” Die testateur was‘n rekenaardeskundige by IBM. Slegs die oorledene het toegang tot die rekenaar gehad en elke rekenaar het sy eie wagwoord gehad wat elke maand verander het. Die wagwoord was in ‘n geseëlde koevert veilig agter geslote deure bewaar. Nadat die dokument uitgedruk is, is die dokument van die rekenaar afgevee. Die uitgedrukte dokument het voor die hof gedien en nadat die omstandighede ondersoek is, is die uitgedrukte dokument as testament aanvaar. Uit bogenoemde blyk dit duidelik dat die tegnologie homself al meer opdring aan die reg en aandring om regsgeldigheid. Aangesien die artikel nie die voor en die nadele en die gevare van byvoorbeeld, vervalsing, van elektroniese testamente bespreek nie, volstaan dit met die aanbeveling om waar moontlik te hou by die formaliteitsbepalings soos hierbo uiteengesit. ‘n Goed opgestelde testament, uitgedruk op papier en oorspronklik geteken, bly huidiglik die norm en verskaf gemoedrus aan die testateur asook aan sy of haar naasbestaandes. Dit bly dus raadsaam om sorg dat jou testament behoorlik opgestel is deur ‘n kundige persoon. |
ANDRI BARNARD ASSOSIAAT PROKUREUR VAN ZYL KRUGER INGELYF |
Provided by Van Zyl Kruger
© DotNews. All Rights Reserved.