Verdrink Jy In Skuld? Kyk Na Hierdie Verweer
Die meeste vorms van privaatskuld verjaar na drie jaar (vir ‘n hofvonnis, belastingskuld en geregistreerde verbandskuld is die verjaringstydperk dertig jaar). Die verjaring wat loop kan egter op sekere maniere gestuit word. Indien jy die skuld weer erken, of gedeeltelike betaling maak of indien ‘n dagvaarding vir die verhaling van die skuld op jou beteken word, word die verjaring gestuit.
Die belangrike punt is dat skuldeisers (of skuldinvorderaars) tot op hede, skuld by jou kon invorder al het die skuld regtens al verjaar. Dit was dus deurentyd die skuldenaar se plig om die verweer van verjaring op te roep.
Nuwe beskerming vir die skuldenaar
‘n Wysiging van die Nasionale Kredietwet plaas ‘n verbod op die verkoping, invordering of aktivering van enige skuld wat regtens al verjaar het. Enige skuld waarop die Nasionale Kredietwet van toepassing is, is hieraan onderworpe. Die meeste algemene kredietooreenkomste word dus hierdeur geraak.
Indien die Nasionale Kredietwet van toepassing is, mag skuld wat reeds verjaar het nie aan enige skuldinvorderaar verkoop word nie; sodanige skuld mag ook glad nie meer deur die skuldeiser of deur ‘n skuldinvorderaar opgevra of afgedwing word nie.
Skuldeisers: Neem vroegtydig jou stappe.
Hierdie wetgewing dien ook as herinnering aan skuldeisers (en skuldinvorderaars) om bestaande skuldverpligtinge sonder versuim op te vra en af te dwing. Die belangrikste is seker om nie te lank te wag met die uitreiking van dagvaarding vir die verhaling van skuld wat agterstallig is nie. Hou veral in gedagte dat die dagvaarding nie net binne die drie jaar periode by die hof uitgereik moet word nie, maar dat dit ook daarna regtens op die skuldenaar beteken moet word, alles nog steeds binne die verjaringsperiode van drie jaar.
Provided by Wessels + van Zyl Inc
© DotNews. All Rights Reserved.