Eienaars, Kopers, en Agente: Verlore Titelaktes en Verbande – Neem Nou Aksie!
“He who hesitates is lost” (Engelse spreekwoord)
In Januarie 2019 is nuwe wysigings aan die Regulasies (van die Aktes Wet) vir die vervanging van verlore titelaktes (en soortgelyke dokumente soos verbande en notariële verbande) afgekondig. Die nuwe vereistes was omvangryk en sou op kort kennisgewing in werking getree het. Die inwerkingtreding is egter opgeskort as gevolg van wye kritiek daarop.
Die gewysigde regulasies is intussen weer gepubliseer wat op 1 Januarie 2020 in werking tree.
Eerstens, wat is ‘n “Titelakte”?
‘n Titelakte (ook genoem Transportakte of Akte van Transport) is die formele, wetlike bewys dat iemand die eienaar van ‘n eiendom is (in die “ou dae” het mense ook soms gepraat van “kaart en transport”). Die dokument bevat ook ander belangrike inligting oor die eiendom, onder andere ‘n volledige beskrywing en die grootte daarvan, name van vorige eienaars, verbande (vir lenings) wat teen die eiendom geregistreer is, voorwaardes, wetlike beperkings wat op die eiendom van toepassing is, en so aan.
Waarom is dit belangrik om dit op te pas en veilig te bewaar?
Sonder die oorspronklike titelakte kan jy nie die eiendom aan ‘n koper oordra nie. Indien jy jou eiendom verkoop, sal die oordragprokureur (aktebesorger) die oorspronklike titelakte benodig. (Indien daar ‘n verband oor jou eiendom geregistreer is vir ‘n banklening, en die lening nog nie afbetaal en gekanselleer is nie, sal die bank die titelakte as sekuriteit hou).
Dit is alles goed en wel indien jy die titelakte byderhand het, maar indien dit verlore is moet jou prokureur by die Aktekantoor vir ‘n gesertifiseerde, vervangende afskrif van die titelakte aansoek doen. Tot nou toe – en dit gaan vanaf 1 Januarie 2020 verander – was hierdie ‘n relatief vinnige en goedkoop proses. Dit het behels dat jy ‘n beëdigde verklaring aflê waarin jy as eienaar bevestig dat die titelakte na ‘n “deeglike ondersoek” nie gevind kon word nie, en dat die titelakte nie beswaar is, verpand is of deur iemand as sekuriteit gehou word nie. As alles volgens plan verloop, kan jy dan na ‘n paar weke en ‘n redelike fooi ‘n gesertifiseerde, vervangende afskrif van die titelakte, uitgereik deur die Aktekantoor, ontvang en die oordragproses kan voortgaan.
Neem nou aksie!
- Alle eienaars van eiendom (nie slegs aktiewe verkopers nie): Die nuwe prosedure wat op 1 Januarie 2020 in werking tree is gelukkig nie so omvangryk soos wat Januarie 2019 se aanvanklik voorgestelde proses was nie. Daar is wel ‘n publikasievereiste wat bygekom het. Jou prokureur moet nou eers ‘n “kennisgewing van voorneme om vir sodanige afskrif aansoek te doen publiseer. Die publikasie moet verskyn in ‘n uitgawe van ‘n nuusblad wat in omloop is in die gebied waarin die grond geleë is, en in die geval van ‘n notariële verband in ‘n uitgawe van een of meer nuusblaaie wat in omloop is in die gebied van elke registrasiekantoor waarin sodanige notariële verbande geregistreer is.” Enige “belanghebbendes” het dan twee weke om beswaar aan te teken teen die uitreiking van ‘n vervangende afskrif van ‘n titelakte of dokument wat in die aktekantoor geregistreer is.
Bo en behalwe hierdie bykomende uitgawe en komplikasie is daar egter ‘n belangriker punt om in ag te neem: die ekstra – en potensieël baie duur – vertraging. Die goeie nuus is dat die bykomende frustrasie en ekstra kostes vermy kan word indien jy nou aksie neem voordat die nuwe vereistes in werking tree.
Dus – dit maak nie saak of jy oorweeg om jou eiendom in die nabye toekoms te verkoop of nie – maak onmiddellik seker dat jy weet waar jou titelakte is, en indien jy dit nie kan opspoor nie, vra jou prokureur om dringend aansoek te doen vir ‘n gesertifiseerde, vervangende afskrif.
- Kopers: Jy en die verkoper is hier in dieselfde bootjie, aangesien nie een van julle wil hê dat daar onnodige vertragings in die oordragproses moet wees nie. Indien jy dus ‘n eiendom aankoop, stuur hierdie artikel aan vir die verkoper of die eiendomsagent met die versoek dat hulle bevestig dat die titelakte in hul besit is; indien nie, dat hulle onmiddellik stappe gaan neem om dit te laat vervang.
- Agente: Enige onnodige vertraging in die oordrag gaan vir jou en jou kliënt benadeel. Stuur hierdie artikel gerus aan almal op jou boeke wat ‘n eiendom besit (jy doen vir hulle en vir jouself ‘n guns).
- Banke en verbandhouers: Soos hierbo genoem, is die nuwe wysigings ook van toepassing op verlore verbandaktes, notariële verbande, geregistreerde huurkontrakte, houers van saaklike regte, ensovoorts, so die bogenoemde is eweweens op jou organisasie of op jou persoonlik van toepassing.
Die Aktekantoor sal vroeër as normaalweg in Desember sluit – dit is regtig nou die tyd vir aksie!
Provided by Wessels & Smith Inc.
© DotNews. All Rights Reserved.