Hoe Howe Feite en Fiksie van mekaar onderskei – die verhaal van Jaguars, Misleiding en Skadevergoeding
“Truth will out” (Shakespeare)
Jy wonder dalk of jy suksesvol sal wees in ‘n hofsaak, waar die twee partye se weergawes lynreg van mekaar verskil.
Hoe sal ‘n regter te werk gaan om te bepaal wat die ware stand van sake is? Dit is ‘n belangrike vraag, want selfs wanneer jy weet dat jy die waarheid vertel, moet die hof op die getuienis voor die hof ‘n bevinding maak. Die uitspraak is gekoppel aan die feite, die toepaslike regsbeginsels en natuurlik watter getuienis en bewysstukke voor die hof gelê word.
‘n Onlangse eis vir skadevergoeding vir bedrieglike wanvoorstelling dien as voorbeeld...
Iemand het ‘n Jaguar XF van R320,000 as ‘n Jaguar XFR van R1 miljoen verkoop
- ‘n Handelaar (deur ‘n beslote korporasie besit) het ‘n “Jaguar XFR” aan ‘n koper verkoop. Die koper het die koop deur ‘n bank gefinansier teen die prys van R985,139.29. Soos gebruiklik was die verkoopstransaksie van die handelaar na ‘n finansiële tussenganger, wat daarna die voertuig aan die bank verkoop het, wat dit op sy beurt ingevolge ‘n afbetalingsooreenkoms aan die koper verkoop het.
- Toe die koper versuim om betalings ingevolge die afbetalingsooreenkoms te maak, het die bank op die voertuig beslag gelê. Gedurende hierdie proses het dit onder die bank se aandag gekom dat die voortuig in werklikheid ‘n Jaguar XF was, en nie ‘n XFR, soos in al die dokumentasie aangedui nie.
- Hierdie feit het ‘n groot verskil gemaak, aangesien ‘n Jaguar XFR5.0 V8 S/C, soos die Hof aangehoor het, ‘n heel ander voertuig as die XF5.0 V8 was. In kort was die Jaguar XR ‘n aansienlik goedkoper soort Jaguar voertuig as die Jaguar XFR.
- Die bank het sy ooreenkoms met die tussenganger as gevolg van wanvoorstelling gekanselleer en die tussenganger moes die R985,000 aan die bank terugbetaal.
- Die tussenganger het op sy beurt weer gepoog om sy verliese van die handelaar te verhaal. Die handelaar weier egter om ‘n sent terug te betaal, of om die voertuig terug te neem. Om sy verliese te beperk verkoop die tussenganger die XF vir R275,000 en dagvaar daarna die handelaar vir sy netto verlies van R710,000.
- Die twee weergawes van gebeure wat die handelaar en die tussenganger aangebied het was onversoenbaar met mekaar. Die getuienis wat die Hof aangehoor het, was ‘n interessante en ingewikkelde mengsel van beweerde vervalste handtekeninge, ongetekende dokumente, die geheimsinnige byvoeging van ‘n “R” wapen op die voertuig, en die openbaring dat die handelaar die spesifieke voertuig vir R320,000 aangekoop het enkele dae voordat dit vir R985,000 verkoop is.
Hoe het die Hof dit hanteer?
- Die Hof volg die tegniek wat algemeen deur howe toegepas word om feitegeskille te hanteer. Die Hof som dit as volg op:
- Die geloofwaardigheid van die verskeie getuies oor “die feite” van die saak;
- Hul betroubaarheid; en
- Die waarskynlikhede.
- Die geloofwaardigheid van die verskeie getuies oor “die feite” van die saak;
- Hierdie drie faktore is natuurlik nou aan mekaar verbonde. Die Hof sal hierdie faktore evalueer, en daardeur laat lei in die besluit oor of die party op wie die bewyslas rus om ‘n feit of feite te bewys, wel daarin kon slaag om dit te bewys. Hierin is daar ‘n duidelike bloudruk vir enige litigant wat wonder of sy of haar weergawe van gebeure waarskynlik as ‘n feit aanvaar gaan word, en of dit as fiksie verwerp sal word.
- In hierdie saak is die “Ons het niks verkeerd gedoen nie” getuienis wat namens die handelaar deur die beslote korporasie se lid en voormalige lid aangebied is, deur die Hof verwerp. Die hof verwys na die algemene waarskynlikhede en ook na belangrike veranderinge in hul storie, soos wat die hofsaak gevorder het. Die hof merk byvoorbeeld dat daar gedurende kruisondervraging ‘n drasties verskillende weergawe aangevoer is oor hoe die transaksie ontstaan het. Die weergawe in die aanvanklike hofstukke en die latere weergawe in die getuiebank het hemelsbreed verskil.
- Die eindresultaat – die Hof beslis dat die lid ‘n wanvoorstelling gemaak het, terwyl hy goed geweet het dat dit vals was. Hy het op bedrieglike wyse aangedui dat die voertuig ‘n Jaguar XFR en nie ‘n Jaguar XF was nie. Die Hof het ook beslis dat die voormalige lid gesamentlik verantwoordelik was vir die bedrieglike wanvoorstelling en al drie (die lid, voormalige lid en die handelaar) is gesamentlik en afsonderlik aanspreeklik gehou vir skadevergoeding van R710,139.29 plus rente en koste.
Provided by Wessels & Smith Inc.
© DotNews. All Rights Reserved.