Veiligheidslandgoed en Vesel – die kompleks kan wel Telkom se infrastruktuur gebruik.
“Reliable electronic communications go beyond just benefiting the commercial interest of licensees to the detriment of ownership of property. The statute [Electronic Communications Act] is designed to avoid this no-winner conflict. What it seeks is to bring our country to the edge of social and economic development for rural and urban residents in a world in which technology is so obviously linked to progress.” (Uittreksel geneem uit ‘n ander uitspraak van die Grondwetlike Hof wat in hierdie hofsaak met goedkeuring aangehaal is.)
As jy dit nog nie gedoen het nie, dink jy dalk al aan “supervinnige breë band” internet wat veselkabels vir jou bied. Telkom se bestaande aanbod van ADSL gaan saam met hul kopernetwerk tot ‘n einde kom; Telkom beplan om ADSL kliënte oor te skuif na vesel (waar dit reeds beskikbaar is) of anders na LTE.
In ‘n gemeenskapskema moet die veselverskaffer verkieslik die bestaande ondergrondse infrastruktuur gebruik. Anders moet hulle dadelik wegspring om nuwe infrastruktuur, pyplyne en toegangspunte te installeer. Die tweede opsie is baie duidelik ‘n duur en ontwrigtende proses.
Telkom was gevolglik in 2017 hoogs in hul noppies toe die Hooggeregshof in hul guns bevind het. Vodacom en die Huiseienaarsvereniging is beveel om ongestoorde en uitsluitlike besit van die ondergrondse pyplyn in die residensiële kompleks aan Telkom te herstel.
Dit was egter net die eerste rondte. Die Huiseienaarsvereniging en Vodacom het hierdie beslissing na die Appèlhof geneem en hierdie keer was hulle suksesvol.
Die kompleks en die koperkabels
-
Die betrokke kompleks is ongeveer 20 jaar gelede ontwikkel. Die ontwikkelaars het daardie jare al vir Telkom versoek om telekommunikasiedienste aan die ontwikkeling te bied. Die ontwikkelaar het die infrastruktuur volgens Telkom se planne en onder Telkom se oorsig gebou en geïnstalleer.
-
Die korrespondensie van daardie tyd dui daarop dat Telkom voorsien het dat die infrastruktuur vir Telkom se uitsluitlike gebruik gereserveer sou wees. Telkom het in elk geval oor die jare volle toegang tot die infrastruktuur gehad vir instandhouding en vir modernisering.
-
Telkom het ‘n aanbod aan die huiseienaarsvereniging gerig om vesel in die kompleks te installeer. Dit is van die hand gewys en ‘n kontrak is met Vodacom gesluit om vesel in die bestaande pyplyn te installeer. Telkom het die hof suksesvol genader vir ‘n spoliasiebevel om hul ongestoorde besit van hul infrastruktuur aan hulle te herstel.
- Op Appèl word die bevinding omgekeer. Die Appèlhof bevind dat Telkom se gebruik van die infrastruktuur en pyplyn en kabels glad nie ingeperk is nie. Telkom het nog steeds volle toegang en gebruik van die pyplyn. “Telkom’s actual use of the ducts, cables and its service to its customers remains undisturbed. It has not lost possession of anything. It remains entitled to enter into [the estate] for the purposes set out in s 22 [of the Electronic Communications Act] and its network remains fully functional as it was prior to Vodacom’s conduct. There was accordingly no spoliation.” Die aanvanklike spoliasiebevel word gevolglik ter syde gestel.
Die uitspraak is redelik tegnies en handel breedvoerig oor servituutregte, quasi-besitsregte en oor die bepalings van die Wet op Elektroniese Kommunikasie. Die belangrikste vir Huiseienaarsverenigings en regspersone van Deeltiteleenhede is dat dit nou makliker is om vesel in die kompleks te verkry en om die veselverskaffer van julle keuse aan te stel. Solank as wat Telkom se gebruik van die bestaande infrastruktuur nie belemmer word nie, kan die veselverskaffer van julle keuse nou die surpluskapasiteit in die reedsbestaande infrastruktuur tot voordeel van die inwoners gebruik.
Provided by Wessels & Smith Inc.
© DotNews. All Rights Reserved.