Werkgewer teen Werknemer: Kan jy getuienis gebruik wat met dreigemente van vervolging verkry is?
“… you are going to be a very sorry man you (sic) probably going to sit in jail tonight” (die dreigement wat aangehaal is in die uitspraak hieronder.)
Wanneer ons dink aan werkgewers en werknemers wat in ‘n hofstryd betrokke is, dink ons gewoonlik aan arbeidsdispute – van stakings en dissiplinêre verhore, tot onbillike afdanking en diesmeer.
Soms eindig hierdie arbeidsdispute ook in gewone siviele howe. Veral waar siviele eise ook ingestel word. ‘n Interessante Appèlhofsaak verskaf hier ‘n goeie voorbeeld.
‘n Beskuldigde diamantdief word gedagvaar vir R6 miljoen
-
‘n Aanleg het mynafval verwerk met die doel om growwe diamante te vind en te verkoop. Die aanleg het ‘n Finale Verhalingsbestuurder in ‘n senior vertrouensposisie aangestel.
-
Opnames van die werkplek se kringtelevisie het daarop gewys dat die bestuurder diamante gesteel het.
-
Die bestuurder is hiermee gekonfronteer. Die bestuurder het ‘n skulderkenning gemaak, wat op video opgeneem is, hy het ‘n skriftelike skulderkenning van R5 miljoen onderteken, hy het R530 000 in kontant oorbetaal as gedeeltelike terugbetaling en hy het saamgewerk om ander gesteelde diamante vir die maatskappy weer terug te vorder.
-
Hy het later vir sy werkgewer ‘n afskrif van sy volle skulderkenning aan die SAPS gegee. Hy het ook ingestem om ‘n tweede onderhoud op video te laat neem.
-
Hy is strafregtelik vervolg, maar hy is vrygespreek nadat die strafhof bevind het dat sy verklaring aan die polisie nie vrylik en vrywilliglik gemaak is nie. Die kringtelevisie opname was nie in die strafsaak ingedien nie. Dit is vreemd aangesien die siviele hof later bevind het dat dit die bewyse van die diefstal bevat.
-
Die werkgewer het die bestuurder gedagvaar vir die verhaling van R6,015 miljoen. Die bestuurder het beswaar gemaak teen die toelating van die getuienis van sy verskeie skulderkennings, erkennings en verklarings op grond van onregmatige dwang.
- Die Hoë Hof het die bestuurder se skulderkennings en erkennings en verklarings as getuienis aanvaar. Hierdie besluit en bevinding is later deur die Hoogste Hof van Appèl gehandhaaf.
Die waarheid kom uit nadat die bestuurder gedreig is.
Tydens die eerste onderhoud het die bestuurder aanvanklik alle aantygings van diefstal ontken. Hy het egter wel met die sak patats vorendag gekom toe hy gekonfronteer is met dreigemente van arrestasie, vervolging en slegte publisiteit indien dit sou uitkom dat hy leuens sou vertel.
Die Hoogste Hof van Appèl bevind dat:
-
Die toelating van getuienis in strafsake staan natuurlik op ‘n heel ander voet as in siviele sake, ook omdat ‘n strafsaak te make het met ‘n stryd waarin die mag van die Staat opgeweeg word teen die mag van die individu. ‘n Slegte uitkoms vir die beskuldigde mag gevolglik lei tot die verlies van sy of haar vryheid. Die hof beklemtoon dat die gevolge van so ‘n strafsaak glad nie vergelyk kan word met die uitkoms in ‘n siviele saak nie.
-
Die hof verklaar verder dat ‘n werkgewer nie alleen daarop geregtig is om werknemers te konfronteer met aantygings van wangedrag nie, maar is ook daarop geregtig om dit te doen nog voor ‘n formele dissiplinêre verhoor gehou word. Een van die stelreëls van ons regstelsel is hier van toepassing – audi alteram partem - albei kante van die saak moet aangehoor word.
-
Daar was geen dreigemente van fisiese geweld of enige iets onwettigs nie.
-
Dit wat die werknemer gesê het direk voor die werknemer skuld erken het was nie afpersing nie, dit was ook nie contra bonos mores nie (teen die goeie sedes) – dit het ook nie tot gevolg gehad dat die werkgewer iets uitgelok het waarop hy nie andersins geregtig was nie. Die teenoorgestelde is eerder die geval.
- Die hof verklaar dat selfs in ons strafprosesreg sal ‘n uitnodiging om die waarheid te praat, nie ‘n skulderkenning uitsluit nie. ‘n Dreigement van moontlike arrestasie word eweneens nie as onbehoorlike beïnvloeding beskou nie. Uiteindelik moet daar net gelet word of daar enige redelike risiko van ‘n vals skulderkenning is.
Die bestuurder het dus nie daarin geslaag om te bewys dat sy skulderkenning op onbehoorlike wyse deur dwang of intimidasie verkry is nie. Hy kon ook nie daarin slaag om te bewys dat daar op sy grondwetlike reg op ‘n regverdige verhoor inbraak gemaak is nie.
Elke saak moet soos altyd op die spesifieke feite hanteer word. In uiterste gevalle mag agressiewe dreigemente van vervolging en/of dreigemente van slegte publisiteit wel onregmatige dwang daarstel. Dit bly goeie praktyk om regsadvies te verkry voordat jy enige aantygings maak, of staat maak op erkennings wat vloei uit sulke aantygings.
Provided by Kramer Villion Norris - KVN
© DotNews. All Rights Reserved.