Werknemer: Jou nuwe regte op Vaderskap en Ouerlike verlof
“People who say they sleep like a baby usually don't have one” (Sielkundige Leo J Burke)
‘n Jaar van vertraging en verwarring oor wanneer die nuwe veranderinge in werking gaan tree, het reeds verloop. Gelukkig het jou uitgebreide regte tot ouerlike verlof en op ‘n eis teen die Werkloosheidversekeringsfonds (WVF) nou uiteindelik ten volle in werking getree.
Hier volg ‘n oorsig van die bepalings -
- Nuwe moeders is steeds geregtig op vier agtereenvolgende maande se kraamverlof.
- Nuwe “ouers” (wat vaders en selfdegeslag lewensmaats/gades insluit) is geregtig op 10 agtereenvolgende dae se “ouerlike verlof”.
- ‘n Aannemende ouer van ‘n kind onder die ouderdom van twee jaar is geregtig op 10 agtereenvolgende weke se aannemingsverlof. In die geval waar daar twee aannemende ouers is, is die ander ouer slegs geregtig op die 10 agtereenvolgende dae se “ouerlike verlof” (die twee aannemende ouers moet onderling ooreenkom oor wie die 10 weke en wie die 10 dae verlof gaan neem).
- Opdraggewende ouers in ‘n surrogaat-moederskapsooreenkoms is op dieselfde verlof as aannemende ouers geregtig.
- Die reg verplig nie jou werkgewer om vir jou betaalde verlof te gee nie – ingevolge die bogenoemde is jy slegs geregtig op onbetaalde verlof. Indien jou dienskontrak dus nie bepaal dat jy op betaalde verlof geregtig is nie, sal jy beperk wees tot ‘n eis teen die WVF (dit is indien jy ‘n kwalifiserende bydraer is). Daardeur kan jy 66% van jou salaris ontvang, onderhewig aan die standaard beperking op die verdiendstebedrag.
En ‘n nota aan werkgewers: indien jy dit nie alreeds gedoen het nie, verkry nou advies oor die hersiening van jou beleid oor kraam- en ouerlike verlof.
Provided by Wessels & Smith Inc.
© DotNews. All Rights Reserved.