Agterstallige Onderhoud? Kan jy dit afdwing met Minagting van die Hof ?
As dit kom by die beskerming van die belange van kinders, maak ons wetgewing voorsiening vir ‘n hele aantal opsies by die afdwinging van ‘n onderhoudsbevel. Een van die opsies is om die hof te versoek om die wanbetaler tronk toe te stuur vir minagting van die hof.
Die idee daaragter is dat ‘n werklike dreigement om in die tronk te eindig, waarskynlik voldoende motivering sal wees dat selfs die mees onwillige onderhoud ontduiker vinnig ‘n plan vir ‘n betaling sal maak.
Hoe werk dit en wat moet jy bewys? ‘n Hooggeregshof beslissing dien as voorbeeld –
“Betaal of gaan tronk toe” – wat jy moet bewys
-
Die Hooggeregshof het ‘n man beveel om sy vrou R10 000 per maand te betaal in onderhoud vir haar en hul minderjarige seun, hangende die afhandeling van hul uitgerekte egskeiding.
-
Nadat hy ‘n bedrag van R393 500 opgeloop het in agterstallige onderhoud, het die vrou die hof versoek dat hy (op ‘n periodieke basis) tronk toe gestuur moet word op grond van sy minagting van die hof.
-
Die hof was glad nie beïndruk met die man se pleit van armoede nie en het daarop gewys dat ons reg nakoming van hofbevele vereis. Ongeag of hul reg of verkeerd toegestaan is, ‘n hofbevel moet nagekom word totdat dit ter syde gestel is. Indien die man werklik nie in staat was om die onderhoud te betaal het nie, moes hy die hof genader het vir ‘n wysiging en vermindering van die onderhoudsbevel.
-
Indien jy met ‘n aansoek vir minagting van die hof wil slaag sal jy beide die volgende bo redelike twyfel moet kan bewys:
-
Doelbewuste en opsetlike verontagsaming van die hofbevel; en
- Dat die optrede “male fide” (in slegte trou) was; opsetlik en doelbewus om inbreuk te maak op die hof se waardigheid, aansien en gesag.
-
- Die hof bevind dat die vrou wel suksesvol daarin geslaag het om die vereiste feite te bewys. Die hof beveel die man om binne 30 dae die uitstaande R393 500 te betaal, tesame met ‘n uitstaande R161 000 se bydrae tot koste, opgeloopte rente en regskoste op die bestraffende “prokureur en kliënt” skaal. In die geval waar hy nie aan die bevel voldoen nie, sou dit beteken dat hy 30 dae oor naweke (vanaf 17:00 Vrydae tot 07:00 Maandae) in ‘n tronksel moes deurbring.
Provided by Van Zyl Kruger
© DotNews. All Rights Reserved.