Skuldeisers En Skuldenare: Belangrike Uitspraak Oor Verjaring
Dit is belangrik om te weet dat verjaring in seker gevalle opgeskort kan word. Dit is byvoorbeeld in gevalle waar die skuldenaar ‘n minderjarige is, geestesversteurd is, onder kuratorskap is, of hom buite die grense van Suid-Afrika bevind.
Verjaring kan ook “gestuit” word. Die mees algemene voorbeeld hiervan is deur ‘n dagvaarding op die skuldenaar te beteken of indien die skuldenaar ‘n uitdruklike of stilswyende skulderkenning maak. Dit is hierdie laaste voorbeeld wat ons gaan bespreek, omdat dit die beste geleentheid aan skuldeisers bied om die verjaringsperiode te verleng. Dit hou ook ‘n gevaar in vir enige skuldenaar wat geduldig wag vir sy skuld om te verjaar. ‘n Uitgeslape skuldenaar sal daarom alles moontlik doen om enige vorm van skulderkenning te vermy.
Ons Hoogste Hof van Appèl het pas ‘n betekenisvolle kinkel in die kabel gelaat en beide skuldeisers en skuldenare behoort hiervan kennis te neem. Die beslissing handel oor die beginsel dat daar gedurende skikkingsonderhandelinge “sonder benadeling van regte” erkennings gemaak kan word. Die idee hieragter is dat kostes, gesloer, vyandigheid en die ongerief van litigasie dalk vermy kan word. Die partye word dus aangemoedig om openlik te praat en te onderhandel, sonder die vrees dat wat onderhandel word, later teen hulle in die hof gebruik sal word. Tot nou toe was die enigste uitsondering hierop dat ‘n “daad van insolvensie” wel bewys kon word deur te verwys na ‘n skuldenaar se onderhandelinge al was dit sonder benadeling van regte.
‘n Eiendomsagentskap het kommissie van R 2 147 000.00 van ‘n eiendomsontwikkelaar geëis. Op sy beurt het die ontwikkelaar verskeie teeneise in totaal van R 1 023 000.00 van die agentskap geëis. Die ontwikkelaar het gedurende skikkingsonderhandelinge erken dat hy die kommissie verskuldig was. Hy het voorgestel, op ‘n sonder benadeling van regte grondslag, dat die twee stelle eise teen mekaar verreken word. Hy bied dan aan om die netto balans aan die agentskap oor te betaal.
Die agentskap het die skikkingsvoorstel van die hand gewys en ‘n hofstryd het gevolg. In die hof het die ontwikkelaar in sy verweer aangevoer dat die meeste van die agentskap se eise reeds verjaar het, aangesien hul ouer as drie jaar was. Die Appèlhof het hierdie verweer verwerp. Die hof bevind dat die drie jaar verjaringsperiode deur die ontwikkelaar se skulderkenning onderbreek is, ten spyte daarvan dat sy skikkingsaanbod uitdruklik sonder benadeling van regte gemaak is.
Hierdie is ‘n nuwe wending in ons regsbeginsels rondom skikkingsaanbiedinge en beide skuldeisers en skuldenare moet hiervan kennis neem. Skuldeisers moet sien dat daar ‘n geleentheid bestaan om verjaring uit te stel en skuldenare moet besef dat dit inderdaad gevaarlik kan wees om agter die gewaande skild van “sonder benadeling van regte” te skuil.
Hier was die eindresultaat dat die eise nie verjaar het nie. Die ontwikkelaar kon hom nie op verjaring beroep nie en hy moes in die hoofaksie voortveg.
Neem kennis dat hierdie nuwe uitsondering tot die sonder benadeling van regte reël beperk word tot die onderbreking van verjaring. Erkennings wat tydens onderhandelinge gemaak word - sonder benadeling van regte - kan steeds nie gebruik word om te bewys dat iemand geld skuld nie, of om te bewys wat die bedrag van die skuld is nie. Die erkenning kan slegs gebruik word om die verjaring te onderbreek, en selfs dan is dit beperk, soos die hof dit gestel het:
“The exception itself is not absolute and will depend on the facts of each matter. And there is nothing to prevent the parties from expressly or impliedly ousting it in their discussions.”
Provided by Van Zyl Kruger
© DotNews. All Rights Reserved.