Jou eis kan verjaar. Maak seker dat jy vertroud is met die verskillende gevalle van verjaring.
“Ignorantia iuris nocet” (‘n Romeinse spreekwoord wat bevestig dat onkunde oor die reg baie skadelik kan wees.)
Die meeste van ons is bewus daarvan dat mens ‘n eis betyds moet indien, anders kan jy jou eis as gevolg van verjaring in geheel kwyt wees.
Wat daarvan as jy niks gedoen het nie omdat jy nie eers geweet het dat jy wel ‘n eis teen iemand het nie.
Die Grondwetlike Hof het onlangs oor so ‘n geval uitspraak gelewer. Die ondersoek is oor die bron van jou onkunde.
‘n Eis vir skade as gevolg van onregmatige arrestasie
-
‘n Suid-Afrikaner wat in ‘n landelike gebied woon is gearresteer. Die polisie het hom vir vier of vyf dae aangehou, waarna hy vrygelaat is.
-
Jare later het hy die aangeleentheid met sy buurman bespreek. Die buurman was ‘n prokureur en eers op hierdie stadium het hy verstaan dat hy ‘n eis vir onregmatige arres en aanhouding teen die polisie kon indien. Hy het die Minister van Polisie vir skadevergoeding van R350 000 gedagvaar. Die Minister opper dan die ooglopende verweer van verjaring teen die eis.
- Die hof bevind dat die eis inderdaad verjaar het en nie meer afgedwing kan word nie. Die hof vra of die eiser se onkunde oor sy reg om ‘n eis in te stel gebaseer was op die feite of oor die reg.
As jy onkundig oor die feite is…
Verjaring kan eers begin loop wanneer jy kennis het oor die identiteit van die skuldenaar en oor die feite waarop die eis berus.
As jy dus onkundig is oor die feite waarop jou eis gebaseer is, sal verjaring gestuit word totdat jy die ontbrekende inligting verkry. Jy moet egter redelik optree. Jy sal geag word die nodige inligting te hê, indien jy die inligting deur redelike navrae en met redelike ondersoek self kon verkry.
Wat van onkunde oor die regsituasie?
Die eiser het nie geweet dat hy ‘n eis teen die Minister van Polisie kon indien, voordat dit te laat was nie. Hy het nie geweet dat indien jy gearresteer word, jy binne 48 uur voor ‘n hof gebring moes word nie.
Hy was onskuldig, onkundig en oningelig oor die regsposisie en die gevolge daarvan.
Hy was dus onkundig daaroor dat die optrede van die polisie onregmatig was en dat hy ‘n eis teen hulle kon indien.
Hierdie onkunde is onkunde oor die regsposisie en nie oor die feitelike posisie nie. Onkunde oor die reg stuit egter nie verjaring nie en gevolglik het sy reg om ‘n eis teen die polisie in te stel verjaar.
Remedie
Dit klink dalk onregverdig en hierdie saak is een wat simpatie wek. Dit is wel nodig om sekerheid en stabiliteit by mense en instellings te skep oor sosiale en regskwessies. Die Grondwetlike Hof het die laaste sê. Jy kan jou nie beroep op jou onkunde oor die regsituasie as dit by verjaring van ‘n eis kom nie.
Daar is eintlik net een manier om dit te verhoed. Verkry so gou moontlik regsadvies.
Provided by Van Zyl Kruger
© DotNews. All Rights Reserved.