Eks-gades en testamente
Artikel 2B van die Wet op Testamente bepaal dat “indien iemand te sterwe kom binne drie maande nadat sy huwelik deur ‘n egskeiding of nietigverklaring deur ‘n bevoegde hof ontbind is en daardie persoon voor die datum van sodanige ontbinding ‘n testament verly het, word uitvoering aan daardie testament gegee op dieselfde wyse waarop daaraan uitvoering gegee sou word indien sy voormalige gade voor die datum van die betrokke ontbinding oorlede is, tensy uit die testament blyk dat die erflater ondanks die ontbinding van sy huwelik bedoel het om sy voormalige gade te bevoordeel”.
In kort sê artikel 2B dat ‘n eks-gade in die eerste drie maande na die egskeidingsdatum gediskwalifiseer word om van sy/haar eks-gade te erf en sal hy/sy slegs op ‘n erflating geregtig wees indien dit duidelik uit die oorledene se testament blyk dat dit die oorledene se bedoeling was dat die geskeide persoon moet erf. As daar niks is wat duidelik daarop dui dat dit die oorledene se wil was nie, kan ‘n eks-gade nie daarop aanspraak maak nie.
Die Wes-Kaapse Hoë Hof het in die saak van Louw NO v Kock en ‘n andere 201 (3) SA 62 (WCC) meer riglyne gegee oor die interpretasie van dié artikel 2B. Die man en vrou het in 2004 ‘n gesamentlike testament verly waarin hulle mekaar benoem het as die enigste erfgename van mekaar se boedels. Hulle het op 17 Oktober 2014 geskei en die man is op 7 Januarie 2015 oorlede. Artikel 2B van die Wet op Testamente is dus in die geval van toepassing aangesien daar nog nie drie maande verloop het tussen die egskeidingsdatum en die datum van oorlye nie. Die gevolg is dat die eks-gade nie in terme van die oorledene se testament mag erf nie. Die eks-gade nader toe die hof.
Die eks-gade voer aan dat sy geregtig is om steeds van die oorledene te erf ten spyte van artikel 2B, maar die hof bevind dat die eks-gade slegs mag erf indien dit die oorledene se bedoeling was dat die eks-gade steeds moet erf. Die hof bevind dat dit nie die oorledene se bedoeling kon wees dat die eks-gade na hulle egskeiding moet erf nie, aangesien die testament bloot die langslewende as enigste erfgenaam aanwys. Indien die oorledene wel die bedoeling gehad het dat sy eks-gade moet erf, sou hy dit uitdruklik so bepaal het of ‘n nuwe testament verly het waarin hy haar as erfgenaam aanwys. Die hof bevind dus dat die eks-gade nie geregtig is om te erf nie, aangesien dit nie die oorledene se bedoeling was nie.
Die vraag na die grondwetlikheid van artikel 2B van die Wet op Testament het homself voorgedoen in die onlangse saak van J W v Williams-Ashman NO en andere (2020) ZAWCHC 27.
Die oorledene het ‘n testament in 2011 verly waarin sy die restant van haar boedel aan haar man bemaak het. Die partye is egter op 24 Oktober 2016 geskei en die oorledene is op 8 Desember 2016 oorlede. Artikel 2B van die Wet op Testamente is van toepassing aangesien daar nog nie drie maande verloop het tussen die egskeidingsdatum en die datum van oorlye nie en word die eks-gade dus in terme van die artikel nie toegelaat om te erf nie. Die eks-gade nader die hof en voer aan dat artikel 2B ongrondwetlik is aangesien dit inbreuk maak op sy grondwetlike reg om nie arbitrêr van eiendom ontneem te word nie, asook dat die algemene publiek nie bewus is van artikel 2B nie. Hy voer verder aan dat artikel 2B inbreuk maak op sy grondwetlike reg dat elkeen die reg het dat ‘n geskil, wat deur die toepassing van die reg besleg kan word, in ‘n billike verhoor voor ‘n hof beslis kan word.
Die hof neem die feit in ag dat die oorgrote meerderheid van mense nie hulle eks-gades wil bevoordeel in hulle testament nie en bevind dat die artikel 2B nie inbreuk maak op die grondwetlike regte van eks-gades nie. Die hof beklemtoon die feit dat die bedoeling van ‘n testateur/testatrise afgelei word van die bewoording van die testament en dat daar na die bedoeling van die testateur/testatrise ten tyde van die verlyding van die testament gekyk moet word. Die artikel 2B beperk ook nie ‘n eks-gade se reg om die hof te nader in sodanige geval om die bedoeling van die testateur/testatrise te bepaal nie.
Dit is dus uiters belangrik dat indien dit jou bedoeling is dat jou eks-gade steeds bevoordeel moet word in jou testament, dat jy die nodige wysiging aanbring sodat die bedoeling duidelik blyk. Dit is ook belangrik om daarop te let dat die artikel 2B net jou eks-gade vir drie maande na egskeiding diskwalifiseer om te erf. Sodra die drie maande verbly is en jy jou testament onveranderd laat, sal daar uitvoering gegee word aan jou testament en sal jou eks-gade geregtig wees om erf.
Dus, is dit uiters noodsaaklik om jou testament so gou doenlik na jou egskeiding te wysig, hetsy jy steeds jou eks-gade as erfgenaam wil aanwys of nie.
ANDRI BARNARD ASSOSIAAT PROKUREUR VAN ZYL KRUGER INGELYF |
Provided by Van Zyl Kruger
© DotNews. All Rights Reserved.