Direkteure en Bestuurders – Karteloptrede – Wye strafregtelike aanspreeklikheid
Dit lyk of die regering ernstig en vasberade is om enige kartelvorming en karteloptrede uit te wis. Die Wet op Mededinging is onlangs gewysig met ernstige strafregtelike gevolge vir enige oortreder. Daar is reeds voorsiening vir omvangryke strawwe vir enige maatskappy wat die wet oortree. Enige direkteur of bestuurder van ‘n besigheid wat aan ‘n verbode praktyk skuldig bevind word, staar ook nou persoonlike vervolging in die gesig. Die strawwe is ook ernstig, met maksimum boetes van R500,000 en moontlike gevangenisstraf van ‘n maksimum van 10 jaar.
‘n Verbode praktyk word omskryf as optrede tussen mededingers:
- waardeur ‘n koop- of verkoopsprys, of enige handelsomstandighede, direk of indirek, vasgestel word;
- waardeur markte verdeel word deur die toewysing van klante, verskaffers, handelsgebiede of spesifieke goedere of dienste;
- waardeur saamgespan word om tenders te verdeel.
Hierdie strawwe vir direkteure en bestuurders in hul persoonlike hoedanigheid is bykomend (en nie ter vervanging nie) tot enige strawwe en sanksies wat die onderliggende besigheid opgelê kan word.
Hier behoort direkteure en bestuurders nie enige kanse te vat nie. Verkry professionele advies voordat jy enige besluite neem wat in stryd is met hierdie wetgewing.
Provided by Kramer Villion Norris - KVN
© DotNews. All Rights Reserved.