Sekuriteitsmaatskappy in die visier: Die slaghuis as slagoffer
Wanneer jy ‘n sekuriteitsmaatskappy kontrakteer om jou alarm te monitor en om gewapende reaksiedienste te bied, betaal jy hulle om jou teen misdadigers te beskerm. Hoe gemaak as dit nie gebeur nie?
‘n Onlangse saak in die Hooggeregshof het hieroor gehandel.
Die alarm, die inbrekers en die bevestiging dat alles in orde is
-
‘n Groep geoefende misdadigers het by ‘n slaghuis ingebreek. Hulle het deur die dak toegang tot die slaghuis verkry en in die proses het hulle die alarm geaktiveer. Die inbrekers het die twee kluise met hoekslypers oopgesny. Hulle ontsnap en verdwyn in die niet van die nag met sakke vol kontant.
-
Die sekuriteitsmaatskappy was kontraktueel daartoe verbind om sekuriteitsdienste aan die slaghuis te lewer. Dit hou in “monitering, reaksie, verslagdoening en die onderhoud van sekuriteitsdienste”. Die maatskappy het die aand wel die alarmsein ontvang, wat aangedui het dat daar ‘n sekuriteitsbreuk in die dak of die plafon van die slaghuis was.
-
‘n Sekuriteitsbeampte is na die perseel gestuur. Hy het binne 2 ½ minute ‘n vinnige inspeksie van die perseel afgehandel. Hy rapporteer dan dat sover as wat hy kan sien, alles in orde is. Hy los dan ook ‘n briefie in die deur waarin hy bevestig dat hy kom ondersoek instel het na ‘n insident en dat hy alles in orde gevind het.
-
Die plek waar daar by die dak ingebreek is, was nie van die pad af sigbaar nie. Die sekuriteitsmaatskappy kon nie die bestuurder van die slaghuis, die eerste sleuteldraer, in die hande kry om toegang tot die perseel te verkry nie, omdat sy selfoon se battery pap was. Die maatskappy het geen poging aangewend om die tweede sleuteldraer, die eienaar van die slaghuis te kontak nie. Hulle het wel daarop gewys dat die eienaar hulle in die verlede baie duidelik en selfs op onbeskofte wyse laat verstaan het dat hy slegs in ‘n noodgeval direk gekontak kan word. Die eienaar het dit egter ontken en die hof was bereid om sy weergawe hieroor te aanvaar.
-
Op die betrokke aand het hierdie optrede van die sekuriteitsmaatskappy, die inbrekers in staat gestel om ongesteurd en sonder haas hul werk met die hoekslypers te kon klaarmaak. Die slaghuis het die sekuriteitsmaatskappy gedagvaar om hul skade te verhaal.
Die uitsluitingsklousules
Die hof bevestig dat die optrede van die sekuriteitsmaatskappy nalatig was en dat dit kontrakbreuk daarstel. Die hof oorweeg dan die maatskappy se betoog dat die twee uitsluitingsklousules hul teen hierdie eis beskerm:–
-
Die eerste uitsluitingsklousule bepaal dat daar geen aanspreeklikheid is nie, tensy die kliënt “nalatigheid … of pligsversuim” kan bewys nie.
- Die tweede uitsluitingsklousule was baie breed, in die vorm van ‘n algemene en algehele uitsluiting wat die sekuriteitsmaatskappy sou vrywaar teen enige aanspreeklikheid of verlies, ongeag hoe dit ookal ontstaan het.
Die hof bevind dat die klousules mekaar weerspreek en dat daar dus onduidelikheid hieroor bestaan. Die eerste, beperkte klousule moet dus gevolg word. Aangesien daar duidelike nalatigheid aan die kant van die sekuriteitsmaatskappy bewys is, beveel die hof die sekuriteitsmaatskappy om skadevergoeding aan die slaghuis te betaal, vir alle verwante skade wat die slaghuis kan bewys.
Die les vir sekuriteitsmaatskappye
Nalatige optrede soos hierdie sal ‘n diensmaatskappy se reputasie erge skade aandoen. Dan is daar ook die risiko van regsaanspreeklikheid.
-
Laat jou prokureur die diensooreenkoms deurgaan. Maak seker dat die ooreenkoms ‘n enkele, duidelike uitsluitingsklousule bevat. Let daarop dat wye, allesinsluitende uitsluitingsklousules moeilik raak om af te dwing. Vandag is daar erkende grondwetlike oorwegings, openbare beleid, goeie trou en die bepalings van die Verbruikerswet wat ter sprake kom. Die Verbruikerswet vereis dat kontrakte regverdig moet wees en dat dit billike en redelike bepalings moet bevat, terwyl enige uitsonderings of uitsluitings in eenvoudige taal uitdruklik onder die aandag van die verbruiker gebring moet word.
-
Tweedens, as jou ooreenkoms bepaal dat jy iets spesifieks moet doen, soos om met die alternatiewe sleuteldraer kontak te maak, as jy die eerste nie in die hande kan kry nie, moet jy hieraan voldoen. Indien daar staande instruksies gegee word wat strydig is met die ooreenkoms of diensvereistes, moet dit genotuleer word om bewys te word. Dit mag selfs nodig wees om die ooreenkoms aan te pas of om gewysigde instruksies in ‘n addendum te beliggaam. Vra jou prokureur vir advies en om hiermee van hulp te wees.
- Laastens, maak seker dat jul reaksie op ‘n alarm wat afgaan konsekwent toegepas word en ooreenstem met die ooreengekome optrede. Anders loop julle die risiko van ‘n bevinding van nalatigheid. In hierdie geval was die hof nie beïndruk met die sekuriteitsbeampte se gejaagde inspeksie van net oor die twee minute nie. Daar is selfs voorgestel dat dit meer van pas sou wees as hy met die inspeksie die perseel van ‘n aangrensende stegie sou benader het.
Die les vir kliënte
Ons het aangedui dat daar soms ‘n geleentheid is om die uitsluitingsklousules regtens aan te vat. Dit is egter nie altyd so maklik nie. Ons reg erken dat diensverskaffers geregtig is om hul, binne die raamwerk van die regstelsel, by ooreenkoms teen aanspreeklikheid te beskerm of ten minste te beperk.
Indien jy dus ‘n slagoffer van ‘n misdaad was te wyte aan jou sekuriteitsmaatskappy se nalatigheid, verkry regsadvies – dalk het jy ‘n eis!
Provided by Van Zyl Kruger
© DotNews. All Rights Reserved.