Lewensmaats: Wees gewaarsku teen die mite van ‘n gemeenregtelike huwelik.
Dit is nie die geval nie. Ons reg erken nie ‘n gemeenregtelike huwelik nie. Jy kan dus finansieel blootgestel wees indien jou lewensmaat jou verlaat of doodgaan. Die probleem is dat lewensmaats nie dieselfde regte en verpligtinge teenoor mekaar het as wat die geval is met huweliksmaats of persone wat ‘n formele burgerlike verbintenis geregistreer het of persone wat ‘n gebruiklike huwelik aangegaan het nie. In 2008 was daar wel ‘n wetsontwerp bekend as die “Domestic Partnerships Bill” gepubliseer, maar sedertdien lyk dit nie of hierdie konsep enigsinds verder gevoer gaan word nie.
Wat staan jou te doen?
Kom ons aanvaar jy wil nie formeel trou nie, jy wil nie ‘n burgerlike verbintenis registreer nie en jy gaan ook nie ‘n gebruiklike huwelik ingevolge erkende tradisionele voorskrifte sluit nie. Dan moet jy jou regsverteenwoordiger vir advies vra en opdrag gee om die volgende te hanteer –
- Met die insette van beide partye moet julle ‘n ooreenkoms opstel om jul saamwoonverhouding te reguleer. Dit moet ten minste jul ooreenkoms met mekaar, jul regsposisie en julle spesifieke finansiële reëlings uiteensit vir die tydperk -
- Vir solank as wat die verhouding duur, en
- In die geval van dood of in die geval van ander beëindiging van die verhouding. Kom dan voor die tyd met mekaar ooreen oor aspekte soos -
- Hoe gaan die partye se bates verdeel word?
- Gaan die partye geregtig wees om onderhoud te ontvang of verplig wees om onderhoud te betaal of soortgelyke ondersteuning te bied?
- Gaan daar enige finansiële aanpassing tussen die partye wees? Wat as net een lewensmaat werk? Wat as een betaal vir die ander se huisverband of betaal vir bouwerk wat op die ander se eiendom opgerig word?
- Wat gebeur met deurlopende verpligtinge soos huurooreenkomste, verbande, mediese dekking en lewenspolisse, maandelikse en ander herhalende betalings wat gemaak moet word?
- Enige ander belangrike aspekte wat julle voor die tyd moet reguleer. As daar kinders is, is dit natuurlik ‘n ooglopende aspek wat in detail gereguleer moet word.
- Maak seker dat jul testamente op datum is. Is daar voorsiening in jul testamente om die langslewende se posisie te beskerm indien dit in julle geval nodig is? Sonder ‘n testament geld die bepalings vir intestate vererwing. Dan het die langslewende lewensmaat geen aanspraak om te erf nie en ook geen aanspraak om onderhoud van die eerssterwende se boedel te eis nie. Jou testament moet deur ‘n kundige persoon opgestel word. Testamente wat onduidelik of onvolledig opgestel is of wat nie aan die formaliteitsvoorskrifte voldoen nie, gee ongelukkig aanleiding tot dispute en litigasie wat uit die staanspoor vermy kon gewees het.
Die risiko as jy niks doen nie
Sonder die voorgestelde ooreenkomste en sonder die voorgestelde testamente is jy onnodig op risiko. Jy sal geen reg op vererwing hê by afsterwe van jou lewensmaat nie. Indien die verhouding tot ‘n einde kom het jy slegs ‘n aanspraak op bates wat jy as jou eie kan bewys. Ongelukkig is ons hofverslae vol van gevalle waar lewensmaats sonder heenkome gelaat is, selfs waar hulle vir dekades in ‘n saamwoonverhouding betrokke was wat tot ‘n hartseer einde gekom het.
Indien jy in hierdie posisie verkeer, verkry regsadvies oor jou situasie–
- Is daar enige regsbeskerming vir jou? Daar is sekere wetgewing wat wel voorsiening maak vir lewensmaats – soos onderhoud vir kinders, mediese fondse, inkomstebelasting, boedelbelasting, pensioenfondse, asook beskerming teen huishoudelike geweld om die belangrikste voorbeelde te noem.
- In gevalle waar ons wetgewing nie erkenning gee aan die gelyke regte van lewensmaats nie, kan jy die een wees wat probeer om ‘n hof te oortuig dat die wetgewing ongrondwetlik verklaar moet word. Dit is ‘n lang en duur proses om te kies.
- Jy kan ook probeer om die hof te oortuig dat julle wel in ‘n universele vennootskap met mekaar getree het. Dit is moontlik maar moeilik; selfs al is jy suksesvol is daar geen waarborg dat die hof ‘n 50/50 verdeling sal beveel nie.
Provided by Van Zyl Kruger
© DotNews. All Rights Reserved.