Wanneer moet ek registreer as kredietverskaffer?
Dit is logies dat die sterk beskermingsmaatreëls wat die Nasionale Kredietwet (NKW) bied, ontwerp is om in ‘n kommersiële omgewing gebruik te word. Waar “kredietverskaffers” as geregistreerde besighede in ‘n kommersiële omgewing lenings en geld aan “kredietverbruikers” verleen.
Maar is die NKW ook van toepassing waar eenmalige, nie-kommersiële lenings ter sprake is? Wat van ‘n lening aan ‘n vriend of familielid? Hoe maak ons met eiendomsverkope?
Moet jy jou hieroor kwel?
Vir die van ons wat nie in die gewone loop van sake krediet aan ander verleen nie, klink dit soos ‘n teenstrydigheid dat daar van ons verwag word om ingevolge die NKW te registreer, selfs wanneer ons net eenmalig aan iemand geld leen of geld voorskiet. Verskillende afdelings van ons Hooggeregshowe was tot nou toe ook self verdeeld oor die antwoord op hierdie vraag.
Maar dit het alles verander ná ‘n onlangse uitspraak van die Hoogste Hof van Appèl. Indien jy veronderstel was om as kredietverskaffer te registreer, maar dit nie gedoen het nie, dan is die ooreenkoms wat jy gesluit het onregmatig en kan dit as ongeldig verklaar word. Die hele lening ingevolge só ‘n ooreenkoms sal dalk afgeskryf moet word.
‘n Familietwis en ‘n afbetalingsooreenkoms om aandele vir R2 miljoen te koop
- ‘n Egpaar het ‘n besigheidsman by hul besigheid betrek. Mettertyd het hulle hom as hul eie seun begin behandel. Hulle het voorsien dat hy uiteindelik die besigheid sou oorneem. Hy word oor tyd ‘n aansienlike aandeelhouer. Ongelukkig is daar 12 jaar later ‘n hewige uitval tussen die egpaar en die “seun”. Almal kom dan tot ‘n gemeenskaplike besluit dat dit beter sal wees as hul paaie skei.
- Die partye kom ooreen dat die besigheidsman sy belang in die besigheid aan die egpaar vir R2 miljoen sal verkoop. Hierdie bedrag is betaalbaar deur ‘n aanvanklike deposito van R500,000 deur die egpaar. Daarna sal hulle maandelikse paaiemente van R30,000 per maand betaal. Rente is betaalbaar op die uitstaande gedeelte en ‘n verband oor die egpaar se eiendom moet as sekuriteit dien.
- Die besigheidsman (in sy hoedandigheid as verkoper) het wel as ‘n kredietverskaffer geregistreer sodat hy die verband in sy guns kon laat registreer. Hy het dit gedoen nadat die kredietooreenkoms reeds onderteken is.
- So gebeur dit dat die besigheid finansieël begin swaar trek en die egpaar nie meer die paaimente kan bybring nie. Die verkoper dagvaar hulle vir die uitstaande bedrag van R1,13 miljoen. Die egpaar se verweer is dat die ooreenkomste tussen hulle nietig is aangesien daar nie aan die bepalings van die NKW voldoen is nie.
- Die Appèlhof beslis dat die verkoper reeds voor die sluiting van die ooreenkoms as kredietverskaffer geregistreer moes wees. Aangesien hy nie as ‘n kredietverskaffer geregistreer was nie, was die ooreenkoms ongeldig en het hy uiteindelik sy R1,13 miljoen verloor.
Wanneer is dit nie nodig om te registreer nie?
Is jy op risiko? Eerstens, die Nasionale Kredietwet bevat ‘n hele aantal algemene vrystellings en gevalle met beperkte toepassing. Dink aan “toevallige" kredietooreenkomste, rentevrye lenings, groter maatskappye en ooreenkomste (hier is afsnypunte van toepassing – verkry regsadvies oor die besonderhede).
Tweedens, die NKW is slegs van toepassing indien jy op ‘n “armlengte-grondslag” sake doen. Wat is die praktiese betekenis hiervan?
- Om mee te begin word sekere aandeelhouerlenings en lenings tussen familielede wat “interafhanklik” of “afhanklik” van mekaar is, uitgesluit van die werking van die NKW. Hier dink ons byvoorbeeld aan ouers wat hul dogter onderhou terwyl sy nog studeer, of ‘n dogter wat haar ouers onderhou.
- Dan is daar die wyer bepaling wat “enige ander situasie ... waarin elke party nie onafhanklik is van die ander nie en gevolglik nie noodwendig streef om die grootste moontlike voordeel uit die transaksie te verkry nie” uitsluit. Dit wil op die oog af voorkom asof lenings aan naby vriende ook uitgesluit word, maar dit is nie so eenvoudig soos dit nie.
Die uitlener in die saak hierbo kon natuurlik nie beweer dat hy in werklikheid ‘n familielid van die egpaar was nie. Hy het wel aangevoer dat hulle in ‘n verhouding “soortgelyk aan ‘n familieverhouding” met mekaar was, en dat hy nie die “grootste moontlike voordeel” uit die transaksie probeer verkry het nie. Dit sou beteken dat die NKW nie van toepassing sou wees nie. Die Appèlhof het egter nie hiermee saamgestem nie en beslis op die feite dat die verhouding tussen die partye vyandig en dreigend geword het voordat hulle die ooreenkoms onderteken het. Solank daar ‘n element van “onafhanklikheid” tussen jou en die skuldenaar is, is daar risiko vir die uitlener.
Buiten daardie spesifieke uitsluitings, moet jy ook onthou dat ‘n hof sal moet beslis of die partye op ‘n “armlengte grondslag” met mekaar sake gedoen het. Dit is maklik om jou hier in ‘n grys gebied te bevind.
Die verkoop van eiendom op uitgestelde betalings
Daar is ‘n besondere risiko vir die toenemende aantal verkopers wat instem om hul eiendomme op ‘n afbetalingsbasis te verkoop. Verkopers doen dit in ‘n poging om kopers in ‘n stil eiendomsmark te lok. Die transaksie behels dan afbetaling oor ‘n tydperk eerder as die standaard “betaal ten volle teen oordrag” basis. Wees op die uitkyk vir ‘n gewone “ons betaal ten volle” transaksie wat skielik verander in ‘n “ons betaal die res later” transaksie. Dit sal die geval wees as die koper se verbandlening slegs vir ‘n gedeelte van die koopprys goedgekeur word.
Indien enige van hierdie gevalle ter sprake is, is die kanse goed dat jy aan die NKW se verpliging om as kredietverskaffer te registreer moet voldoen, sowel as aan die streng vereistes van die Wet op Vervreemding van Grond. Jy benodig toegepaste regsadvies voordat jy instem om jou eiendom met enige vorm van “uitgestelde betaling” te verkoop.
Die gevolgtrekking
Totdat die NKW gewysig word om die posisie duideliker te maak, minder verwarrend en meer pragmaties te wees, kan ons net beklemtoon dat jy uiters versigtig moet wees wanneer jy aan enigiemand geld uitleen of voorskiet, hetsy in verband met ‘n eiendomstransaksie of andersins.
Vra jou prokureur vir raad oor jou spesifieke omstandighede – is jou geval een van die bogenoemde uitsluitings, of moet jy as kredietverskaffer registreer? Indien jy wel moet registreer, wees gereed vir rompslomp en vertragings!
Provided by Van Zyl Kruger
© DotNews. All Rights Reserved.