Begin jy met ‘n besigheid? Die besigheidstrust as ondernemingsvorm
Die spreekwoord lui: “Goed begin is half gewin” Of soos Mark Twain dit stel: “The secret of getting ahead is getting started”.
Dit klink na goeie raad van die skrywer van Tom Sawyer en Huckleberry Fynn. As jy ‘n lewensvatbare besigheidskonsep het en jy is uitgeknip vir die opwindende, besige lewe van ‘n entrepreneur, moet jy professionele advies inwin oor hoe om te begin.
Ons het gekyk na die private maatskappy in ons vorige artikel in die reeks “Kies die regte entiteit vir jou besigheid“. Hierdie is die laaste artikel in hierdie reeks en ons kyk na die positiewe en negatiewe aspekte van ‘n besigheidstrust.
Wat is ‘n besigheidstrust?
‘n Trust kan kortliks beskryf word as ‘n kontraktuele reëling tussen partye om trustees in staat te stel om bates tot voordeel van die trustbegunstigdes te beheer (sonder dat die partye die bates besit).
Die meeste trusts word gebruik om bates te besit en word nie nog gebruik om besigheid mee te doen nie. Die tipe trusts wat jy in hierdie konteks sal teëkom, sal gewoonlik lewende trusts wees. Bates word aanvanklik aan die trust voorsien deur ‘n oprigter, stigter of skenker. Die trustbates word dan, tot voordeel van begunstigdes, deur die trustees in hul amptelike hoedanigheid beheer en bestuur (nie in hul persoonlike hoedanigheid nie). Die trustees kan daarna verdere trustbates in die naam van die trust verkry om in die trust te hou, te beheer en te bestuur.
Met ‘n besigheidstrust gaan die trustees een stap verder. Die trustees moet namens en tot voordeel van die begunstigdes handeldryf vir wins.
Streng gesproke is ‘n trust nie ‘n afsonderlike regspersoon soos wat vennootskappe en maatskappye is nie, maar in die praktyk word trusts dikwels so behandel. Ingevolge wetgewing (veral belastingwetgewing) word dikwels ook uitdruklik bepaal dat trusts as afsonderlike regspersone beskou en hanteer moet word.
Vyf voordele van ‘n besigheidstrust ...
- Net soos maatskappye het trusts ook ewigdurende opvolging en dit oorleef dus die dood, onbevoegdheid, insolvensie en verwydering van trustees. ‘n Trust kan byvoorbeeld voortgaan om na die dood van die stigter of die trustees normaal te funksioneer, eerder as om verhandel te word, wat wel die geval sal wees by die afsterwe van ‘n alleeneienaar en die hantering van so ‘n oorledene se boedel. Trusts wat volgens voorskrif geskep en professioneel geadministreer word, kan ook beskerming bied teen die skuldeisers van die stigter, trustees en begunstigdes in die geval van insolvensie, egskeiding en dies meer.
- Enige handelsrisiko bly by die trust en kan dus net die trustbates raak. Die persoonlike bates van die partye tot die trust is geensins op risiko nie. Trustees kan wel borgskap teken vir trustskuld in hulle persoonlike hoedanigheid en dan ook dus persoonlik aanspreeklik wees vir trustskulde. Daarbenewens beloop trustees gewoonlik slegs persoonlike aanspreeklikheid op as hulle nie voldoen aan die bepalings van die trustakte of ander wetlike vereistes nie. Die trustees het baie sterk vertrouensverpligtinge teenoor die begunstigdes en moet hulle altyd in die begunstigdes se belange optree. Trustees moet ook die basiese vereistes nakom, dat trustbates as sulks behandel word en nie as hul persoonlike bates nie.
- Dit kan makliker wees om fondse en finansiering te bekom vir ‘n trust as wat dit vir ‘n eenmansaak of vennootskap sal wees.
- Belasting: Hier is ook moontlik ‘n voordeel, sien hieronder.
- Besparing tydens dood: In die verlede is trusts dikwels as deel van gesonde boedelbeplanning gebruik om groeiende bates se waarde te bevries en daardeur toekomstige boedelbelasting, kapitaalwinsbelasting en eksekuteursfooie te verminder. Hierdie besparings kan aansienlik wees, maar wees egter bewus van die hoë belastingkoerse wat op trusts van toepassing is (sien hieronder). Die Davis Belastingkomitee en andere het oor die jare baie aanbevelings en wysigings aan ons belasting- en boedelbelastingwetgewing voorgestel. Indien hierdie wysigings ooit geïmplementeer word, sal dit die gewildheid en geskiktheid van trusts drasties verminder.
... en drie nadele
- Stigting: Net soos met maatskappye het trusts formele prosedures vir die stigting van ‘n trust. ‘n Trustakte moet opgestel word en geregistreer word en die trustees moet formeel en skriftelik deur die Meester van die Hoë Hof aangestel word. Jy moet die gepaardgaande vertragings en koste in jou beplanning in ag neem. Hier kan jy nie bekostig om kort paaie te gebruik nie! ‘n Trustakte wat nie reg verwoord is nie, kan jou met oneindige komplikasies en onvoorsiene gevolge opsaal.
- Die administrasiekostes behoort oor die algemeen hoër te wees as wat dit sal wees met ‘n eenmansaak en dit behoort laer te wees as wat dit sal wees vir die lopende administrasiekostes van ‘n maatskappy. Verkry dus voor die tyd die regte advies en onderhandel oor sinvolle professionele dienste teen die regte prys.
- Belasting: Hier is moontlik ‘n nadeel, sien hieronder.
Belasting
Soos met die ander moontlike handelsentiteite is dit onmoontlik om algemene raad hier te gee. Oor die afgelope paar jare het die regering die gebruik van trusts probeer ontmoedig. Trusts word nou uitermatig hoog belas in vergelyking met individue, vennootskappe en maatskappy. Trusts verkry ook nie belastingvrystellings en kortings soos wat individue kry nie.
Daar is talle faktore wat hier oorweeg moet word. Verkry dus professionele advies wat op jou spesifieke omstandighede van toepassing is. Dit kan ‘n besigheidstrust byvoorbeeld beïnvloed wat eiendom besit of wil aankoop. Dink maar aan die bestaande vrystelling van R2 000 000 se kapitale wins waar ‘n individu se primêre woning verkoop is. Hierdie vrystelling is byvoorbeeld nie vir trusts beskikbaar waar dieselfde woning in ‘n trust gesetel is nie.
Daar is verder sterk aanduidings van die regering se kant dat hul negatiewe houding teenoor die vorming van trusts sal voortduur. Vanaf 2017 is rentevrye en laer rentelenings aan trust onderhewig aan die risiko om as skenkings belas te word. Dit blyk nou dat die geleibuisbeginsel ook op risiko is. Die beginsel bepaal dat inkomste in die hande van die begunstigdes belas kan word in plaas van in die hande van die trust wat teen ‘n vaste tarief van 45% geskied.
Dit is dus noodsaaklik om spesifieke raad in te win of ‘n besigheidstrust die mees belasting doeltreffende entiteit vir jou spesifieke situasie sal wees.
Die slotsom is dit: voordat jy begin handel dryf, neem professionele advies oor beide die regs- en belastingimplikasies van die gebruik van elke tipe entiteit of kombinasie daarvan.
Hierdie is die vyfde en finale artikel in ons reeks “Kies die regte entiteit vir jou besigheid“. Ons hoop dat u hierdie artikel van waarde vind as ‘n nuttige inleiding tot hierdie belangrike onderwerp.
Indien jy ook gewonder het hoekom jou besigheid so belangrik vir jou is, lees gerus “Entrepreneurs love their companies like parents love their children: study” op MedicalXpress.
Provided by Kramer Villion Norris - KVN
© DotNews. All Rights Reserved.