Jou Testament: Wat jy mag bepaal en wat nie.

 “Where there’s a will, I want to be in it” (Anoniem)


Jou testament (“Laaste Testament en Wilsbeskikking”) is een van die heel belangrikste dokumente wat jy ooit gaan onderteken. Sonder ‘n behoorlik verlyde testament, stel jy jou geliefdes bloot aan die risiko’s van finansiële sowel as emosionele swaarkry.  Jy verloor ook die geleentheid om die persoon te nomineer wat jou bestorwe boedel moet administreer. En die heel belangrikste - jy verbeur die reg om te besluit wie wat van jou gaan erf. 

Hoe wyd is jou reg om hierdie besluit te maak? Kan jy enigiets aan enigiemand bemaak? Word jou vryheid om te besluit op enige manier ingeperk? Moet jou eksekuteur blindelings aan jou laaste wense uitvoering gee?


Jou fundamentele reg tot “testeervryheid”…

Oor die eeue heen is “testeervryheid” deur ons gemenereg (ongeskrewe regsbeginsels) as ‘n basiese beginsel erken, wat slegs onderhewig was aan ‘n beperkte lys van spesifieke voorbehoude.

Ons howe het ook bevestig dat hierdie vryheid deur ons Grondwet ondersteun word. So sê die Hoogste Hof van Appèl: “Die reg op waardigheid verleen aan die lewende, sowel as die sterwende, gemoedsrus met die wete dat hul laaste wense na hul oorlye respekteer sal word.”


…en die beperkings daarop

Beperkings op testeervryheid het reeds so vroeg as die Romeinse tydperk bestaan. Hierdie beperkings is mettertyd uitgebrei om die volgende algemene beginsels in te sluit waarteen jou testament se geldigheid vandag getoets kan word –
  • Jou testament kan nie enigiets bevat wat onwettig, immoreel, “teen openbare beleid”, onmoontlik om uit te voer, of so vaag is dat dit nie uitgevoer kan word nie.

  • Wetlike verpligtinge vir onderhoud van afhanklikes en van jou “langslewende gade” (indien hy of sy daarvoor kwalifiseer) sal normaalweg bo ander erflatings  voorkeur geniet.

  • Hoe jy getroud was, behoort relevant te wees. Indien jy byvoorbeeld getroud was buite gemeenskap van goed met die insluiting van die aanwasbedeling, kan jou gade ‘n eis teen jou boedel hê vir die helfte van die gesamentlike verhoging in die waarde van julle onderskeie boedels gedurende die huwelik (spesifieke reëls is hier van toepassing).

  • Ons howe het ook ‘n verskeidenheid van ander statutêre magte, soos die mag om trustbepalings te wysig en om beperkings op onroerende eiendom te verwyder of te verander.

  • Voordele uit pensioen- en aftreefondse word nie noodwendig aan jou genomineerde begunstigde uitbetaal nie – die fonds se administrateurs moet eers bepaal of daar enige afhanklikes met moontlike eise daarop bestaan.

  • Grondwetlikheid: Jou erflatings mag ook teen ons Grondwet getoets word. In 2010 het ons Appèlhof ‘n diskriminerede klousule uit ‘n opvoedkundige fonds se erflating verwyder. Hierdie erflating was slegs beskikbaar aan “Europese meisies gebore uit Britse Suid-Afrikaanse of Nederlandse Suid-Afrikaanse ouers”. Die Hof het as volg aangevoer: “In die openbare sfeer kan daar nie enige twyfel daaroor bestaan dat rassediskriminerende testamentêre bepalings nie die grondwetlike toets sal slaag nie” (eie beklemtoning). Eweweens het die Hooggeregshof in 2006 sekere bepalings in ‘n testament geskrap wat bepaal het dat ‘n beursfonds slegs tot blanke, nie-Joodse mans beperk was. 

    Aan die ander kant het ons 'n 2018 Appèlhof uitspraak. Hier het die Hof ‘n privaat-trust se bepalings gehandhaaf, alhoewel die bepalings slegs die oorledene se biologiese afstammelinge, tot die uitsluiting van twee aangenome kinders, bevoordeel het. Volgens die hof, “is daar goeie redes waarom openbare trusts strenger as private trusts beoordeel word". Die hof sê verder dat die openbare aard van die nalatings in die vroeëre uitsprake “’n bepalende faktor in die opwegingproses in daardie spesifieke gevalle was.” Let ook daarop dat die spesifieke feite in die betrokke saak ook ‘n rol gespeel het in die Hof se beslissing. Aangenome kinders en kleinkinders mag dalk onder ander omstandighede wel suksesvol wees.

  • Dit is duidelik dat daar altyd ‘n opweging van belange ter sprake gaan wees, want soos ons hierbo gesien het, word testeervryheid opsigself as ‘n grondwetlike reg beskou.

Van kritieke belang: ‘n Goed opgestelde en geldige testament 
 

Die heel laaste ding wat jou treurende geliefdes na jou afsterwe wil beleef is ‘n lang en onplesierige hofgeding oor die geldigheid van jou testament; of om onduidelike of onsekere aspekte daarvan te probeer opklaar.

Hou in gedagte dat die lys hierbo slegs ‘n kort opsomming van die toepaslike regsbeginsels is – daar is nog ‘n lang lys van “wat as dit gebeur?” en “maar wat van dit?”. Daar is dus ander grys areas (soos die opweging van belange waarna hierbo verwys word, waar grondwetlikheid ter sprake is), en oorwegings wat buite die omvang van hierdie artikel val.

Daar is geen plaasverganger vir die verkryging van regsadvies oor jou spesifieke omstandighede nie. Laat jou prokureur vir jou ‘n testament opstel (of dit vir jou nagaan indien jy reeds ‘n testament het). Dit moet behoorlik opgestel wees, dit moet jou wense korrek en duidelik uiteensit en dit moet behoorlik verly wees – en dit moet die toetse soos hierbo uitgeensit kan slaag!
Disclaimer
© LawDotNews. This newsletter is a general information sheet and should not be used or relied on as professional advice. No liability can be accepted for any errors or omissions nor for any loss or damage arising from reliance upon any information herein. Always contact a professional for specific and detailed advice.