Trusts In Die Spervuur
Dit is ‘n tafereel wat hom al te dikwels afspeel. Wanneer jy probeer om geld wat aan jou verskuldig is, in te vorder, blyk dit dat die persoon se bates in trust gehou word. Dit is daardie luukse woning, vakansiehuis, of selfs ‘n seiljag wat in ‘n familietrust of in ‘n besigheidstrust gehou word.
Skuldeisers: Volg die bates
- Soos altyd, is dit raadsaam om behoorlik ondersoek te doen na die finansiële posisie van ‘n persoon, voordat krediet verleen word. Indien dit dan blyk dat die meeste van sy bates in trust gehou word, moet jy daarop aandring dat die trustees van die trust, die trust as ‘n borg verbind. Netso met enige ander gekoppelde entiteit waarin jou debiteur ‘n belang het en waarin bates gehou word.
- Jy moet veral bedag wees op die samestelling van leningsrekeninge en moontlike onregmatige handelinge met of vervreemding van bates, hetsy van die individu of van die trust. So ‘n vervreemding kan dikwels in terme van insolvensiewetgewing ter syde gestel word. Selfs waar die bates van ‘n persoon na ‘n trust op ‘n regmatige wyse oorgedra is, beteken dit nie dat daar niks meer in sy persoonlike naam gehou word nie. Onthou dat die trust dan waarskynlik die bedrag gelyk aan die batewaarde aan die individu verskuldig sal wees, of die leningsrekening nou rekenkundig korrek bygehou is of nie. ‘n Bate kan nie net goedsmoeds tussen ‘n persoon en ‘n trust of ander entiteit rondgeskuif word nie – daar moet altyd ‘n onderliggende transaksie wees – waarskynlik ‘n verkoop op leningsrekening. Die bedrag wat dan op leningsrekening verskuldig is, is ‘n bate van die persoon en kan van die trust verhaal word, tot voordeel van die individu en sy skuldeisers.
- Jy sou ook in ‘n beperkte mate direk na die trust kon kyk. ‘n Onlangse uitspraak van die Hoë Hof hanteer twee gevalle waar dit gedoen kan word.
Die Insolvent en die eiendomme
Die trustees van ‘n insolvente boedel het die Hoë Hof genader vir ‘n bevel om te verklaar dat sekere bates as bates in hierdie boedel hanteer kon word. Die bates hier ter sprake was regtens die geregistreerde eiendom van ‘n familietrust en van ‘n maatskappy.
Die hof het op die feite nie die bevel toegestaan nie. Die hof oorweeg die regsposisie en pas dan die reg in ‘n rigtinggewende uitspraak toe. Dit bied aan skuldeisers ‘n praktiese uiteensetting van hoe ‘n trust aangeval kan word en dit gee ook leiding aan trustees van ‘n trust oor hoe trustbates beskerm kan word.
Die Hof tref ‘n duidelike onderskeid tussen twee moontlike aanvalstaktieke -
- Eerstens sou ‘n mens kon aanvoer dat die trust ‘n skyntrust is. Dit is dus ‘n feitelike ondersoek om vas te stel of daar in werklikheid ‘n trust opgerig is en of die voorgeskrewe vereistes aan voldoen is. Indien daar slegs ‘n voorstelling van die oprigting van ‘n trust gemaak word, is daar geen trust wat bestaan nie, slegs die skyn van ‘n trust.
- Indien dit vasgestel word dat die trust wel bestaan, het ons nie met ‘n skyntrust te make nie. Jy sou wel in sekere omstandighede die hof kon versoek om buite om die trustvorm na die trustbates te kyk of om die dop van die trust te ignoreer. Indien jy hiermee suksesvol is, sou die hof kon beveel dat die normale gevolge van die bestaan van ‘n trust nie van toepassing sou wees nie. Die hof sou dan so ver kon gaan om te beveel dat bates van die trust in werklikheid as bates van die individu en gevolglik sy boedel hanteer kan word. Die hof sal dit slegs doen waar dit blyk dat die trustvorm op oneerlike of onaanvaarbare wyse aangewend is om van ‘n verpligting of ‘n las te ontsnap. Dit sal die geval wees waar ‘n trustee (of trustees) trustbates aanwend asof dit bates in sy persoonlike boedel is, die sogenaamde alter ego trust. Die hof wys daarop dat dit dikwels die geval is in familietrusts en besigheidstrusts waar die trustees (meermale maar die een trustee) ten volle oor die bates mag beskik, waar hulle ook die aangewese begunstigdes van die trust en die trustbates is.
Trustees: Beskerming van die trust
Trusts het ongetwyfeld ‘n plek in ons daaglikse handelsverkeer. Dit word met vrug gebruik om uitvoering te gee aan sinvolle boedelbeplanning en ook om bates teen sakerisiko’s te beskerm. Dit veronderstel egter dat die trust vanuit die staanspoor reg gestruktureer en geadministreer word.
Gee dus voldoende aandag aan die struktuur van ‘n trust. Neem advies oor die inhoud van die trustakte, dink oor die trustees en die onafhanklike trustee wat aangestel moet word en besluit oor die magte wat trustees benodig ten einde die trustsake te hanteer. Maak seker dat die trust nie op oneerlike wyse gebruik word nie en ook dat daar geen sprake van ‘n alter ego trust of selfs ‘n skyntrust kan wees nie. Dit is veral belangrik dat trustees die kernverskil tussen die “beheer” oor trustbates teenoor die “aanwending” van trustbates verstaan en eerbiedig.
Provided by Kramer Villion Norris - KVN
© DotNews. All Rights Reserved.