Ontwikkelaars: Registrasie By Nhbrc Is Verpligtend
Indien die ontwikkelaar nie geregistreer is nie, of selfs waar registrasie laat gedoen word, sal die ontwikkelaar nie betaling kan afdwing nie. Inteendeel, die ontvangs van betaling onder hierdie omstandighede is ‘n oortreding van die wet.
Dit maak ook nie saak dat die boukontrakteur wat jy gebruik wel geregistreer is nie. Die wet vereis dat beide die ontwikkelaar en die boukontrakteur by die raad geregistreer moet wees.
Hierdie kernpunte is in ‘n onlangse uitspraak van die Grondwetlike Hof bevestig.
Let op na die voorskrifte!
Hierdie ontwikkelaar het eers by die raad geregistreer nadat die kontrak gesluit was en nadat die bouwerk reeds ‘n aanvang geneem het. Die ontwikkelaar het vir die eerste keer geregistreer, nadat dit ‘n gunstige arbitrasiebeslissing verkry het en hierna die Hoë Hof genader het om die gunstige beslissing as ‘n bevel van die hof te laat bekragtig. Die Grondwetlike Hof beslis egter onomwonde dat die feit dat dit nie uit die staanspoor by die raad geregistreer was nie, veroorsaak het dat die ontwikkelaar nie geregtig was om enige vergoeding te ontvang vir die oprigting van die woning nie. Al was die boukontrakteur behoorlik geregistreer en al was die woning wel aangemeld, kon die ontwikkelaar steeds nie betaling afdwing nie.
Die ontwikkelaar is gevolglik alles kwyt: -
- Die ooreengekome prys vir die oprigting van die woning in die bedrag van R1 228 522; plus
- Die beduidende rentebedrag hierop wat sedert 2007 al opgeloop het; plus
- Regskostes en ander uitgawes. Hou in gedagte dat die saak eers by wyse van arbitrasie aangehoor is. Hierna is dit in die Hoë Hof aangehoor, vandaar na die Hoogste Hof van Appèl en uiteindelik het die saak tot in die Grondwetlike Hof gevorder.
Jy moet seker maak dat beide die ontwikkelaar sowel as die boukontrakteur geregistreer is en verder dat jou woning wel by die NHBRC aangemeld is. Dit is die enigste manier waarop jy statutêre beskerming verkry. Dit gaan oor die poel van boukontrakteurs en ontwikkelaars wat geregistreer is, waarborge oor die gehalte van die bouwerk en toegang tot ‘n vergoedingsfonds vir gebrekkige werk waar die ontwikkelaar of bouer nie sy pligte teenoor die eienaar nakom nie.
Provided by Kramer Villion Norris - KVN
© DotNews. All Rights Reserved.