Fluitjieblaser En Facebook
Die ander kant van die munt is dat daar wel gevalle gaan wees waar afdanking geregverdig is -
- Hier het ‘n elektrisiën oor verskeie gesondheidsrisiko’s by die hospitaalbestuur gekla. Sy grootste klagte was oor vuil lug wat vanuit onversorgde toilette ontsnap het en wat dan onbelemmerd deur die lugversorgingstelsel sirkuleer.
- Die hospitaal het hierop geantwoord en was van mening dat geen gesondheidsrisiko daardeur veroorsaak is nie;
- Die werknemer het voortgegaan om kommentaar, foto’s, afskrifte van interne hospitaalkorrespondensie en klagtes op sy Facebook blad te publiseer, waaronder die inskrywing: “…..filthy toilets are causing foul air to enter the air conditioning system and be pumped into the hospital wards”;
- Sy werkgewer het hom meegedeel dat hulle sy klagtes ondersoek het; en dat in soverre die klagtes geldig was, hulle die probleem aangespreek het.
- Hy is ook aangesê om enige verdere klagtes na die Hospitaal se Beroepsgesondheids- en Veiligheidsliggaam te verwys.
- Hy het nie hierop of op verdere skriftelike instruksies ag geslaan nie, waaronder ‘n finale instruksie om sy publikasie op Facebook te staak.
- Hierna het ‘n dissiplinêre verhoor teen hom gevolg, waarna hy op gronde van growwe insubordinasie ontslaan is.
- Na ‘n proses van appèl en konsiliasie, het hy die Arbeidshof versoek om ‘n bevel te maak dat sy bekendmaking deur die Wet op Beskermde Bekendmakings, beskerm sou word.
Die hof aanvaar dat die werknemer die inligting in goeder trou bekend gemaak het, terwyl hy verkeerdelik in die noodsaaklikheid en regverdigheid van die bekendmaking geglo het. Die Arbeidshof bevind egter dat hierdie bekendmakings nie beskerm is nie; die ontslag was gevolglik billik.
Afgesien van die vereiste van goeder trou, is daar ook ‘n vereiste dat die werknemer se optrede deurentyd redelik moet wees. Sy oortuiging dat die vuil toilette ‘n gesondheidsrisiko daarstel, wat deur die lugversorgingstelsel versprei is, was onder die omstandighede nie redelik nie. Hy het die inligting nie op ‘n verantwoordelike manier versprei nie; ook nie in nakoming van die vereistes en voorskrifte van die wet nie. Die inskrywings op Facebook kan ook nie as bekendmakings beskryf word nie, aangesien die probleme waaroor gekla is al lank reeds bekend was.
Finale woord oor die Facebook faktor
Die Hof bevind dat die publisering van die kommentaar op Facebook onbillik en onredelik was. Die gebruiklike joernalistieke praktyke is nie van toepassing met Facebook nie. Daar was geen vooruitsig dat ‘n moderator die hospitaal sou kontak om hulle kommentaar op die inskrywing te verkry nie, sodat die publiek ten minste met ‘n gebalanseerde perspektief sou eindig.
Hierdie geval moet as ‘n waarskuwing aan enige werknemer dien wat sy klagtes of probleme met sy werkgewer op ‘n openbare platform soos Facebook aanlyn wil publiseer.
Die vereistes vir ‘n regmatige bekendmaking is ingewikkeld; verkry eerder advies indien daar enige twyfel by jou bestaan!
Provided by Kramer Villion Norris - KVN
© DotNews. All Rights Reserved.