Skadevergoeding Vir Owerspel – Uitgesterf?
‘n Gelukkige huwelik wat al jare bestaan. ‘n Derde party wat op die toneel verskyn. ‘n Verhouding wat tussen die derde party en jou huweliksmaat ontstaan. ‘n Huwelik wat nie meer bestaan nie. Kan die onskuldige huweliksmaat skadevergoeding van die derde party eis, vir die verbrokkeling van die huwelik?
Ons regstelsel het vir eeue lank so ‘n eis vir skadevergoeding voortspruitend uit ‘n owerspelige verhouding erken. Die gronde was gewoonlik -
- Belediging of skending van eiewaarde (“Contumelia” in regstaal), en/of
- Verlies aan huweliksamesyn (“Consortium”)
Tyd vir afskaffing
‘n Man het in die Hoë Hof geslaag met ‘n eis vir skadevergoeding van R75,000 teen die man met wie sy vrou ‘n intieme verhouding aangeknoop het. Dit het aanleiding gegee tot die huwelikspartye se egskeiding. Die Hoogste Hof van Appèl neem hierdie eisoorsaak in geheel onder die loep. Die Appèlhof beslis dan dat hierdie eisoorsaak verouderd is. ‘n Deliktuele eis teen die derde party gebaseer op owerspel met die eiser se huweliksmaat word as verouderd bevind. Sodanige eisoorsaak is nie meer in pas met ‘n moderne samelewing nie en die tyd het aangebreek om hiervan afstand te doen, aldus die Appèlhof.
Is dit dan die einde van die storie?
Dit blyk uit mediaberigte dat alle eise voortspruitend uit owerspel nou van die baan af is. Die Appèlhof se uitspraak was egter nie so wydlopend nie.
Die Hof het ander tradisionele huweliksverwante eise oopgelos. Eise vir die “ontvoering, uitlokking en versteking van ‘n gade” is nie hanteer nie. Eise vir geldelike skade as gevolg van die verlies van samesyn van ‘n huweliksmaat, die verlies van oorsig oor ‘n huishouding en versorging van kinders, is ook nie in hierdie uitspraak hanteer nie. ‘n Derde party wat met vuur speel, loop dus die risiko dat hierdie eisoorsake wel teen hom gebruik kan word, totdat die hof dan uitdruklik hieroor ook uitspraak gaan lewer.
Provided by Kramer Villion Norris - KVN
© DotNews. All Rights Reserved.