Skuldeiser: Kan jy Likwidasie gebruik om skulde in te vorder?
“Creditors have better memories than debtors” (Benjamin Franklin)
As jy spartel om betaling van ‘n glibberige maatskappy te kry wat vir jou geld skuld, kan ‘n aansoek vir likwidasie dalk net die gewenste resultaat lewer. Die direkteure word skielik gekonfronteer met die risiko om beheer te verloor oor die maatskappy, die besigheid en die gepaardgaande bates. Indien die direkteure goedsmoeds besig is om ‘n verskuldigde betaling aan jou te vermy, kan ‘n aansoek om likwidasie hul skielik dwing om aanvaarbare reëlings vir die betaling of afbetaling van hul skulde met jou te tref.
Wees daarom gewaarsku – jy kan dit slegs doen as die skuld self vasstaan en nie betwis word nie. Die Hoogste Hof van Appèl het onlangs hieroor beslis.
Die betwiste eis van R9 miljoen
- Maatskappy A verskaf finansiering in die landbou sektor. Maatskappy A maak drie verskillende lenings aan Maatskappy B, met ‘n totale bedrag van R9,2 miljoen wat verskuldig is.
- B het nie die bedrae terugbetaal nie en A het terstond by die Hoë Hof aansoek gedoen om B in likwidasie te plaas.
- B het die aansoek om likwidasie teengestaan en wel op die volgende gronde –
-
Maatskappy A se verteenwoordiger het goed geweet dat Maatskappy B se verteenwoordiger (ons noem hom C), nie die nodige magtiging van Maatskappy B gehad het om enige van die gewraakte leningsooreenkomste aan te gaan nie.
-
Die lenings is uitsluitlik gemaak om C se persoonlike boerderybedrywighede te bevoordeel; Maatskappy B het geen voordele ontvang nie.
- Die leningsooreenkomste was “gesimuleerde transaksies” en gevolglik nietig en onafdwingbaar (Maatskappy B het ‘n vroeëre bewering van bedrieglike samespanning tussen die maatskappy se verteenwoordigers laat vaar).
Die aansoek word teengestaan – wat moet die skuldenaar aantoon?
Die Appèlhof bevestig dat ‘n skuldenaar wat ‘n aansoek om likwidasie teenstaan, nie sy verweer teen die eis volledig hoef te bewys nie. Dit is slegs vir die skuldenaar nodig om die skuld in dispuut te plaas op gronde wat –
-
Redelik is, en
- Wat in goeder trou aangevoer word.
Die hof sal beslis, op sterkte van die verweer wat geopper is en die ondersteunende dokumentasie wat by die hof ingedien is, of die skuldenaar voldoende feite openbaar het, om, indien dit by ‘n opvolgende verhoor bewys kan word, ‘n aanvaarbare verweer daar te stel. Indien die verweer nie onredelik bevind word nie en indien goeie trou nie uitgesluit kan word nie, sal ‘n aansoek vir likwidasie waarskynlik van die hand gewys word.
‘n Duidelike les vir skuldeisers
Die hof wys in die uitspraak daarop dat ‘n aansoek vir likwidasie ‘n drastiese stap is. Waar die skuldenaar die afdwingbaarheid van die skuld in goeder trou en op redelike gronde in dispuut plaas, is ‘n aansoek om likwidasie nie die aangewese proses vir ‘n skuldeiser om te volg nie.
‘n Aansoek om likwidasie kan ‘n effektiewe manier wees om onbetwiste skulde in te vorder. As die skuld egter in dispuut is, bly weg van likwidasie. Dit kan ‘n vermorsing van tyd en geld wees. Die skuldenaar stel homself onnodig bloot aan sanksies van die regbank, insluitende bestraffende kostebevele indien die optrede as ‘n vergryp van die regsproses verklaar word.
Provided by Kramer Villion Norris - KVN
© DotNews. All Rights Reserved.