Fluitjieblasers In Die Werkplek
“The fostering of a culture of disclosure is a constitutional imperative as it is at the heart of the fundamental principles aimed at the achievement of a just society based on democratic values” (Uittreksel uit die Arbeidsappèlhofuitspraak wat hierna bespreek word).
Die Wet op die Beskerming van Bekendmaking van Inligting staan ook bekend as die Fluitjieblaserswet. Die wet moedig werknemers (in die openbare- sowel as die privaatsektor) aan om enige onregmatige of onwettige optrede van hul werkgewer of ander werknemers aan te meld, sonder vrees vir enige strafoptrede van hul werkgewers se kant af.
Wat voorsien die wet?
Die wet maak voorsiening vir ‘n algemene beskermde openbaarmaking en stel die volgende as vereistes: -
- Dit moet in goeder trou aangemeld word.
- Die werknemer moet redelikerwys glo dat die inligting wat openbaar gemaak word en die aantygings wat gemaak word, die waarheid is.
- Die werknemer mag die inligting nie vir persoonlike gewin aanmeld nie; maar is wel geregtig om ‘n beloning wat ingevolge wetgewing gemaak word, te ontvang.
- Die bekendmaking moet onder die omstandighede redelik wees.
‘n Myningenieur wat die fluitjie geblaas het
Die volgende geval kom uit ‘n onlangse uitspraak in ‘n saak wat voor die Arbeidsappèlhof gedien het: –
- ‘n Ingenieur is deur ‘n myn as “projeksuperintendent” aangestel. Hy was ook verantwoordelik daarvoor om veiligheids- en gesondheidstandaarde te handhaaf.
- Die ingenieur was vir ‘n tyd met siekteverlof afwesig. Hy het kennis gekry om weer vir diens aan te meld. Toe hy nie opdaag nie, is hy dissiplinêr verhoor en daaraan skuldig bevind dat hy afwesig was sonder verlof van sy werkgewer.
- Hy het aan die media aangedui dat die myn nie voldoende voorsiening gemaak het om waterbesoedeling, wat direk deur die myn se aktiwiteite veroorsaak is, aan te spreek nie.
- Die hof bevind dat die ingenieur se openbaarmaking deur beide die Wet op die Beskerming van Bekendmaking van Inligting en ook deur die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur beskerm word. Die hof maak dan ‘n bevel dat die ingenieur weer aangestel moet word met volle vergoeding vir die tydperk wat hy buite diens was.
Die omgewing op risiko?
Die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur het ooglopend ten doel om die omgewing te beskerm.
- Dit voorsien dat bestuurders, agente en werknemers aanspreeklik gehou kan word vir enige omgewingsvergrype en skade wat deur hul werkgewers veroorsaak is.
- Die wet beskerm enige fluitjieblaser (nie net werknemers nie) wat inligting in goeder trou, in die openbare belang en ter beskerming van die omgewing bekend maak. Hier is wel voorgeskrewe vereistes en prosedures ter sprake, so neem advies indien dit op jou of jou organisasie van toepassing mag wees.
Die ander kant van die munt: Met Facebook as medium
Volgende maand kyk ons na ‘n geval waar bevind is dat die afdanking wel geregverdig was. Hier het die werknemer hom tot Facebook gewend om gesondheidsrisiko’s in ‘n hospitaal uit te wys en te publiseer. Die hof het hier bevind dat hy onredelik en buite om die beskerming van die wetgewing opgetree het.
Provided by Kramer Villion Norris - KVN
© DotNews. All Rights Reserved.