Huis – Oordrag Teenoor Bedoeling
“Ondervinding is die beste leermeester.”
‘n Mens kan ongelukkig nie aanvaar dat jy ‘n aanspraak op ‘n eiendom het, bloot omdat die eienaar reeds aangedui het dat hy die eiendom aan jou gaan oordra nie. Selfs nie waar ‘n koopooreenkoms daarna deur beide partye geteken is nie. Jy moet seker maak dat jy daarna wel oordrag van die eiendom neem en dat die eiendom in die Aktekantoor in jou naam geregistreer word.
Dit is die dure les wat ‘n moeder en haar kinders onlangs geleer het. Uitsetting uit “hulle” huis was hul voorland.
Die verhouding wat verbrokkel het
Meneer A was blykbaar van voorneme om met Me B in die huwelik te tree. Sy het saam met haar kinders in ‘n huis gewoon wat deur Meneer A se maatskappy besit is.
-
Meneer A sou die huis aan Me B skenk; gevolglik het hy ‘n koopooreenkoms geteken waarin sy maatskappy die huis verkoop het aan Me B se Maatskappy C (die eerste koopooreenkoms). Me B was dan ook die enigste aandeelhouer en direkteur van hierdie maatskappy C.
-
Die oordrag na Maatskappy C is nooit deurgevoer nie.
-
Dinge tussen Meneer A en Me B het ook nie uitgewerk nie; hul paadjies het geskei en Meneer A het met iemand anders in die huwelik getree.
-
Meneer A het ‘n tweede koopooreenkoms gesluit, ingevolge waarvan sy maatskappy A die huis aan hom persoonlik verkoop het. Hierna is die huis inderdaad ook aan A oorgedra.
-
Meneer A het tot sterwe gekom en hy het die huis in sy testament aan sy nuwe vrou nagelaat.
- Me B het nog steeds saam met haar kinders in die huis gewoon. Die eksekuteur van A se boedel het haar egter in kennis gestel om die huis te verlaat, waarna sy die Hoë Hof genader het vir ‘n bevel waarin sy gevra het dat die eiendom ingevolge die eerste koopooreenkoms aan haar maatskappy C oorgedra moes word.
Die harde les
Die Hof bevind en bevestig dat eienaarskap in eiendom eers oorgaan by registrasie daarvan in die Aktekantoor. Die hof bevind teen die aanspraak van me B en haar maatskappy C. Beide partye moes die bedoeling gehad het om die eiendom oor te dra en te ontvang. Die hof bevind op die feite dat Meneer A duidelik die bedoeling gehad het dat die eiendom vanuit sy maatskappy na sy persoonlike naam oorgedra moes word; dit is tog ook wat inderdaad in uitvoering van die tweede koopooreenkoms gebeur het.
Me B het die hof ook nie oortuig dat die eerste koopooreenkoms nog bestaan het of afdwingbaar was nie. In geval van ‘n dubbele verkoping, kan die tweede transaksie ter syde gestel word; indien dit aangetoon kan word dat die tweede koper, voor ondertekening, kennis gehad het van die bestaan van die eerste transaksie.
Wat moes sy anders gedoen het?
Met die ondertekening van die eerste koopooreenkoms, moes Me B aangedring het en toegesien het dat die eiendom sonder versuim in haar maatskappy C se naam oorgedra en geregistreer word. Sy was klaarblyklik onder die indruk dat die getekende ooreenkoms voldoende was om haar posisie te beskerm; dit terwyl werklike registrasie in die Aktekantoor nodig is om hierdie beskerming te verleen.
Provided by Kramer Villion Norris - KVN
© DotNews. All Rights Reserved.