Ontwikkelaars: Nuwe Gesondheids – En Veiligheidsregulasies Vir Die Konstruksiebedryf
Mense in die konstruksiebedryf moet kennis neem van die Departement van Arbeid se 2014 Regulasies vir Konstruksie wat ingevolge die bepalings van die Wet op Beroepsgesondheid en Veiligheid afgekondig is. Ontwikkelaars, kliënte, eienaars, ontwerpers, argitekte, ingenieurs en ander kontrakteurs moet hulle van die bepalings van hierdie regulasies vergewis. Alle nuwe konstruksieprojekte wat na 7 Februarie 2014 ‘n aanvang geneem het, is onderhewig aan hierdie nuwe regulasies. (Projekte wat voor 7 Februarie 2014 ‘n aanvang geneem het, sal vanaf 7 Augustus 2015 ook aan die regulasies moet voldoen.) Die regulasies vereis dat gesondheids- en veiligheidsplanne opgestel moet word, dat risikobepalings gedoen moet word, dat daar aan gesondheids- en veiligheidstandaarde voldoen moet word en ook dat gesondheids- en veiligheidsopleiding verskaf moet word.
Permitte vir Konstruksiewerk en agente
Konstruksieprojekte wat van 7 Augustus 2015 ‘n aanvang gaan neem, sal ook onderhewig wees aan verdere vereistes wat vanaf daardie datum op groot konstruksieprojekte van toepassing gaan wees:-
-
Die eienaars sal ‘n permit vir die projek en die beoogde konstruksiewerk moet verkry, voordat hulle enigsins met konstruksie mag begin.
- Hulle sal ‘n agent moet aanstel wat as ‘n professionele Gesondheids- en Veiligheidsagent geregistreer moet wees.
Indien daar nie aan die voorskrifte voldoen word nie, kan bevele uitgereik word om die konstruksie eers tot stilstand te bring. Boetes en strafregtelike vervolging kan ook volg. Die aangestelde agent sal tyd nodig hê om die nodige aansoeke voor te berei. Hierdie aansoeke moet reeds 30 dae voor die beplande aanvang van werke ingedien word, wat beteken dat behoorlike beplanning en skedulering nou ‘n vereiste raak. Dit kan beslis nie meer tot die laaste dae voor die aanvang van die projek gelos word nie.
Provided by Kramer Villion Norris - KVN
© DotNews. All Rights Reserved.