Eiendom Met Veeldoelige Gebruik : Wat Is Die Toepaslike Belastings Wat Gehef Moet Word?
Plaaslike owerhede is by magte om eiendomme te waardeer en belastingheffings vas te stel na gelang van die spesifieke eiendomsgebruik. Eiendomme in residensiële gebruik word gevolglik op ‘n laer tarief belas as eiendomme wat vir kommersiële, sake of industriële gebruik aangewend word.
Wat gebeur dan met eiendomme met veeldoelige gebruik?
‘n Onlangse beslissing van die Appèlhof maak die posisie hier duidelik. Hier was ‘n gebou van tien verdiepings ter sprake. Die grondvloer is vir winkels en kommersiële doeleindes aangewend, terwyl die ander nege vloere gewone residensiële eenhede was. Die munisipaliteit se belastingbeleid het voorsien dat daar volgens toegelate gebruik gehef sal word. Die munisipaliteit het die gehele gebou teen die kommersiële tarief belas, sonder dat daar ‘n aanpassing gemaak is vir die feit dat die grootste gedeelte van die gebou as residensieel in gebruik is.
Die hof bevind dat die Waardasie Appèlraad reg was om proporsionele aanpassings van die waardasie te gelas. Die hof bevind dat: –
-
Indien ‘n eiendom verskillende aanwendings het en aanvaar word as een met veeldoelige toegelate gebruik, moet die munisipale waardeerder eerstens die verskillende toegelate gebruike kategoriseer. Die waardeerder moet die waardasie dan tussen die verskillende gebruike toedeel.
- Die munisipaliteit moet die tariewe dan proporsioneel vir die verskillende eenhede en hul verskillende toegelate gebruiksaanwending hef, ten einde die gepaste heffings te bepaal.
Provided by Kramer Villion Norris - KVN
© DotNews. All Rights Reserved.