Witboordjiemisdaad by die Werk – Rapporteer Dit!
Indien jy die slagoffer van misdaad by die werk is, moet jy nie in die strik val om sodanige misdaad slegs intern te hanteer nie. Ons howe het weereens bevestig dat hul daadwerklik sal optree om witboordjiemisdaad te straf. Selfs al is daar aansienlike versagtende faktore ter sprake, sal die howe steeds streng wees. ‘n Onlangse uitspraak van die Hoogste Hof van Appèl illustreer die punt.
‘n Moeder wat gesteel het, moet haar tyd uitdien
- ‘n Regsassistent het oor ‘n tydperk van 5 maande om en by R1 409 000 by die prokureursfirma by wie sy gewerk het, gesteel. Die fondse is uit die firma se trustrekening gesteel. Sy is aan verskeie aanklagte van bedrog en een van geldwassery skuldig bevind.
- Dit was haar eerste oortreding. Sy was ook die primêre versorger van twee jong kinders en ‘n ADHD lyer. Sy het al die geld wat sy persoonlik aangewend het, terugbetaal - die ander gesteelde geld het na haar man en na haar pa gegaan wat dit op luukshede verkwis het. Sy het berou getoon. Omdat sy ‘n dwelmverslaafde was, het sy behandeling vir verslawing ondergaan, haarself gerehabiliteer en hierna weer ‘n stabiele werk bekom.
- Ten spyte van hierdie versagtende faktore, het die Streekshof haar tot 8 jaar direkte tronkstraf gevonnis, waarvan 3 jaar voorwaardelik opgeskort was. Op appèl na die Hoë Hof is sodanige vonnis bevestig.
- Op ‘n verdere appèl na die Hoogste Hof van Appèl, het die hof die vonnis tot 3 jaar tronkstraf verminder. Die hof was nie tevrede dat die belange van die kinders voldoende in ag geneem is nie. Die hof bevestig dat die oortredings so ernstig van aard was, dat dit wel ‘n doeltreffende toesighoudende vonnis vereis het. Daar is wel voorsien dat die oortreder die opsie gehad het om vrylating onder korrektiewe toesig, maar slegs in die diskresie van die gevangenis owerhede of paroolraad. Op daardie stadium het sy reeds sewe weke van haar vonnis uitgedien terwyl sy op die appèl gewag het.
Om op te som – wanneer ouers van jong kinders vonnis opgelê word, sal ons howe verseker dat die vorm van straf wat opgelê word, die een is wat die minste skade aan die kinders se belange sal berokken. Dit beteken egter nie dat bedrieërs die oranje oorpak kan vermy net omdat hulle nog minderjarige kinders in die huis het nie.
Meld die misdaad van werknemers aan – ons howe is aan jou kant!
Provided by Wessels + van Zyl Inc
© DotNews. All Rights Reserved.